Sondag-souskluitjies

Ons het gereeld souskluitjies, gemaak volgens my Ouma Carmen se resep, as Sondagmiddag-poeding gekry. Dit was ‘n veerligte sponskluitjie, eerder ‘n tipe melkpap as kluitjie, wat versigtig met twee poedinglepels in klein hopies in ‘n soet kaneelstropie geskep is.

My skoonmense het vir jare lank ook klipgooi van ons gewoon – een groot lekkerte vir my kinders, want dit was hul tweede huis. En so het dit toe ook gekom dat my skoonma later van jare, toe sy in die aftreeoord was, elke Sondag by ons kom eet het. En sy het gesorg vir die poeding – soms die eenvoudige lekkerte soos jellie en vla, ander kere ‘n wonderlike gebakte skepping. Maar dis veral haar souskluitjies en fluweelpoeding waaraan ons weggelê het. Hier kombineer ek die twee resepte, maak maak die sous met Carmién se natuurlike rooibostee , maar glad nie so soet soos my ouma se oorspronklike skepping nie. Op die foto gedenk ek hierdie lekkerte – die groen bak is waarin my skoonma altyd haar poeding vir ons gebring het en die poedingbakkies het ek nog van my ouma Carmen geërf. Die groen tafeltjie, met sy formaica-blad, ko mook nog uit my skoonma se huis en het vir jare diens gedoen in hul karavaan.

SOUSKLUITJIES

GENOEG VIR 4 MENSE
BEREIDING: 15 MINUTE
GAARMAAK: 20 MINUTE

SOUS
500 ml (2 k) rooibostee, gemaak met 3 Carmién Natural-sakkies
80 ml (⅓ k) suiker
5 ml (1 t) fyn kaneel
5 ml (1 t) botter
KLUITJIES
45 ml (3 e) koekmeel
30 ml (2 e) mielieblom
15 ml (1 e) vlapoeier
1,25 ml (¼ t) sout
500 ml (2 k) melk
2 eiers, by kamertemperatuur, geskei
5 ml (1 t) vanieljegeursel

1 SOUS Plaas al die bestanddele in ‘n kastrol en laat goed kook. Giet daarna in ‘n opdienskottel.
2 KLUITJIES Meng die koekmeel, mielieblom, vlapoeier en sout met ’n bietjie van die melk om ’n slap pasta te vorm.
3 Kook die res van die melk en roer die pasta stadig daarby in.
4 Kook die mengsel 2 minute en roer aanhoudend tot dit verdik het. Pas op dat dit nie aanbrand nie.
5 Klits die eiergele en roer dit geleidelik by die kokende mengsel in. Voeg die vanieljegeursel by.
6 Haal van die stoof af. Klits die eierwitte styf en vou in.
7 Skep lepels vol van die mengsel in die sous in die opdienskottel. Sit die sponskluitjies warm voor.

FLUWEELPOEDING

Met die basiese souskluitjie-resep tower mens net so maklik fluweelpoeding op.

(1) Berei die basiese souskluitjies soos beskryf, maar verdubbel die resep. Vou net helfte van die styfgeklitste eierwitte in. Skep die vlapap in ‘n bak en bak 15 minute tot stewig by 180°C. Smeer ‘n lagie (sowat 10—15 ml) verminderde suiker-konfyt bo-oor (andersins kan jy net bietjie suiker by die melkpap inroer).
(2) Maak ‘n meringue met die eierwitte as volg: plaas die eierwitte saam met 125 ml (1/2 k) versoeter in ‘n glasbak wat oor ‘n kastrol kookwater staan, roer tot die suiker opgelos is. Verwyder van die hitte en klits die eierwitte tot styf met ‘n elektriese klister, sowat 10 minute. Skep bollings op die konfytlaag en skroei met ‘n kombuis-blaasvlam.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: