Dis vir my lekker om my te omring met mense wat ‘n verskil maak en wat nie skroom om skouer aan die wiel te sit nie. Augustusmaand is vrouemaand en daarom is dit vir my goed om dan spesifiek te fokus op vroue wat hul kleim afgesteek het en wat vir my as inspirasie dien. En ek hoef nie eens ver te gaan soek nie, my inspirasie is baie na aan my en onlosmaaklik deel van my. My tweelingsus, Mientjie Mouton, is die CEO van Carmién Tea, die formididabele rooibos-maatskappy wat in net oor die 20 jaar se tyd gegroei het van ‘n amperese “one man brand” tot die internasionaal erkende handelsmerk wat nie net in Suid-Afrika stem dikmaak nie, maar ook in talle oorsese lande aansien geniet. Van ons twee het Mientjie beslis die besigheidsbrein, sekerlik aangespoor deur die vele stoepkuierpraatjies tussen my pa en sy broers wat sy so graag kleintyd sit en beluister het.
En toe die rooibosteebedryf dereguleer in die laat 1990’s het sy besluit om ‘n eie handelsmerk staan te maak. ‘n Maklike paadjie was dit gewis nie, maar tipies haar Van Zyl-gene was daar van moed opgee en tou opgooi net nooit sprake nie en bereid te wees om alles te doen, al beteken dit ook vloere vee. Van die begin af wou Mientjie Carmién ‘n internasionale handelsmerk maak en sy het nie geskroom om vrou alleen op die vliegtuig te klim om internasionale kopers te gaan soek of vele kere aan die deure van plaaslike supermarkte te klop nie. Sy het geweet om enigsins te oorleef in ‘n baie mededingende mark moes Carmien hulself onderskei… en dit het sy begin doen deur Carmién as ‘n premieproduk te posisioneer en internasionale sertifiserings te verkry.
Vir my persoonlik is dit egter die spesiale rooibos-vermengings wat met die jare gekom het, wat die grootste onderskeiding en uniekheid gebring het – nie net rooi rooibos nie, maar ook groen rooibos wat met verskillende natuurlike aktiewe bestanddele gemeng word wat nie net sorg vir verskillende geurprofiele nie maar ook funskioneel ‘n verskil maak. ‘n Koppie rooibos om nie net saam met kos te geniet nie, maar wat net so goed werk om kos mee te berei – daarom dat dit vir my so lekker is om die talle nuwe Carmién-tees op vele maniere in my geregte te gebruik want dit verleen so ‘n sagte geur aan kos, baie keer ook met unieke smake wat mens nie gewoonweg kan bewerkstellig nie. Deesdae is daar so baie soorte om van te kies – buiten die verskillende geure is daar ook die blomtee-reeks, gemaak met gedroogde blommetjies en vrugte wat in piramiedsakkies verpak word, nog ‘n nuutjie van Carmién of die cold brew-reeks waar jy die teesakkies sommer in koue water brou en dan is daar ook nog Carmién se pryswenners jenewers. Aan nuwe produkte is daar net geen einde niet, hulle is beslis aan die voorpunt as dit kom by die interpretasie van nuwe neigings op die teefront. Nog iets unieks wat hul begin het was die kos, tee en wyn “pairings” waar tee as deel van die ete aan tafel geniet word, nie net as paletskoonmaker dien nie, maar bring ook die smaak van die kos en die wyn na vore en dan natuurlik ook om te help met hidrasie.
Die “one man brand” het gegroei tot ‘n goed georganiseerde maatskappy met ‘n uitgebreide personeelkorps en soos terg Mientjie sê, wat tesame met hul lojale kliënte, vir haar ‘n groot inspirasie is en haar lewe ontsettend verryk. Syself is seker een van Carmién se grootste ambassadeurs en drink daagliks koppies vol daarvan – Creamy Mint en Revive met brandrissie en gemmer haar voorkeurtees. Sy is ‘n toonbeeld van hoe om ‘n gesonde lewenstyl na te streef; oefening is deel van haar daaglikse bestaan met haar springtou haar beste metgesel, selfs op oorsese reise. Gedrewe, selfgedissiplineerd leef, haar God haar grootste anker en gesonde familiewaardes ononderhandelbaar – dis hoekom ek haar salueer as ‘n vrou met mannemoed. Kom ons klink saam met haar ‘n glasie jenewer, gemaak met ‘n sakkie Carmién-rooibos, baie soda water en min tonic water.
Ek salueer haar. Carmién is ‘n ou bekende in ons huis.
LikeLike