Ek is superopgewonde oor die Hausware-reeks wat ek saam met Swier, die lap-koningin van Moorreesburg, bymekaar gesit het en wat wissel van tafeldoeke, in verskeie groottes, tafellopers, pragtige kussings, oorgroot teedoeke, voorskote en selfs glasplanke en glasstoof-spatplanke. Wat my die meeste opgewonde maak en baie na aan die hart lê is die spesiale ontwerpe wat ek saam met hulle gestileer het en wat hul fotograaf, Daniela Louw so pragtig afgeneem het.
Op ‘n bloedig warm dag in die laatsomer het ons begin speel met breekgoed, messegoed en emaljegoed uit my huis wat ek oor jare as stilis bymekaar gemaak het. Daarby saam kleurvolle vars goed om die mooi van seisoene uit te beeld. Daardie ontwerpe is nie net gewoon mooi nie, maar ook baie spesiaal vir my en bring baie lekker onthoue terug. Jy kan amper sê “Carmen in portret”. Daarom het ek elk van die ontwerpe ‘n spesiale naam gegee: Sitrusdal vir die sitrusvrugte met die pragtigste vars kleure; Bergendal vir die een met perskes en Plaasvars vir die mooi eierontwerp – alles om my afkoms te gedenk. Dan is daar Nostalgie vir die prent met die ou boeke en silwergoed; Erfgoed vir die ou dienbord van Renate Coetzee en die messegoed uit my skoonma se huis; Ouma Suzie vir die een met die gerysde brooddeeg en spesiale kalenderlappie uit haar huis; Nagmaal vir die silwerkraffie met druiwe en Sjiek enamel vir die een met my spesiale versameling emaljeware saam met die sagte blomme.
Ek het egter nie net gepoog om dit pragtig en mooi te maak nie – dit moet prakties en veelsydig ook wees.
Die oorgroot teedoeke is geskik om van servet (hulle staan tog te mooi op ‘n bord) tot plekmatjie gebruik te word, selfs om breekware in toe te draai as jy dek. Maar jy kan ook jou brood daarin toevou of dit gebruik as vatlap om jou warm skottels mee vas te vat, selfs as vadoek, want die materiaal absorbeer goed vloeistof.
Die tafeldoeke weer se materiaal is supersterk en van so ‘n aard dat dit nie maklik vuiligheid gaan aantrek of kreukel nie. Dis ook ideaal is vir buite dek, want dit gaan nie gou uitbleik met jou ontwerpe wat in die niet verdwyn nie. Dit behou dus vir lank hul glans en mooi.
Die voorskote is van ‘n materiaal wat maklik skoon afvee, en wys nie gou vuil, so jy kan maar jou hande daaraan afsmeer sonder om die ontwerp te beskadig. Dit was ook goed. ‘n Ander groot lekkerte is die spesiale “plastieksakkie” wat daarop aangebring is waarin jy jou selfoon kan bêre en gemaklik naby jouk an hou sonder dat dit vuil of beskadig word. (Hopelik is die soektog na my selfoon wanneer ek besig raak nou iets van die verlede).
En dan is daar die glaskapplanke – supersterk en jy gaan hulle nie sommer gou gebreek kry nie – ideaal om op te sny, maar net so lekker om te gebruik as voorsitplank – ek pak van broodborde, pizzas en happies daarop uit of gebruik dit as skinkbord vir ontbyt of koffie en tee. Die gebruike is eindeloos.
Die stoofspatplanke is soortgelyk aan die kapplanke, maar groter om agter jou stoof te pas en jou kombuis ‘n ektra hupstoot in mooi te gee!
Gaan loer op Swier se webblad www.swier.co.za om te bestel; dis ook beskikbaar by verskeie winkels landwyd.
Van 8—11 September is ons ook by die Moorreesburgskou, so kom maak ‘n draai by die Swier-stalletjie en vanaf 17 Oktober tot 5 November 2022 by Stellenberg-kersmark.
Vir verdere navrae skakel: 083 409 6788