Weskuslekkertes

Nadat die Kaap vir jare my woonplek was, het ek bykans vergeet watse lekker kosse so eie aan die Weskus is. Buiten vir snoek is dit die heerboontjies en waterblommetjies wat mens sommer in die plaaslike supermarkte raakloop wat my telkens so opgewonde soos ‘n kind in ‘n lekkergoedwinkel maak.

Noudat alles so gemaklik naby en toeganklik is, koop ek nie meer so baie op ‘n slag nie. Want nou is dit nie meer moeite om vinnig in die motor te spring net na uitvaltyd om gou-gou bestanddele te gaan koop vir aandete nie. Gewoonlik het ek darem so ietwat van ‘n gedagte wat ek wil maak, maar baie maal laat ek my ook lei deur watter juwele ek op die winkelrak aantref. Veral die plaaslike Spar verras my soms met kontreigewasse. Daar is gereeld heerboontjies, vars slaai en mini-kruie vanuit die geweste. Laas week was ek verheug om die eerste waterblommetjies raak te loop. Nogals vroeg, maar met die dat ons heelwat reën gekry het die afgelope tyd, hoor ek dat die winterseisoen inderdaad vroeg is vanjaar met die sitrusboere wat alreeds volstoom oes. By die vleisrak spoor ek netjies opgesaagde murgbene op en ek weet in die vrieskas by die huis is daar nog ‘n pak stowevleis of twee. Terwyl ek huis toe ry, water my mond alreeds vir die heerlike waterblommetjiebredie met gebakte murgbene bo-op, wat wag.

Op die plaas was daar altyd waterblommetjies in oormaat beskikbaar en was dit wintertye Sondae altyd op tafel as toekos. My ma het die waterblommetjies heeltemal fyngekook en gepeper met baie suurlemoensap. Ons verkies egter die waterblommetjies steeds aan die heel kant en lekker bros en rasper eerder suurlemoenskil aan die einde oor om die nodige surigheid te verskaf. Maar ek weet ook my suurlemoenvoorraad loop dun. Stowevleis kan mos ‘n tydjie neem om sag te kook en ons wil darem ook nou nie diepdonkeraand eers aansit vir ete nie, so ek beraam toe ‘n plan. In my Franse blou broodblik spoor ek ‘n pak Zesty Lemon-rooibostee van Carmién op. Dis twee vlieë met een klap – rooibostee dien as ‘n sagmaakmiddel vir vleis, so die stowevleis kan vinniger sagkook en terselfdertyd verleen dit al ‘n effense suursmakie sommer daar van die begin van die maak van die bredie af. My kop is deur.

Ten die tyd dat die vleis begin sagkook en die waterblommetjies moet bykom, pak ek die murgbene in die Airfryer, sprinkel bietjie sout oor en braai dit tot die murg deurskynend en blinksag is. Net reg vir bo-op die bredie gaan. Eenvoudig maar egte smulkos so op ‘n weeksaand.

WATERBLOMMETJIEBREDIE MET GEBAKTE MURGBENE

Genoeg vir 4 mense

Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 1 uur

2 uie, fyn gekap
3 knoffelhuisies, fyngerasper (opsioneel)
olie
Sowat 750 g lamstowevleis, in stukke gesaag
Sout en swartgemaalde peper
Sowat 750 ml (3 k) Zesty Lemon-rooibostee van Carmién, gemaak met 6 sakkies of andersins water
750 g waterblommetjies, goed afgespoel
500 g bevrore boontjies (opsioneel)
2—3 vars suurlemoene
6—8 murgbene
Rys vir voorsit

1 Braai die ui en knoffel in ‘n groot pot met ‘n deksel (my LeCreuset-potte is ideaal hiervoor) tot sag.
2 Voeg die vleis by, geur met sout en peper en braai tot lekker bruin buite-om.
3 Voeg ‘n goeie skoot rooibostee by, verlaag die hitte en prut tot die vleis lekker sag is, voeg rooibostee by soos nodig.
4 Plaas die waterblommetjies en boontjies (indien gebruik) bo-op, geur liggies met sout en peper, voeg bietjie rooibostee by indien nodig en prut tot net-net sag, maar nog effe bros.
5 Rasper vars suurlemoenskil oor en sit voor met ekstra skyfies suurlemoen en die gebakte murgbene, saam met rys natuurlik.

Hoe om die murgbene te bak: Plaas die murgbene op die rakkie van die airfryer en sprinkel sout oor. Lugbraai sowat 20 minute tot die murg deurskynend is.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: