Gemmer Varkboud

Op ons Kerstafel is varkboud ‘n jaarlikse instelling in ons huis. En al lees ek wyd en het verskeie resepte vir varkboud en gammon, is dit op hierdie varkboud wat in gemmerlim gaargebak word, waarop ek telkens terugval.

Jare terug het Laetitia Prinsloo, eienares van die bekende ICA-kookskool op Stellenbosch, dit vir ons by haar huis gaargemaak vir ‘n Kersfeesstorie. Die waatlemoen en spanspek met die kruisement-en-gemmersuiker oorgesprinkel, is hemels hierby.

BOUD
3—5 kg gerookte varkboud (gammon)
2—3 liter gemmerlim
1 mediumgroot ui, gesny
1 suurlemoen se skil in lang repe gesny
4 cm stuk gemmer, in lang repe gesny

GLANSLAAG
80 ml (1/3 k) gepreserveerde gemmerstukke in stroop, in skywe gesny
30 ml (2 e) gemmerstroop

VIR VOORSIT
45—60 ml (3—4 e) suiker
10 ml (2 t) gekapte kruisement
10 ml (2 t) gekapte piekelgemmer
Waatlemoen en spanspek of pynappel, in repe of skywe gesny

1 BOUD Week die boud 3—4 uur voor gaarmaaktyd in koue water. Plaas die boud in ‘n groot kastrol en giet die gemmerlim oor en voeg die res van die bestanddele by.
2 Laat opkook, verlaag die hitte en laat kook. Bereken die kooktyd as volg: 25 minute per 500 g vleis. Verwyder uit die vloeistof en laat afkoel. Verwyder die swoerd.
3 GLANSLAAG Voorverhit die oond tot 180°C. Plaas die boud op ‘n bakplaat. Meng die gemmerstukke en stroop en smeer oor die vetlaag. Oondbraai sowat 30—40 minute of tot bruin buite-om. Sit warm of koud voor.
4 VOORSIT Meng die suiker met die kruisement en piekelgemmer. Sprinkel oor die vrugte en sit voor met die boud.

30 Dae Muffins

Almal ken die immerbekende 30-dae-muffin resep waarvan jy die mengsel aanmaak en in die yskas hou en dan net daarvan bak soos jy nodig kry. Die aanvanklike resep het gewemel van die suiker en die olie. Ek het oor jare rondgespeel met die resep, die suiker en olie verminder en ook bietjie hawermout ingewerk by die mengsel. Vir ekstra goedheid gebruik ek Carmién se Citrus Chai rooibostee pleks van die oorspronklike kookwater. Dit gee tegelykertyd ook ‘n sagte spesery- en sitrusgeur aan die muffin.

Pleks van middelslag muffins bak maak ek baie keer superkleintjies en bak dit in patty pan pannetjies. ‘n Strooisel neute bo-op verrig wonders en maak ‘n heerlike proehappie daarvan.

Carmién, in samewerking met die Mouton foundation en internasionale tee-maatskappy, Teekanne, het ook verlede jaar ‘n gesonder leef-program, Taste the Good Life, kook gesond, leef gesond, aan plaaswerkers uitgerol. Ek was bevoorreg om deel te wees van die span en het ‘n reeks kookklasse aangebied waar almal tog te lekker saamgekook het. Hierdie muffinresep was ‘n treffer onder die deelnemers.

30 Dae Muffins

Maak 40 middelslag muffins
Bereiding: 15 min
Baktyd: 15—20 min

BAKMENGSEL
6 x 250 ml (6 k) semels
250 ml (1 k) hawermout
500 ml (2 k) sterk Carmién-Citrus Chai rooibostee, gemaak met 4 sakkies
250 ml (1 k) olie
160 ml (⅔ k) bruinsuiker
4 eiers, geklits
1 liter (4 k) laevet natuurlike jogurt
25 ml (5 t) koeksoda
500 ml (2 k) verkieslik klipgemaalde koekmeel
500 ml (2 k) verkieslik klipgemaalde volkoringmeel
10 ml (2 t) sout
BYVOEGINGS
Gekapte gemengde droévrugte, gekapte neute, grof gekapte appel, piesangs, of gerasperde wortels

1 BAKMENGSEL Meng die semels en hawermout met tee. Voeg die olie by en laat effens afkoel. Voeg dan die suiker, eiers en 750 ml (3 k) van die jogurt by meng.
2 Meng die res van die jogurt met die koeksoda en voeg by.
3 Voeg die droë bestanddele by en meng deur.
4 Skep die mengsel in ‘n groot bak of skoon flesse, maak toe en plaas in die yskas tot benodig.
5 VIR BAK Voorverhit die oond tot 180˚C. Smeer 12 holtes van ‘n muffinpan goed.
6 Voeg sowat 80 ml (⅓ k) van enige van die byvoegings by 500 ml (2 k) van die beslag en skep die muffinholtes twee derdes vol.
7 Bak sowat 20-30 minute tot gaar, afhangende van die grootte van die muffin. Laat effens afkoel in die pan, keer uit en laat heeltemal afkoel. Sit voor met gerasperde kaas of biltong.

Trek jou suikertand

Geregistreerde dieetkundige Liezel Engelbrecht het onlangs ‘n artikel vir Rapport geskryf oor suiker. Ek het haar gevra om van haar wenke te deel. Hier volg ‘n aangepaste weergawe. Gaan lees gerus die volle artikel op Netwerk24.

Hoekom het suiker ‘n slegte reputasie?

Suiker se slegte reputasie is nie onverdiend nie. As ons te veel daarvan inneem, kan dit bydra tot gewigstoename en ons kanse om siektes soos diabetes, hartsiekte en beroertes te kry, verhoog. Gaskoeldranke, energiedrankies en ander versoete drankies (selfs sap) is hier van die grootste sondebokke – daar is sterk navorsing wat dui op die skakel tussen versoete drankies en metaboliese sindroom (‘n ongewenste kombinasie van simptome ondermeer hoë bloeddruk, hoë cholesterol en verhoogde vastende bloedsuikervlakke). Ultraverwerkte kos (soos lekkers, sjokolade en snoepgoed) is ook dikwels hoog in suiker, en kan ook hoog wees in vet, sout en kilojoules.

So moet ek dit heeltemal vermy?

Suiker opsigself is nie gif nie. Glukose (die mees eenvoudigste vorm van suiker) is jou brein se hoofbron van energie, en dit is noodsaaklik om optimaal te funksioneer. Dit is egter belangrik om te onthou dat jy suikers uit ‘n klomp ander kosse kan kry: alle koolhidrate (byvoorbeeld te kry in ondermeer graanprodukte, styselagtige groente, vrugte en lensies) word in suikers afgebreek en kan jou liggaam van glukose voorsien. Dit is dus selde nodig om bygevoegde suiker in te neem vir optimale energie.

Hoekom bevat so baie kos bygevoegde suikers?

Suiker het ook ander funksionele eienskappe gebruike, en word gebruik byvoorbeeld as preserveermiddel om die rakleeftyd van sekere produkte te verhoog, om vog te behou, om kleur by te voeg, volume by te voeg, of die tekstuur van sekere kosprodukte te verbeter. Suiker het ook die vermoë om die smaakpersepsie van sekere bestanddele te verhoog, en die smaakpersepsie van ander (soos suur en bitterheid) te onderdruk, en word dus ook dikwels om dié rede by produkte gevoeg.

Is sekere suikers beter as ander?

Bruinsuiker is nie beter as witsuiker nie, en heuning, esdoringstroop, klappersuiker en molasse bestaan alles steeds uit eenvoudige suikers (mono- en dissakkariedes). Dit word alles steeds as bygevoegde suikers geklassifiseer, en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beveel aan dat, vir die meeste gesondheidsvoordele, bygevoegde en vrye suikers (dus dit wat jy byvoeg by jou kos asook dit wat voorkom in produkte soos in lekkernye en koeldrank, en produkte soos sap) nie meer as 5% van jou totale energie moet uitmaak nie. Vir volwassenes werk dit uit op ongeveer 26 g suiker, of 6 teelepels, per dag (1 teelepel suiker is ongeveer 4g suiker). Sien die onderstaande lysie om dit in perspektief te sit.

Slotsom

Geniet gerus die versoeter waarvan jy hou, en die sny koek of sjokolade elke nou en dan, maar wees ekstra versigtig vir versoete drankies. As jy vermoed jy oorskry gereeld die aanbevole hoeveelheid suiker per dag, is dit dalk ‘n goeie gewoonte om die voedingstabelle te begin lees om jou inname te bestuur. En dit is dalk nie altyd nodig vir die ekstra suiker by die pampoen-, mielie-, of patatgereg nie.

Aanvullende bron: Deshpande et al. Frequent Sugar-Sweetened Beverage Consumption and the Onset of Cardiometabolic Diseases: Cause for Concern?, Journal of the Endocrine Society, 2017 Nov 1.

Suiker in produkte

Hier is ‘n kort lys om ‘n vinnige idee te gee waar bygevoegde en “vry” suikers te kry is in algemene produkte. Suiker per 100g of 100ml*.

Drankies
Gaskoeldrank – 11 g (2,75 teelepels)
Energiedrankies – 6 g (1,5 teelepels)
Sap – 8 g (2 teelepels)

Suiwel
Gegeurde melk – 9 g (2,25 teelepels)
Jogurtdrankie – 12 g (3 teelepels)
Gegeurde jogurt (bv vrugte jogurt) – 6g (1,5 teelepels)
Vanielje roomys – 16 g (4 teelepels)
Vla – 13 g (3,25 teelepels)

Souse
Tamatiesous – 21 g (5,25 teelepels)
Blatjang – 34 g (8,5 teelepels)
Soetrissie (“sweet chili”) sous – 38 g (9,5 teelepels)
Mosterd – 12 g (3 teelepels)

Lekkergoed
Jellie-lekkers – 48 g (12 teelepels)
Melksjokolade – 52 g (13 teelepels)

*Afgeronde benaderde hoeveelhede van bekende handelsmerke is gebruik. Sekere handelsmerke mag egter minder of meer suiker bevat, en suiker kan ook tussen die produkreekse verskil. Hierdie is slegs ‘n aanduiding. Lees die voedseltabel op die produk om seker te maak.
*Let ook daarop dat porsies groter of kleiner mag wees is as dit. Gaskoeldranke, jogurtdrankies, gegeurde melk en sap word tipies in 200 ml tot 300 ml porsies geniet (dit sal dus meer suiker bevat), terwyl souse tipies in 15 ml tot 30 ml (1-2 eetlepels) geniet word, so die hoeveelheid suiker wat jy inneem sal minder wees. Sjokolade en jellie-lekkers kom in verskeie verpakkings.

Wenke

  • Lees voedingstabel op kosprodukte en drankies om te sien hoeveel suiker die produk wat jy koop bevat. Kies meestal produke met minder as 5 g suiker (kos) per 100 g of 2,5 g suiker (drankie) per 100 ml bevat. Probeer om jou inname van hoë suikerprodukte te verminder, en let op jou porsiegroottes as jy dit wel geniet.
  • As dit vir jou moeilik is om jou suikerinname te beperk, probeer gerus die “lite”, “zero” of “reduced sugar” weergawes van tyd tot tyd. Die produkte is gewoonlik kunsmatig versoet of het minder suiker as die oorspronklike eweknie. Wees egter steeds versigtig – dit maak die produk nie outomaties gesond nie, en soms kan die produkte selfs hoër in vet wees. Soos met alles moet kunsmatige versoeters ook liefs ook nie in oormaat ingegeem.

Vrywaring: Hierdie hulpbron is slegs vir opvoedkundige doeleindes en kan nie ‘n individuele assessering of behandeling deur jou dokter of dieetkundige vervang nie.

  • Besoek www.adsa.org.za vir ‘n dieetkundige in jou omgewing.
  • Liezel Engelbrecht is ‘n geregistreerd dieetkundige van Kaapstad. Besoek gerus haar webtuiste, en volg haar op Facebook en Instagram.
  • Lees die res van die storie gerus op Netwerk24 waar sy ook inligting oor klappersuiker en suikervervangers deel.

Sjokoladerol Sonder Sonde

Ek is altyd daarop uit om te kyk hoe ek resepte gesonder maar steeds lekker kan maak – maw om meeste sleg uit ‘n gereg te haal sonder om die lekker op te offer. Hierdie sjokoladerol is eintlik te goed om waar te wees – dis koringvry, suikervry en bykans vetvry, maar smaak hemels, ‘n tipiese lekkergoed-resep (maw dis lekker, maar ook goed vir jou).

Deesdae verkies ek erythritol, ‘n suiker-alkohol wat nie in die bloedstroom opgeneem word nie, maar bykans net so uitgeskei word en ook in die keto-dieet gebruik kan word, as suiker-plaasvervanger. Dit werk goed in gebak. Andersins gebruik xylitol of as suiker jou nie pla nie, gebruik dieselfde hoeveelheid strooisuiker.

SJOKELADEROL SONDER SONDE
Maak 12 – 15 snytjies
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 20 min

VIR DIE SJOKOLADEROL
6 groot eiers, geskei
150 g erythritol (lae kilojoule suiker-plaasvervanger)
50 g kakao
Knippie sout
125 ml (½k) fyn amandels

VIR DIE VULSEL
375 ml (1½ k) natuurlike jogurt
50 g suikervrye donker sjokolade (80 %), gesmelt
100 g vars bessies

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n rolkoekpannetjie met kossproei en voer uit met bakpapier. Spuit weer en stuif liggies met kakao.

  1. Klits die eiergeel en erythritol saam tot lig en romerig.
  2. Vou die kakao, sout en fyn amandels in.
  3. Klits die eierwit in ‘n skoon bak met ‘n skoon eierklitster tot styf, roer bietjie by die eiergeelmengsel in en vou die eiergeelmengsel dan by die eierwit in.
  4. Giet in die rolkoekpan, maak gelyk en bak 20 minute tot sponserig in die middel.
  5. Keer uit op ‘n vadoek, trek die papier af en rol op in die vadoek. Koel af.
  6. VULSEL Meng 60–125 ml van die jogurt by die sjokolade in en meng goed.
  7. Smeer die sjokoladesmeer oor die rolkoek en smeer van die jogurt bo-op. Pak van die bessies op en rol weer op.
  8. Rond af met ‘n smeersel sjokoladesmeer bo-op en versier met bessies. Stuif kakao oor.