Kook & kuier bederf, nog ‘n keer

Ek het nou reeds aan die begin van die week vertel van die kokery by ‘n verrassings-verjaarsdag-partytjie en op watter heerlike kuieroggend dit uitgeloop het daar langs die stil waters van die Langebaanmeer.

Om julle nog verder lus te maak, hier is nog twee van die resepte wat ek daar gedemonstreer het: hier het ek in die Afrika-geurbaan sowel as in die Mediterreense geurbaan gespeel.

En soos reeds genoem, as jy ‘n soortgelyke kookervaring soek, skakel my gerus by carmenniehaus@carmientea.co.za

MASALA-KOESKOES

Die lekkerte van hierdie gereg is dat dit goed gelaai is met groente. Ek geniet veral die sagte bessiegeure van die groen rooibostee-slaaisous by hierdie gereg met sy tipiese Afrika-geure. As jy lus het kan jy selfs vars aarbeie saam met die koljanderblare oorsprinkel.

Genoeg vir 6—8 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 15 min

1 sakkie (500 g) botterskorsie- of pampoenblokkies
1 sakkie (500 g) patatblokkies
2 uie, gekap
1 rooi soetrissie, ontkern en in blokkies gesny
60 ml (¼ k) olyfolie
Sowat 15 g geroosterde masala en komyn vir oorsprinkel
1 blik (400 g) kekerertjies, gedreineer
2,5 ml (1/2 t) elk sout, paprika en komyn
250 ml (1 k) Marrokaanse koeskoes, geweek in 500 ml (2 k) chai-rooibostee, gemaak met 4 sakkies Focus van Carmién (kry 10% af op alle Carmién Tea aankope op http://www.carmientea.co.za met die kode carmenniehaus)
Gerasperde skil van 1 suurlemoen
Sowat 180 ml (¾ k) fynbosslaaisous (sien resep onder)
20 g koljanderblare vir bo-oor sprinkel

Voorverhit die oond tot 190°C.
1 Meng die groente met die olyfolie en vryf goed met jou hande deur. Geur met sout, geroosterde masala en komyn en meng lekker deur met jou hande. Skep in ‘n enkellaag in ‘n oondpan en oondbraai sowat 30 minute of tot gaar en effe bros. Skep uit.
2 Pak die kekerertjies in ‘n enkellaag in die Airfryer, sprinkel die sout, paprika en komyn oor asook ‘n bietjie olie. Airfry tot bros, sowat 5 minute.
3 Week die koeskoes in die rooibostee. Plaas in die mikrogolf vir 1 minuut en maak die koeskoes los met ‘n vurk.
4 Voeg die groente en kekerertjies by.
5 Giet die slaaisous oor en laat afkoel.
6 Skep op in ‘n platterige opdienskottel en sprinkel die koljanderblare oor.

FYNBOS-SLAAISOUS

Die slaaisous het sagte bessiegeure. Heerlik.

80 ml (1/3 k) olie
250 ml (1 k) groen rooibostee met forest berries en bietjie boegoe, gemaak met 3 sakkies Carmién Energize (kry 10% af op alle Carmién Tea aankope op http://www.carmientea.co.za met die kode carmenniehaus)
Sap en fyngerasperde skil van ‘n halwe suurlemoen
30—45 ml (2—3e) appelasyn
1,25 ml (1/4 t) seesoutvlokkies
30–45 ml (2—3e) suiker

Meng al die bestanddele saam en giet in ‘n bottel.

GEBAKTE BLOMKOOL MET BROCCOLIPUREE EN KRUIE-VINAIGRETTE

‘n Lieflike verandering op blomkool met witsous – blomkool wat gemarineer is in ‘n tipies Mediterreense sousie.

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 40 min
Baktyd: 40 min

SLAAISOUS & MARINADE
125 ml (1/2 k) kruie soos basilie, pietersielie en tiemie, grof gekap
6 knoffelhuisies, gerasper
125 ml (1/2 k) olyfolie
90 ml (6 e) wyn- of druiwe-asyn
Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
10 ml (2 t) growwe mosterd
10 ml (2 t) Djion-mosterd
5 ml (1 t) paprika
Suiker na smaak
Sout en peper na smaak
5 ml (1 t) uiesaadjies (opsioneel)
BLOMKOOL
1 groot of 2 klein blomkole
olyfolie
BROCCOLIPUREE
400 g broccoli, in stukke gesny
125 ml (1/2 k) elk volroommelk en room
Sout en peper na smaak
AFRONDING
Geroosterde sesamsade of sonneblomsade

1 SLAAISOUS EN MARINADE Meng al die bestanddele vir die slaaisous en marinade in ‘n voedselverwerker en kap fyn tot glad.
Pak die blomkool in ‘n bak en giet helfte daarvan oor. Laat staan 2 uur of oornag.
2 PUREE Plaas die broccolistukke in ‘n kastrol en giet melk en room oor. Geur met sout en peper. Kook tot lekker sag. Puree met ‘n staafmenger tot glad.
3 Verhit die oond tot 200˚C. Plaas die blomkool op ‘n bakplaat en giet olyfolie oor.
Oondbraai tot die blomkool verbruin het en brossag is, sowat 40 min. (ek doen dit sommer in die Airfryer)
4 VOORSIT Skep die blomkoolpuree op ‘n bord of platterige bak. Plaas die blomkool bo-op en giet die res van die marinade oor. Sprinkel die sade oor en rond af met basilieblare

Leave a comment