Suiker se onderrok hang lelik uit, en die slegte reputasie is nie onverdiend nie, want die vernietigende effek van ‘n langdurige oormatige inname daarvan raak net al hoe meer: nie net is dit verslawend nie, maar beïnvloed jou geheue en breinfunksie en ‘trigger” inflammasie; dit kan tandbederf en tandvleissiektes veroorsaak en selfs jou oë aantas (bv. tydelike wasige sig). Suiker, veral fruktose in gaskoeldrank en lekkergoed is skadelik vir die lewer en vel. Dit kan ook die niere en hart beskadig en die balans van die goeie bakterieë in ons spysverteringskanaal versteur asook gewigstoename veroorsaak. Wanneer jy gereeld ‘n oormaat suiker inneem, kan dit begin veroorsaak dat jou liggaam nie behoorlik op insulien reageer nie en die pankreas nog meer insulien vervaardig. Dit kan lei tot diabetes.
Dis egter nie suiker opsigself wat gif is nie. Glukose (die mees eenvoudigste vorm van suiker) is jou brein se hoofbron van energie en is noodsaaklik om optimaal te funksioneer. Mens moet egter onthou dat jy suikers uit ‘n klomp ander natuurlike kosse kan kry: alle koolhidrate (bv wat in graanprodukte, styselbevattende groente, vrugte en peulgroente voorkom) word in suikers afgebreek en kan jou liggaam van glukose voorsien. Dis dus selde nodig (behalwe tydens intense oefening) om enige bygevoegde suiker in te neem vir energie, Dis juis hierdie bygevoegde suikers wat die groot sondebok is. Hierdie suikers is buiten vir in tafelsuiker, ook verskuil in veral gaskoeldranke, energiedrankies, selfs vrugtesap, lekkernye en ander versnaperinge.
Suiker-inhoud in vrugte
Baie vrae het ook afgelope tyd ontstaan oor of die suikerinhoud van veral vrugte sleg is vir ‘n mens. Fruktose is die suiker in vrugte en party groentesoorte. Die fruktose in heel vrugte en groente word stadig afgebreek omdat dit heelwat water en vesel bevat en ook lank neem om te kou, daarom gaan dit nie veel skommeling op bloedglukosevlakke hê nie. Die fruktose-inhoud verskil egter tussen vrugte, so mens moet steeds verstandige keuses maak en porsies beheer. Die groot bohaai oor fruktose wat die lewer kan beskadig gaan egter oor hoëfruktrose-mieliestroop oftewel HFCS, wat baie in verwerkte kosse gebruik word. As fruktose tot HFCS verfyn word, verloor dit die vesel en voedingstowwe wat jou liggaam help om die fruktose goed te verwerk. As mens te veel daarvan inneem deur veral verfynde kosse te eet, kan dit lei tot insulien weerstandigheid wat gepaard gaan met die opbou van vet in die lewer.
Met bogenoemde in aggenome het ek begin om bygevoegde suiker in veral soetigheid en gebak so min as moontlik te maak en dit grotendeels te vervang met natuurlike soetmakers soos vrugte, veral appels en dadels asook groente soos patat wat ook baie vesel bevat. Deur met baie speserye en kruie te kook, verlaag jy ook die lus na soetigheid.
Al is dadels van die vrugte wat die swaarste gelaai is met suiker – 12 dadels bevat altesaam 15 1/2 teelepels suiker- het dit ‘n lae glukemiese indeks en is gepak met voedingstowwe, anti-oksidante en vesel. Saam met die gebruik van ander bestanddele soos sade, neute en klapper verminder die hoë veselinhoud die uitwerking van die suiker op die bloedglukose. Sien later die week my resep vir ‘n heerlike dadelbrood.