Dis Januarie en hittig warm op Citrusdal, veral as die koshuis jou woning gedurende die week is. Maar Januarie is ook piektyd vir waatlemoene en ons het gereeld ‘n waatlemoen saamgekry koshuis toe. So hier teen Woensdag wanneer die plaasproviand in die kosmandjie gedaan was, was dit tyd vir waatlemoen sny. Die hele Van Zyl-clan (ons was baie) het dan afgespreek om mekaar na aandete op die stuk sement agter die koshuis te kry. Daar is die waatlemoen in netjiese ringe of skywe gesny (almal wou alewig die kroon gaps) en ons het gesmul tot ons omlê.
Deesdae word waatlemoen ingespan op vele maniere, vir van peuselkos tot slaai, saam met vis en seekos is dit heerlik en doen ook sy ding as dit by ietsie soets na ete kom.
Lywige skyfies aan stokkies saam met ‘n neutesprinkel sorg vir heerlike peuselkos en ‘n yskoue sop is net te heerlik om aan te teug as die warmte jou lamlê. Net so lekker in slaai, veral feta of selfs bloukaas is die ideale pasmaats daarvoor; deesdae geniet ek dit selfs effe geskroei saam met gebraaide eiervrug waaroor ek dan ‘n romerige slaaisous (amper soos mayonnaise) giet. (Sien later die week nog heerlike waatlemoenresepte).
KOUE WAATLEMOENSOP
‘n Heerlike verfrissende sop waaraan ek daglank kan teug.
Maak sowat 750 ml
Bereiding: 15 min
Halwe waatlemoen, geskil, ontpit en in stukke gesny (sowat 750 ml/3k)
Halwe komkommer, saadjies uitgeskep en in stukke gesny
1 geel soetrissie, in stukke gesny
60 ml (1/4 k) basilieblare
2 takkies ment
30 ml (2 e) heuning
60 ml (1/4 k) geroomde maaskaas
30 ml (2 e) wit balsamieke of appelasyn
Sout en varsgemaalde swartpeper
feta-kaas vir bo-op sprinkel
basilieblaartjies vir afronding
1 Plaas die spanspek, komkommer, soetrissie en kruie in die voedselverwerker en verwerk tot fyn.
2 Voeg die heuning, maaskaas en asyn by en verwerk tot glad. Geur met sout en peper.
3 GIet in glasies en sprinkel die feta-kaas bo-op. Rond af met basilieblaartjies.
WAATLEMOENWIGGIES MET OKKERNEUTSPRINKEL
Maak sowat 16 happies
Bereiding: 15 min
Doop die wiggies waatlemoen in hierdie geurige sprinkel wat baie aan doekah laat dink. Lieflik om aan te peusel.
OKKERNEUTSTROOISEL
125 ml (1/2 k) okkerneute of selfs grondbone, grof gekap
125 ml (1/2 k) geelsuiker
30 ml (2 e) geroosterde sesamsaad
15 ml (1 e) seesoutvlokkies (nie fyn sout nie)
5 ml (1 t) fyn komyn
5 ml (1 t) fyn gemmer of helfte daarvan kaneel
5 ml (1 t) fyn koljander
HAPPIES
2 dik skywe waatlemoen, in wiggies gesny met skil en al
AFRONDING
Paar langsteel-kappertjiesade en groen olywe (opsioneel)
Olyfolie
1 STROOISEL Meng al die bestanddele en skep in ‘n bakkie
2 HAPPIES Steek ‘n houtsosatiepen deur elk van die waatlemoenwiggies en stapel op ‘n bord.
3 AFRONDING Meng die kappertjiesade en olywe met bietjie olyfolie en skep in ‘n bakkie.
4 Geniet die waatlemoenskyfies met ‘n sprinkel okkerneutsprinkel en ‘n skeppie olyfmengsel bo-op geskep.
WAATLEMOEN-EN-GORGONZOLA SLAAI
Waatlemoen is heerlik saam met enige kaas, maar ek geniet veral ‘n sagte bloukaas daarby.
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 15 min
MOSTERD-VINAIGRETTE
10 ml (2 t) Dijonmosterd
30 ml (2 e) heuning
Sout en varsgemaalde swartpeper
45 m (3 e) druiwe-asyn
45 ml (3 e) appelasyn
60-80 ml (1/4-1/3 k) olyfolie
SLAAI
Verskeidenheid groen slaaiblare of jong spinasieblare
125 g waatlemoen, in klein blokkies gesny
swartpeper
60 g Gorgonzola (bloukaas), in stukkies gebreek
1 VINAIGRETTE Meng al die bestanddele goed met ‘n draadklitser.
2 Rangskik die blare op ‘n dienbord.
3 Geur die waatlemoen goed met peper om die geur uit te bring. Stapel bo-op die slaaiblare en sprinkel die kaas bo-oor.
4 Giet van die slaaisous oor en sit voor met die res van die slaaisous.
WAATLEMOEN-EN-EIERVRUGSLAAI MET ROMERIGE SLAAISOUS
Gebraaide eiervrug waarby ‘n sprinkel komynsaad gevoeg is, smaak heerlik met skywe geskroeide waatlemoen.
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 20 min
SLAAI
4 eiervrugte of so 10 baba-eiervruggies, in die lengte in skywe gesny
sout
olyfolie
5 ml (1 t) komynsaad (nie fyn komyn)
4 knoffelhuisies, fyngedruk
3 dunnerige skywe waatlemoen, geskil en in wiggies gesny
4 murgpampoentjies, met ‘n aartappelskiller in linte gesny
60 ml (1/4 k) pistasie- of amandels, fyn gekap
60 ml (1/4 k) bosbessies
Hand vol basilieblare
pecorinokaafsels vir bo-oor
ROMERIGE SLAAISOUS
2 eiergele
30 ml (2 e) appelasyn
1 knoffelhuisie, fyngedruk
10 ml (2 t) Dijonmosterd
5 ml (1 t) Worcestershiresous
45 ml (3 e) gerasperde pecorino-kaas
Sout en peper na smaak
60 ml (1/4 k) olyfolie
1 SLAAI Besprinkel die eiervrug met sout en laat staan so 15 minute. Spoel af en druk droog met handdoekpapier. Verhit bietjie olie in ‘n braaipan en braai die eiervrugskywe daarin saam met die knoffel en komyn tot bruin en sag, maar nie droog nie. Skep uit.
2 Rooster die waatlemoenskywe in ‘n verhitte gietysterpan tot effe geskroei aan beide kante.
3 Pak die waatlemoenwiggies en eiervrug op ‘n dienbord en stapel die murgpampoentjie-linte bo-op.
4 Sprinkel die res van die slaaibestanddele oor. Rond af met pecorinoskaafsels en sit voor met die slaaisous.
5 SLAAISOUS Plaas al die bestanddele buiten die olyfolie in ‘n lang dun beker waarin ‘n stokmenger sal pas. Skakel die stokmenger aan en giet die olie in ‘n dun straaltjie by terwyl jy aanhou meng tot ‘n dik sous gevorm het. Geur weer met sout en peper na smaak. Skep in ‘n bekertjie en sit voor saam met die slaai.