Ons het die afgelope week of wat ‘n paar hittige somersdae beleef – heerlik vir die laaste uitspan by die see voor almal die jaar met nuwe ywer pak. Dit het ons ook goed voorberei vir die bloedige warm dae wat nog voorlê. As dit so warm is buite, is geen mens lus vir warm kos of allermins lang ure in die kombuis spandeer nie. So koel slaaie wat verfrissend en vars, maar tog vullend is, is die oplossing en raak my “go to” etes.
Dis dan wat ek hierdie lieflike mengelslaai, wat nie net blare en komkommer met tamaties is nie, naderskraap. Buiten vir ‘n verskeidenheid vrugte soos pynappel, druiwe en appels, kan jy ook gebraaide eiervrug insit. Die lemoenslaaisous is heerlik vars hierby terwyl neute ‘n lekker brosheid daaraan verskaf met die kersie op die koek, piekelgemmer waarmee jy dit afrond.
Die slaai is ook baie veelsydig – vir ‘n ligte ete kan jy romerige kerriehoender (sien die variasie) bysit of selfs hoenderschnitzel maak en dit byvoeg. Die slaai met die kerriehoender het ons voorgesit by ‘n vrouedag by die NG-Kerk Saldanha en almal het gesmul en hul regmerkie daarvoor gegee.
Slaai was mos nog maar altyd my ding, so hierdie resep asook vele ander heerlike slaairesepte soos ‘n anderste aartappelslaai met kappertjiesade, boneslaai met piekeluie en kekerertjies, Midde-Oosterse blomkool-en-broccoli-piekelslaai, vierboneslaai met ‘n rooibosslaaisous, bulgurslaai met tuna, ‘n reënboog-quinoaslaai en ‘n eierslaai met die lekkerste suursous, vorm almal deel van my nuutste boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid. Die boek is te kry by vooraanstaande boekwinkels soos Exclusive Books en Bargain Books asook in Checkers en aanlyn by Lapa en op die Carmién-webtuiste.
VEELSYDIGE MENGELSLAAI
Gebraaide eiervrug maak hierdie mengelslaai heerlik anders, maar dis veral die piekelgemmer wat laaste bo-op wat die mengelslaai verhef bo die gewone. Die mengelslaai vorm ook ‘n lekker basis vir ‘n ligte ete met romerige kerriehoender wat jy bo-op kan skep. Jy kan selfs hoenderschnitzel in repies sny en dit bo-op die slaai stapel. Heerlike koel kos vir die hitte somersdae.
Genoeg vir 8-10 mense
Voorbereiding: 15—20 min
Gaarmaak: 30 min
EIERVRUG
1-2 eiervrugte, in blokkies gesny
fyn sout
olyfolie
balsamieke asyn
MENGELSLAAI
1 groot tros groen of swart druiwe se korrels of selfs ‘n piesang, in skyfies gesny
1 Iceberg-slaaikop, in repies gesny en/of 2 sakkies roketblare of selfs 1 pak baba-spinasieblare
½ rooi-ui, in klein blokkies gesny
½ komkommer, in blokkies of stokkies gesny
1–2 Pink Lady appels, in skyfies of stokkies gesny
½ pynappel, in blokkies gesny
1 steel seldery, in ringetjies gesny
AFRONDING
Lemoenmosterdslaaisous (sien onder)
Groot blok feta
80 ml (⅓ k) piekelgemmer, fyn gekap
Groot handvol elk bosbessies en okkerneute of pekanneute vir bo-oor sprinkel
Ekstra koljanderblare
1 EIERVRUG Besprinkel die eiervrug met sout en laat staan vir 10 minute (dit help dat die eiervrug nie so baie olie opsuig as jy dit braai nie). Spoel goed af. Verhit bietjie olie in ‘n pan en braai die eiervrug daarin tot effe bruin en sag, sprinkel ‘n spatsel balsamieke asyn oor.
2 MENGSELSLAAI As jy die kerriehoenderslaai gaan maak, meng die druiwekorrels of piesangskyfies by die hoendermengsel in, andersins voeg by die res van die mengelslaai. Pak die blare op ‘n bord en rangskik die gebraaide eiervrug, druiwekorels of piesang, rooi ui, komkommer, appels, pynappel en seldery bo-op.
3 Berei die lemoen-slaaisous soos bekryf en giet oor.
4 Sprinkel die feta-kaas oor en stapel die piekelgemmer bo-op. Rond af met die bosbessies en neute asook koljanderblare.
LEMOENMOSTERD-SLAAISOUS
Lewer sowat 180 ml (¾ k) slaaisous
125 ml (½ k) lemoensap
Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
30 ml (2 e) olyfolie
2 knoffelhuisies, fyngedruk
15 ml (1 e) korrelmosterd
5 ml (1 t) Dijonmosterd
15 ml (1 e) heuning
45 ml (3 e) vars gekapte pietersielie, koljanderblare en ment (15 ml elk)
Sout en peper na smaak
1 Meng al die bestanddele saam. Hou in die yskas.
ROMERIGE KERRIEHOENDER
Maak hierdie romerige kerriehoender en stapel bo-op die mengelslaai, die gebraaide eiervrug en feta-kaas en selfs die piekelgemmer kan dan uitgelaat word.
1 kg hoenderborsfilette
Sout en peper of Carmen Niehaus-masala rooibossout
olyfolie
KERRIESOUS
Olie
2 klein uie, gekap
30—45 ml (2 –3 e) geroosterde masala of matige kerriepoeier (Ina Paarman of Cape Herb & Spice)
5 ml (1 t) fyn komyn
Sap en skil van 1 suurlemoen
125 ml (½ k) goeie kwaliteit minder-olie mayonnaise (ek gebruik sommer Checkers se Lite-mayonnaise)
125 ml (½ k) romerige natuurlike jogurt
Voorverhit die oond tot 180°C.
1 HOENDER Geur die hoender met sout en peper, pak in ‘n enkellaag in ‘n oondbak, giet die olie oor en oondbraai tot net gaar en sag, sowat 30 min. (ek doen dit sommer deesdae in die Airfryer, sowat 15—20 min). Sny of breek in stukke.
2 KERRIESOUS Verhit bietjie olie in ‘n pan en roerbraai die ui daarin tot sag. Voeg die kerriepoeier en komyn by en meng deur. Verwyder van die hitte en roer die mayonnaise en jogurt deur.
3 Voeg by die hoender en roer deur en koel af.
4 Meng die druiwekorrels by die hoender in.
5 Skep die hoendermengsel bo-op die bereide mengelslaai wat jy alreeds met slaaisous bedruip het en sprinkel die bosbessies en okkerneute of pekanneute bo-oor.
8 Rond af met piekelgemmer indien verkies en die koljanderblare. Sit koud voor.
Wenk: Die kerriehoender asook die slaaisous kan vooraf gemaak word. Dan kan mens net op die dag die slaai saamstel.