Ode aan ‘n Ma
Meimaand, Moedersdagmaand en ook my ma, Jo van Zyl, se verjaarsdagmaand. Ons is geseënd om hierdie dubbele vreugde op 85 steeds saam met haar in haar huis te vier.
Op spesiale dae het my oorlede pa, Carel, haar altyd bederf met die grootste bos rooi rose wat hy spesiaal bestel het vanaf die roseboer. Ons probeer daardie tradisie volhou en daar’s altyd blomme in die huis, al is dit soms partykeer net loof saam met die eerste bloeisels wat uitstoot in haar tuin of van die Icebergrose, gepluk in die roselaning wat my pa nog al langs die tuin-looppaadjie geplant het.
Op die noordestoep van die plaashuis waar die sonnetjie in die laatherfs so lekker kan bak, word daar eindelose koppies tee gedrink, baie gesels, baie gelag en sommer ook probleme opgelos, altyd oor ‘n koppie tee. My ma is ‘n teedrinker van formaat. Elke geleentheid ‘n ritueel, al is dit net vir twee. Die mooiste teekoppies ragfyn op die skinkbord gedek saam met oumagrootjie, Ouma Jo, se silwer-teelepels en ‘n spesiale teepot wat ordentlik kan skink. Die tee gemaak met die plaas se soet boorgatwater, wat nie te lank moes kook nie. Die sterkte van die tee net reg, nooit die eerste skinksel nie. “Dis kasaterwater my kind”.
Vandag is Carmien Tea se teefabriek skuins agter haar huis en baie dae as die wind reg waai, kom die soet rooibosreuk aangedwarrel huis toe. Dan skakel sy die ketel aan en drink ons tee, perfek gemaak, nes sy kan.
Toe ons kinders was, is daar Sondagmiddae groot gekuier en dan het die sytafel gekreun onder haar lekker gebak. Altyd ‘n sjokoladekoek of warmmelkkoek soos haar ma, Ouma Carmen, haar leer maak het. Nou is dit my beurt om haar te bederf en ek bak vir haar rooifluweel-kolwyntjies, sommer ook met ‘n skoot tee in, Carmien se rooibos natuurlik en ons skink nog ‘n koppie en geniet die spesiale samesyn.
ROOIFLUWEEL-KOLWYNTJIES
Maak 12 kolwyntjies
Bereiding: 15 min
Baktyd: 15—20 min
KOLWYNTJIES
50 g (½ pak) fyn amandels
180 ml (¾ k) koekmeel
180 ml (¾ k) witsuiker
30 ml (2 e) kakao
10 ml (2 t) bakpoeier
2,5 ml (¼ t) sout
5 ml (1 t) vanieljegeursel
3 eiers
125 ml (½ k) canola-olie
200 ml Carmien-Organic rooisbostee en 1 bottetjie (40 ml) rooi voedselkleurse gemeng
VERSIERSEL
45 ml (3 e) vars suurlemoensap
180 ml (¾ k) versiersuiker
2 houers (230 g elk) roomkaas
45 ml (3 e) botter, gesmelt
AFRONDING
Roosblare, eetblare blommetjies of kruisementblaartjies (opsioneel)
Voorverhit die oond tot 180°C. Pak papiervormpies in ‘n muffinpan met 12 diep holtes.
1 Meng die droë bestanddele saam.
2 Klits die nat bestanddele buiten die rooibosteemengsel saam. Meng by die droë bestanddele. Voeg die rooibosteemengsel bietjie-vir-bietjie by en meng goed tot ‘n gladde beslag.
3 Giet in die papiervormpies en bak 15—20 minute of tot ‘n toetspen skoon uit die kolwyntjies kom. Koel af.
4 VERSIERSEL Meng al die bestanddele saam.
5 AFRONDING Sny ‘n gat in die kolwyntjies (of druk ‘n gaatjiemet die agterkant van ‘n houtepel) en vul met versiersel. Smeer die versiersel rofweg oor die kolwyntjies en versier met roosblare, eetbare blommetjies of kruisementblaartjies indien verkies.