Sop teen die koue
Van sop kan ek nooit genoeg kry nie. Maak nie saak of dit bonkige groente-of bonesop of ‘n dun geurige aftreksel met Oosterse smake is nie. Ek skink vir my klein koppetjies daarvan en teug langsaam daaraan of skep ‘n behoorlike sopbord vol en geniet dit met brood.
Die lekkerte van sop is mos juis dat dit so divers is – net ietsie ligs vir daardie hol kol of met genoeg om die lyf om in te staan vir ‘n volledige ete.
As jong getroude, met ietwat bedenklike vaardighede in die kombuis op daardie stadium, was ‘n pot sop baie keer my redding en ek was so voor op die wa om dan mense oor te nooi – vir ‘n sopbuffet! Dan kook en ‘n paar potte sop en sit allerhande ekstra lekkertes daarby en dan kuier ons tog te gesellig, amper soos desjare terug se fondue-aande.
Wintertyd op die plaas het die soppot ook bykans permanent op die stoof staan en prut. Ma het begin met ‘n reuse pot groentesop, dan het sy later bone of ertjies bygevoeg om die sop vir ‘n tweede rondte gans en al ‘n heel ander geurprofiel te gee en heel laaste haar gunsteling, tamatiesop. Saam met ‘n sny warm plaasbrood wat drup van die botter, was dit koningskos. Hier is my variasie wat sommer in ‘n ommesientjie klaar is.
ROOITAMATIESOP
Die tamatiesop is heerlik geurig en is binne minute gereed. Om die sop soeter en lekker romerig te maak, rasper ek ‘n patat by. Sien ook my wenk hoe jy die sop ‘n deegkappie kan gee — spogkos vir gaste.
Genoeg vir 6 mense
Voorbereiding: 10 min
Gaarmaak: 15 min
15–30 ml (1 e) olyfolie
2 uie, gekap
3 knoffelhuisies, fyngedruk
1 sakkie (50 g) tamatiepasta
3 blikke (400 g elk) gekapte tamaties
1 patat, geskil en gerasper
500 ml (2 k) groenteaftreksel
5—10 ml (1—2 t) paprika
Sout en peper na smaak
Basiliepesto of songedroogde tamatiepesto, aangeklam met bietjie olie vir bo-op skep
1 chorizo-worsie, in skyfies gesny en gebraai
Basilieblare, gediepvetbraai vir garnering (opsioneel)
1 Verhit die olie in ‘n kastrol en roerbraai die ui en knoffel daarin tot sag.
2 Roer die tamatiepasta deur, voeg die blikke tamatie, patat en groenteaftreksel by. Bring tot kookpunt, verlaag die hitte en prut tot geurig so 15 minute lank.
3 Verpulp met ‘n staafmenger en geur na smaak met sout en peper.
4 Skep op in bakkies, koppies of selfs flessies, streep basiliepesto oor en rond af met chorizo en basilieblare.
Wenk: Jy kan die blikke tamatie ook met 1,2 kg ryp vars pruimtamaties (Roma) vervang. Sny hulle in stukke en plaas saam met die knoffel en ui in ‘n oondpan. Meng olyfolie deur en sprinkel bruinsuiker en vars roosmarynblaartjies oor. Rooster dan tot die puntjies begin verbruin.
Sop onder ‘n pasteikappie: Skep die sop in oondvaste bakkies, sny sirkels skilferkorsdeeg, dieselfde grootte as die bakkie en plaas bo-op, sny patroontjies – soos ‘n tamatie – uit die oorskietdeeg en plak bo-op vas met water. Bak by 190°C tot die deeg gaar en goudbruin is.
(Ek het selfs al sommer net ‘n paar velle filodeeg oorgesit en dit met ‘n toutjie om die kante vasgebind – lekker vinnig en maklik, maar net so spoggerig).