Afskeid van Lekker en Goed, seisoen 2

Verlede week het ons afskeid geneem van Lekker en Goed, seisoen 2. En ek kyk met trots en ‘n tikkie hartseer terug na ‘n heerlike seisoen wat  my toegelaat het om te doen wat ek die heel graagste doen: om heerlike kos aan mense voor te sit, wat tegelykertyd ook gesonder is. Maar die belangrikste v alles was ook die wonderlike span mense saam met wie ek gewerk het: reggiseur, Sanet Olivier, kosvervaardiger en stelontwerper, Herman Lensing saam met sy span, die kameramanne asook koordineerders en redigeerders by die produksiehuis, Homebrew. Weereens ‘n groot dankie aan julle.

Ek het so bietjie deur al die episodes gegaan en ‘n paar van my gunsteling resepte uitgesnuffel.

Die jogurtsaadbrood is altyd ‘n treffer (ek het om nou al menigmaal gebak), die vissamosas wys jou net wat mens alles met ‘n blik vis kan vermag, die filokappie op die geurige wortelsop verhef dit bo die gewone; die kerriesmakie oor die lendestuk maak dit werklik spesiaal en die beetmeringue op die suurlemoentert (wat nie met kondensmelk gemaak word nie) is heerlik anders en besonders. Lekker smul.

JOGURTSAADBROOD MET SARDIENTJIESMEER EN GUTZY UIEPIEKEL 

JOGURT-SAADBROOD

Hierdie koringvrye saadbrood is ryk aan proteïen verskaf deur die jogurt, eiers, sade en selfs die hawermout. Dit bevat ook baie vesel, (hawermout bevat oplosbare sowel as onoplosbare vesel) en die sade bevat onversadigde vette.

Maak 1 medium broodjie

Bereiding: 10 min

Baktyd: 35 min

500 ml (2 k) hawermout  (vervang helfte met soja-proteien)

15 ml (1 e) bakpoeier

5 ml (1 t) sout

180 ml (¾k) gemengde sade (vlassaad, sesamsaad, pampoensaad en sonneblomsaad)

30 ml (2 e) chia-saad

50 g sonneblomsaad of heel amandels

3 eiers

250 ml (1 k) natuurlike jogurt (Lancewood, lactolite)

Sowat 125 ml (1/2 k) Carmien groen rooibostee

Sade en hawermout vir oorsprinkel

Voorverhit die lugbraaier tot 190°C. Plaas ‘n vel lugbraaier-papier op die plaat van die lugbraaier.

1 Meng die hawermout, bakpoeier en sout in ‘n groot mengbak. Voeg die sade en neute by en meng weer goed

2 Klits die eiers in ‘n ander bak, voeg die jogurt en genoegsaam tee by en klits tot goed gemeng.

3 Voeg die nat bestanddele by die droë bestanddele en meng liggies tot deeglik gemeng. Moenie oormeng nie.

4 Plaas op die papier en vorm ‘n ovaalbroodjie, die grootte wat in ‘n lugbraaier sal pas.

5 Sprinkel hawermout en sade bo-oor.

6 Plaas die plaat van die lugbraaier in die laaitjie en sit die broodjie bo-op. Bak 30 minute lank tot gaar en ‘n toetspen skoon uit die broodjie kom, bedek met tinfoelie halfpad deur die baktyd indien die broodjie te donker bak.

7 Verwyder die broodjie uit die lugbraaier, draai om met die onderkant na bo en bak vir ‘n verdere 5 minute of tot die onderkant drooggebak is.

SARDIENTJIESMEER

3 eiers, 7 min gekook en afgedop

2 blikke sardientjies met olie

60 ml (¼k) vars suurlemoensap

45 ml (3 e) gerasperde suurlemoenskil

5 ml (1 t) sumac

Sout en peper na smaak

1 Plaas al die bestanddele in die NutriBullet. Verwerk tot fyn en glad. Voeg water by indien te styf en geur met sout en peper.

GUTZY UIEPIEKELS

Maak 1 bottel (750 ml) piekel

Bereiding: 20 min

Gaarmaak: 6 min

BASIESE PIEKELSOUS

500 ml (2 k) appelasyn

500 ml (2 k) water

15 ml (1 e) sout

125 ml (1/2 k) suiker

7,5 ml (11/2 t) heel koljandersaad

5 ml (1 t) heel vinkelsaad

5 ml (1 t) mosterdsaad

1 sakkie elk Carmien GUT en Carmien groen rooibostee

GROENTE

6 rooi uie, in ringe gesny saam met 5 knoffelhuisies geskil

1 Was en steriliseer glasflesse en deksels en verdeel jou gekose groente, buiten tamaties, tussen die flesse .

2  Giet die basiese piekelmengsel in ‘n kastrol en voeg die speserymengsel (soos gespesifiseer by elke groentesoort) by.

Bring tot kookpunt en kook 5 minute. Voeg die teesakkies by, laat trek so 1 minuut en verwyder die teesakkies.

4 Giet die piekelmengel oor die groente, maak seker dat die groente heeltemal bedek is. Maak flesse toe en seël. Keer onderstebo en laat afkoel.

Laat staan sowat 3 dae voor jy dit voorsit.

VISSAMOSAS MET KOLJANDERDOOPSOUS

Maak sowat 40 samosas

Voorbereiding:  40 min

Baktyd: 15 min

VULSEL

2 blikke (400 g each) Lucky Star sardyne in tamatiesous

Olie

2 Wildeklawer-uie, gekap

1 cm stuk vars gemmer, gerasper

2 knoffelhuisies, gerasper

Groot handvol mentblare, gekap

Groot handvol koljanderblare, gekap

1—2 vars brandrissies, ontpit en fyn gekap

30 ml (2 e) appelkooskonfyt

2,5 ml (½ t) borrie

5 ml (1 t) sout

10 ml (2 t) gemaalde koljander

5 ml (1 t) gemaalde komyn

30 ml (2 e) suurlemoensap

SAMOSAS

10 velle filodeeg, ontdooi

olie

Sesamsade

VIR VOORSIT

Koljanderdoopsous

Voorverhit die oond of lugbraaier to 190°C

1 Dreineer die vis en maak fyn.

2 Verhit olie in ‘n pan en braai die uie tot sag, voeg die gemmer en knoffel by, braai bietjie, voeg dan die gevlokte vis by.

3 Voeg die res van die vulselbestanddele by, verlaag die hitte en prut stadig vir sowat 15 min. tot geurig.

4 Laat afkoel.

5 Gebruik 15 ml (1 e) vulsel per samosa.

6 Plaas die filodeegvelle opmekaar. Gebruik ‘n skerp mes en sny in 6 repe, 5—6 cm wyd. Bedek lossies met ‘n klam doek om te voorkom dat die filodeeg uitdroog.

7 Gebruik 1 reep deeg per keer en plaas in die lengte op ‘n plat oppervlak, verf liggies met olie.

8 Vou die onderste punt diagonaal oor om ‘n pakkie te maak en skep 15 ml (1 e) van die vulsel in. Vou die “pakkie” diagonaal oor en vou dan op en oor tot ‘n driehoekie gevorm is.

8 Plaas op ‘n bakplaat, verf met olie, sprinkel sesamsaad oor. Herhaal met filodeeg en vulsel.

9 Bak 12—15 minute tot goudbruin. Sit voor met koljanderdoopsous.

KOLJANDERDOOPSOUS

Maak sowat 125 ml

Bereiding: 5 min

40 g vars koljanderblare

2,5 ml (½ t) sout

2 brandrissies, gekap

10 ml (2 t) knoffel, fyngedruk

15 ml (1 e) fyn klapper

30 ml (2 e) water

15 ml (1 e) suiker

30 ml (2 e) appelasyn

60 ml (¼ k) olie

Plaas al die bestanddele in die voedselverwerker of NutriBullet en verwerk tot glad. Sit voor saam met die samosas.

LEMOENWORTELSOP

Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 20 min

Kooktyd: 20—30 min

30 ml (2 e) olie

1 prei, in ringe gesny

1 ui, gekap

15 ml (1 e) kerriepoeier

5 ml (1 t) fyn komyn

10 ml (2 t) fyn koljander

1 kaneelstok

8 groot wortels, geskil en in stukke gesny

1 klein botterskorsie, geskil en ontpit en in stukke gesny

1, 5 liter aftreksel, gemaak met 6 Carmien Focus en 2 Carmien Boost-teesakkies

Gerasperde skil en sap van 2 lemoene

7 ml (1,5 ml ) bruinsuiker

Sout en swartgemaalde swartpeper na smaak

250 ml (1 k) dik volroomjogurt

Handvol gekapte koljanderblare

1 vel filodeeg, dubbel gevou

gesmelte botter

geroosterde pampoenpitte

1 Verhit die olie in ‘n pan en braai die prei en ui daarin tot sag.

2 Meng die kerrie en fyn speserye deur.

3 Voeg die groente by asook die aftreksel en lemoen.

4 Geur met suiker, sout en peper.

5 Bring tot kookpunt, verlaag die hitte en prut tot die groente sag is.

6 Verwyder van die hitte, verwyder die kaneelstok en verpulp met ‘n stokmerger. Roer die jogurt en koljanderblare by, verhit weer indien verkies.

7 Skep in bakkies, bedek met ‘n vel filodeeg, bind vas met tou en verf met botter, sprinkel pampoenpitte oor.

8 Bak by 180°C of tot bruin. Sit warm voor.

HEEL GEKERRIEDE LENDESTUK

Genoeg vir 4—6 mense

Bereiding: 30 min

Gaarmaak: sowat 1 uur

MASALASMEERSEL

1 elk sakkie Carmien Zesty lemon, Turkish Delight en Revive

2 sakkies Carmien Focus of 1 sakkie Carmien Masala Chai-cooking bag

300 ml kookwater

10 ml (2 t) heel komynsaad

15 ml (1 e) heel koljandersaad

1 heel steranys

6 knoffelhuisies, geskil

50 g vars gemmer, gerasper

Groot handvol vars kruie soos pietersielie, koljander, ment

Sap en gerasperde skil van 2 suurlemoene en 2 lemmetjies

60 ml (¼ k) olie

VLEIS

1,5 kg heel beeslende (nie ligter nie)

sout

3 uie, in wiggies gesny

6-8 aartappels, in wiggies gesny

250 ml (1 k) Carmien groen rooibostee (2 sakkies)

olie

natuurlike jogurt vir by sous

1 Plaas die teesakkies in ‘n beker en giet die kookwater oor. Laat afkoel en verwyder die teesakkies.

2 Rooster die  komyn en koljandersade in ‘n droë pan. Plaas saam met die steranys in ‘n stamper en maak fyn met ‘n vysel, andersins gebruik ‘n Nutribullet.

3 Maak die knoffel, gemmer en kruie fyn in die voedselverwerker, voeg die fyngestampte speserye en gerasperde skil by.

4 Skakel die voedselverwerker aan en voeg die suurlemoensap en lemmetjiesap asook die afgekoelde tee en olie by.

5 Verwerk tot ‘n smeerbare mengsel.

6 VLEIS  Maak ‘n paar insnydings met ‘n skerp mes in die vleis en vryf die vleis oraloor goed in met die masalamengsel. Marineer verkieslik oornag in die yskas.

7 Bring vleis tot kamertemperatuur, haal uit die marinade (hou enige oorskiet marinade eenkant) en geur met sout.

8 Voorverhit die oond tot 160°C.

9 Pak die uie in die middel van ‘n oondbak en plaas die vleisstuk bo-op.

10 Pak die aartappelwiggies rondom die vleis en geur dit liggies met sout.

11 Giet die helfte van die groen rooibostee in die bak en besprinkel die aartappels liggies met olie

12 Oondbraai as volg: 20—25 minute per 500 g plus 20 minute ekstra vir mediumgaar en tot die vleis gaar is na jou voorkeur.

13 Laat rus die vleis te minste 10 minute voor dit voorgesny word.

14 Plaas die vleis op ‘n dienbord en rangskik die aartappelskywe (en uie) rondom.  Hou warm.

15 Giet nog groen rooibostee by die pansappe in die pan en verhit op die stoofplaat tot die skraapsels loskom.

16 Giet die pansappe in ‘n kastrolletjie, voeg die oorskiet marinade by en laat kook tot geurig. Roer bietjie natuurlike jogurt by vir ‘n lekker romerige sous en sit voor saam met die vleisstuk en aartappelskywe. Geniet met sambals.

SAMBALS

Tamatiesambal: Sny ‘n hand vol kerietamaties kleiner op. Voeg 1 gekapte rooi-ui by. Meng ‘n bietjie bruin-asyn, ‘n strooisel suiker en 1 gekapte groen brandrissie by. Sprinkel koljanderblare oor.

Piesangsambal: Sny piesangs in skyfies, sprinkel suurlemoensap oor asook bietjie klapper

Komkommersambal Sny ‘n kwart komkommer in klein blokkies, voeg ‘n handvol gekapte ment en 1 gekapte rooi brandrissie by. Vou 125 ml (1/2 k) volroomjogurt by.

Pynappelsambal Sny ‘n pynappel in stukke, voeg ‘n handvol gekapte koljanderblare en 1 groen of rooi gekapte brandrissie by.

SUURLEMOENTERT MET BEETMERINGUE

Maak 1 medium tert

Bereiding: 20 min

Gaarmaak: 50 min

KORS

60 ml (¼ k) bruinsuiker of versoeter soos ethritinol

250 ml (1 k) hawermout, liggies gerooster indien verkies

80 ml (⅓ k) fyn klapper

60 ml (¼ k) klappermeel

Knippie bakpoeier

Knippie sout

1 eierwit

80– 115 g klapperolie of botter, gesmelt

VULSEL

250 ml (1 k) suiker of helfte versoeter soos ethritinol

4 ekstragroot eiers plus eiergeel van die kors

250 ml (1 k) volroomjogurt

180 ml (¾ k) vars uitgedrukte suurlemoensap

Fyngerasperde skil van 1 suurlemoen

MERINGUE

1 Wildeklawer-beet, ongeskil, gerasper en sap uitgedruk

3 eierwitte, kamertemperatuur

180 ml (¾ k) strooisuiker of heuning

’n knippie kremetart

15 ml (2 e) mielieblom

5 ml (1 t) vanieljegeursel

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n 23-cm losboompan met kossproei.

1 KORS Plaas die suiker, hawermout, klapper en klappermeel saam met die bakpoeier en sout in die bak van ‘n voedselverwerker. Pols tot fyn. Voeg die eierwit by en pols tot deurgemeng. Voeg net genoegsaam gesmelte klapperolie of botter by om ‘n saamdrukbare deeg te vorm.

2 Druk die deeg vas op die bodem en teen die kante van die pan. Verkoel sowat ‘n halfuur lank, prik die bodem liggies en bak dan 10 minute.  

2 Verlaag die temperatuur na 140°C.

3 VULSEL Klits die suiker en versoeter, indien gebruik, eiers, jogurt, suurlemoensap en –skil goed saam. Giet in die voorbereide kors en bak 10 minute. Verlaag die hitte tot 90°C en bak verder tot die vulsel net gestol, maar steeds binne nog effe sag is, sowat 20—30 minute. Verwyder uit die oond en laat afkoel.

4 MERINGUE Plaas die beetsap, eierwitte, suiker of heuning en kremetart in die menger se bak en plaas oor ‘n kastrol met kookwater. Laat dit sowat 5 minute prut terwyl gedurig geroer word en tot die mengsel opgelos en goed warm is.

5 Verwyder van die hitte, plaas bak terug in die menger en klits tot lig en blink. Vou die mielieblom en vanieljegeursel in. Spuit bolletjies meringue bo-op die suurlemoenvulsel en skroei effe met ‘n blaasvlam.

Leave a comment