Kook & kuier bederf

‘n Groepie vriendinne besluit nou die dag om hul hartsvriendin met haar verjaarsdag te bederf met ‘n verrassings-kookklas in haar eie huis, want sy, ‘n kosmaker van formaat, voel sy het nog baie te leer as dit kom by die bymekaarsit van geure. En ek is die gelukkige een wat hierdie kookklas moet gee. Terwyl twee van die vriende die verjaarsdagmaat wegrokkel op ‘n koffie-date, skrop ek en nog ‘n ander maat nes in haar huis. Ek pak bestanddele en apparate uit op skinkborde net reg vir elke dem en tussendeur word die groot hout-etenstafel pragtig gedek in my nuwe Mervyn Gers-eetware (meer hieroor later) saam met my nuwe mosbolletjie-tafeldoek en servette.

Die kombuis is goed toegerus en die kombuis-eiland werk gemaklik met sy mooi Smeg-stoof in die middel, maar ek sukkel so bietjie om te fokus, want vanagter die kombuistoonbank het ek die mooiste uitsig op die Langebaanmeer wat net hier voor klots-klots teen die klipmuurtjie wat die huis van die water skei. Met die naweekgangers fort, is die water stil en seepglad, net ‘n seilbootjie of twee wat langsaam verbyvaar en ‘n paar seevoëls wat knetterend stoei om ‘n stukkie kos.

Uiteindelik arriveer die verjaarsdagnooi en om mee af te skop bedien ek ‘n heerlike fluweelgladde tamatiesop in Mervyn se afoor-koppietjies. Dis ‘n warm wintersoggend en die Carmién Cold Brew-tees, Coco Pine en Cranberry Hibiscus, sorg vir ‘n bietjie lafenis.

Die vriendinne neem hul sitplekke in langs die toonbank, elk gewapen met ‘n stel resepte waarop hul aantekeninge kan maak soos ek aangaan. Dit word ‘n lawwe kuieroggend van lag en gesels en vrae vrae terwyl ek hulle so tussendeur touwys maak in die Mediterreense, Afrika, Oosterse en Maleise geurbane. Hulle snap gou dat solank mens binne die geurbane wat elk sy eie unieke lys van bestanddele, kruie en speserye het bly, mens nie eintlik verkeerd kan gaan as dit by die geur van kos kom nie.

Agterna sit ons aan by die mooi gedekte tafel en smul lekker aan ‘n veelsydige mengelslaai wat as basis kan dien vir ‘n lensieslaai sowel as ‘n kerrie-mayonnaise-hoender (Oosterse en Maleise geurbaan), ‘n Marokkaanse koeskoesslaai met bros kekerertjies (Afrika-geurbaan) en ‘n gebakte blomkool met broccoli-puree en basilie-vinaigrette (Mediterreense geurbaan). Sjokoladetorte saam met ‘n heerlike verskeidenheid Carmién-tees sluit die ete af. Ek kan net sien dat daar in hierdie lieflike kuierhuis nog vele groot kuiers en kookbederwe gaan gebeur.

As jy belangstel in ‘n soortgelyke kookervaring, kontak my gerus by carmenniehaus@carmientea.co.za.

KERRIEHOENDERMAYOSLAAI & PIEKELGEMMER-LENSIESLAAI

‘n Basiese mengelslaai vorm die basis vir ‘n heerlike kerriehoendermayo asook vir ‘n lensieslaai wat met piekelgemmer geur kry. Die hoender sowel as die lensies en slaaisous kan vooraf gemaak word. Dan kan mens net op die dag die slaai saamstel.

Genoeg vir 8-10 mense
Voorbereiding: 15-20 min
Gaarmaak: 30 min

SLAAI
1 Iceberg-slaaikop, in repies gesny en/of 2 sakkies roketblare of selfs 1 pak baba-spinasieblare
½ rooi-ui, in dun skyfies of klein blokkies gesny
½ komkommer, in blokkies of stokkies gesny
1–2 Pink Lady appels, in skyfies of stokkies gesny
½ pynappel, in repies gesny
1 steel seldery, in ringetjies gesny
AFRONDING
Lemoenmosterdslaaisous (sien onder)
Groot handvol elk bosbessies en okkerneute of pekanneute (of selfs gekarameliseerde sonneblosade) vir bo-oor sprinkel
Ekstra koljanderblare

1 Rangskik die blare, rooi ui, komkommer, appels, pynappel en seldery op ‘n bord, berei die lemoen-slaaisous en giet oor.
2 Berei die kerriehoender-mayonnaise (sien rese ponder) of lensies (sien rese ponder) en skep bo-op die mengelslaai.
3 Rond af met die bosbessies, neute en koljanderblare

KERRIEHOENDER-MAYONNAISE

1 kg hoenderborsfilette, in klein blokkies of dun skyfies gesny
Sout en peper
olyfolie
KERRIESOUS
Olie
2 klein uie, gekap
30—45 ml (2 –3 e) geroosterde masala of brejani-masala of matige kerriepoeier
5 ml (1 t) fyn komyn
Sap en skil van 1 suurlemoen
125 ml (½ k) goeie kwaliteit minder-olie mayonnaise (ek gebruik sommer Checkers se Lite-mayonnaise)
125 ml (½ k) romerige natuurlike jogurt
1 groot tros groen of swart druiwe se korrels of selfs ‘n piesang, in skyfies gesny (opioneel)

1 HOENDER Geur die hoender met sout en peper, giet bietjie olie in ‘n pan en roerbraai tot net gaar, skep uit en hou eenkant.
2 KERRIESOUS Vee die pan uit en verhit nog ‘n bietjie olie in ‘n pan en roerbraai die ui daarin tot sag. Voeg die kerriepoeier en komyn by en meng deur. Verwyder van die hitte en roer die mayonnaise en jogurt deur.
3 Voeg by die hoender en roer deur en koel af.
4 Meng die druiwekorrels by die hoender in.
7 Skep die hoendermengsel bo-op die mengelslaai en sprinkel die bosbessies en okkerneute of pekanneute of sonneblomsade bo-oor.
8 Rond af met koljanderblare.
Sit koud voor.

LEMOENMOSTERD-SLAAISOUS

Lewer sowat 180 ml (¾ k) slaaisous

125 ml (½ k) vars uitgedrukte lemoensap of lemoen-rooibostee, gemaak met 3 sakkies Boost van Carmién Tea
Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
30 ml (2 e) olyfolie
2 knoffelhuisies, fyngedruk
15 ml (1 e) korrelmosterd
5 ml (1 t) Dijonmosterd
15 ml (1 e) heuning of suiker
45 ml (3 e) vars gekapte pietersielie, koljanderblare en ment (15 ml elk)
Sout en peper na smaak

1 Meng al die bestanddele saam. Hou in die yskas.

GEMMERLENSIESLAAI

250 ml (1 k) lensies
500 ml (2 k) Carmién Orange Camomile rooibostee (6 sakkies)
sout
1 eiervrug, in klein blokkies gesny
sout
Olie
AFRONDING
Lemoenslaaisous (sien resep)
Piekelgemmer

1 Vervang die hoender en kerriemayo in bogenoemde slaai met lensies. Kook die lensies in rooibostee tot sag. Geur met sout teen die einde. Dreineer en giet dadeik helfte van die slaaisous oor terwyl nog warm.
2 Sout die eiervrug, laat 10 minute staan en spoel af. Druk droog en braai in olie tot lekker bruin.
3 Stel die mengelslaai saam, giet orige slaaisous oor en skep die lensies en eiervrug bo-op.
4 Kap piekelgemmer fyn op en meng bietjie by die lensies in. Rond af met okkerneute en bosbessies en sprinkel nog piekelgemmer oor asook koljanderblare.

BONUS: Kry 10% af op alle Carmién Tea aankope op www.carmientea.co.za met die kode carmenniehaus.

Leave a comment