Botterkoekbrood

Hart van ‘n Ma

Die lewe kom nie met ‘n handleiding nie, maar met ‘n ma. Onbewustelik leer ons ontsaglik baie by ons ma’s, meestal ongesiens en sonder groot omhaal van woorde. Dit lê in haar doen en omgee en vir ‘n “no go” weet jy net uit die kyk en rol van haar oë.

My ma het graag haar kennis oorgedra – sy is goed met syfers en by haar het ons leer somme doen. Haar formule en maklik maak van verhoudingsomme kon ek aan verskeie assistente ook in die toetskombuis oordra. Presiesheid het ons geleer deur saans saam met haar plaaswinkel te hou en elke aand moes die boeke klop, anders is daar oorgetel, al was dit net ‘n paar sent wat uit was.


Haar liefde vir boeke en lees; ‘n verknogheid aan mooi skoene; egte mooigoed, maar ‘n ewige awersie vir klatergoud. Ontelbare lewenslesse, maar dis veral haar onwrikbare vashou aan haar geloof en ‘n God wat haar anker is, wat ons soos ‘n kleinode saamdra.

As kinders is ons groot bederf met liefdeskos – varsgebakte brood en karringmelkpoeding op ‘n Vrydagmiddag na ‘n week in die koshuis en elke Sondag ‘n liefdesmaal met skaapboud en baie braaiaartappels, my broers se gunsteling.

Sy het ons goed touwys gemaak in die kombuis, as klein dogtertjies het ons op stoele gestaan om saam met haar die brooddeeg te knie in die groot emalje-bad, vir my ‘n seëning, want later van tyd het ek nooit geskrik om met suurdeeg te werk nie. Somertyd is daar vele potte konfyt gekook met die ryk oes van die plaas, al is die reuse potte baie keer geroer met ‘n boek in die hand, net om die sleurwerk makliker klaar te kry.

Saterdagmiddae is daar gebak vir die gewoontelike Sondag-namiddag-familietee. Buiten vir warmmelkkoek, was botterkoek ook gereeld deel van die “spread”. Ons moes inspring en help. My ma het ons die suiker en botter nog laat room met ‘n houtlepel. Jou arms was lam, want daar mag nie ‘n korreltjie suiker te bespeur wees as sy dit tussen haar vingers gerol het nie.

Spesiaal vir Ma bak ek botterkoek en versier dit mooi met vrugte, vars van die plaas.

Botterkoek met vrugte

Maak 1 groot botterkoekbrood
Voorbereiding: 20 min
Baktyd: 70 min

KOEK
250 g botter
250 ml (1 k) strooisuiker
6 eiers
5 ml (1 t) vanieljegeursel of 15 ml (1 e) gerasperde lemoenskil of selfs gekapte roosmaryn (opsioneel)
750 ml (3 k) koekmeel
15 ml (1 e) bakpoeier
200 ml melk of lemoensap

BOLAAG
7—10 pruime, perskes of nektariens gehalveer
Versiersuiker vir bo-oor sif

VOORSIT
230 g geroomde maaskaas
Sowat 45—60 ml (3—4 e) versiersuiker

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n 35 x 13 broodpan en stuif met meel.

1 Room die botter en suiker baie goed saam tot lig en donsig.
2 Voeg die eiers een vir een by en klits goed.
3 Meng die vanieljegeursel of die skil of kruie by.
4 Sif die droë bestanddee 2 maal saam, sif oor die bottermengsel en vou in, alternatiewelik met die melk of lemoensap.
5 Skep in die voorbereide pan, maak gelyk bo-op en rangskik die vrugte bo-op.
6 Bak sowat 50 minute lank of tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die koek kom.
7 Laat effe afkoel in die pannetjie, keer uit en laat heetemal afkoel op ‘n draadrakkie.
8 Stuif versiersuiker oor.
9 VOORSIT Meng die roomkaas en versiersuiker. Skep in bollings op die koek.
Sny andersins in skywe en smeer versiersel oor elke snytjie.

VARIASIE: Bessie-marmerkoek: Kook 500 g bevrore bessies met 80 ml (1/3 k) bruinsuiker tot stroperig.

Skep die koekbeslag in die pan, skep bolle bessiemengsel bo-op en marmer deur met ‘n sosatiestokkie om ‘n marmereffek te kry. Bak tot gaar.

Peerkoek: Skep bietjie van die beslag in die broodpan. Skil klein pere, hou steeltjies aan en pak al in die middel van die broodpan af. Skep res van die beslag oor en bak tot gaar. Stuif met versiersuiker.

Wenk: Skep die beslag in mini-silikonkoekpannetjies en bak tot gaar. Stuif met versiersuiker.