‘n Swaarder weergawe van desjare se tipsytert en ‘n goeie voorbeeld van waar mens deur die byvoeging van dadels die suiker in gebak kan verminder. Pleks van die gebruiklike suikerstropie oor kry dit ‘n maaskaasversiersel – dan hoef jy dit nie met room voor te sit nie. Hierdie is ook ‘n lekker lusmaker, want ek het nou net klaar geskiet aan ‘n splinternuwe resepteboek wat teen die einde van die jaar vrygestel word. Daarin gaan jy nog resepte vir van piesang- tot gemmerbrood kry wat op slim maniere met minder suiker berei word.
Maak 1 teebrood
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 50 min
BROOD
250 g dadels, gekap
50 g botter
160 ml (⅔ k) bruinsuiker
250 ml (1 k) sterk rooibostee of water
5 ml (1 t) koeksoda
2 eiers, geklits
500 ml (2 k) koekmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
5 ml (1 t) fyn gemmer
5 ml (1 t) fyn kaneel
Knippie sout
100 g okkerneute, gekap
VERSIERSEL
230 g roomkaas
30 ml (2 e) heuning
Koekheuning en vrugte (bv. heel vye ) of gedroogde appelskyfies vir bo-op
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n medium broodpan.
1 BROOD Plaas die dadels, botter, suiker, tee of water en koeksoda in ‘n kastrol en kook 5 minute saam. Koel af.
2 Voeg die eiers by en sif die droë bestanddele oor. Voeg die neute by en meng liggies.
3 Skep in die voorbereide pan, maak gelyk en bak 50 minute of tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die brood kom.
4 Laat effe afkoel in die pan, keer uit en laat heeltemal afkoel.
5 VERSIEREL Meng die roomkaas en heuning en skep oor die brood. Versier met koekheuning en vars vye of gedroogde appelskyfies.