Ek hou van vars goed, veral vrugte maar ook groente en voel sommer omgekrap as ek vir ‘n dag of wat nie my kwota groente of vrugte ingekry het nie. Dis die natuurlike soetigheid, brosheid en varsheid wat vir my lekker is en ek voel nooit ongemaklik geëet, al vergryp ek my soms daaraan nie.
Die aanbevole hoeveelheid groente en vrugte is ‘n verskeidenheid van vyf porsies groente en vrugte per dag (ongeveer 400g in totaal). Dit mag baie klink, maar met slim beplanning kan jy dit inwerk by jou gewone geregte soos in bredies, deur maalvleis geregte daarmee te rek, in slaai of sop. Jy kan gerus bevrore groente koop, hul voedingswaarde vergelyk goed met die van vars groente. Sommige bevrore produkte se voedingswaarde is selfs beter omdat daar beter beheer oor vervoer en berging is. Bevrore groente is ook soms goedkoper as vars alternatiewe, veral as jy dink vars groente gaan bederf.
Groente en vrugte bevat baie voordelige voedingstowwe, soos veral vitamiene, minerale en antioksidante, wat ons gesondheid bevorder en imuunstesel opbou en sodoende beskerming bied teen siekte soos verkoues, asook diabetes, hartsiektes en sekere kankers. Groente en vrugte bevat min vet en is meestal laag in kilojoules/kaloriee, so dit kan ook help dat jy ‘n gesonde gewig handhaaf.
Groente en vrugte bestaan meerendeels uit koolhidrate, wat wissel van soort tot soort. Groentes soos spinasie en brokkoli bevat min koolhidrate teenoor tipiese styselbevattende groente soos aartappel en patat. Groente en vrugte se groot pluspunt is dat dit buiten water ook veral vesel bevat. Die vesel, help om die omskakeling van koolhidrate tot suiker te vertraag en keer daardeur dat die bloedglukose vlakke skielik die hoogte inskiet.
- Botterskorsie is anti-inflammatories, hoogs alkalies, help om cholesterol te verlaag, bevat baie vitamien C en die koolhidrate wat dit bevat word stadig verteer en het dus meer gereguleerde bloedglukose vlakke tot gevolg.
- Sitrusvrugte is nie net gelaai met vitamien C nie, hulle het ook ‘n alkaliese uitwerking op liggaam al is hulle opsigself suur.
- Brokkoli is alkalies, ‘n natuurlike antibiotika en ryk aan kalsium en vesel.
- Bloubessies bevat baie antioksidante en word as ‘n superkos beskou.
- Groenbone bevat baie vesel en is gelaai met vitamien C, help om been digtheid te bevorder.
- Uie is ‘n natuurlike antibiotika en anti-septies, help om die bloed te suiwer, bloedglukosevlakke te reguleer en help die liggaam veg teen kanker en hartsiektes.
- Pynappel is anti-inflammatories en help veral om inflammasie in gewrigte en spiere te voorkom, verder bou dit die immuunstelsel op en verbeter bloedsirkulasie.
- Tamaties help om inflammasie te verlaag, verbeter beengesondheid en gee die immuunstelsel ‘n hupstoot.
- Spinasie is anti-inflammatories, hoog in vesel, antioksidante en yster (eet sitrusvrugte daarby vir beter absorpsie) en help met brein- en senuweestelsel funksies.
- Patat bevat baie vesel wat dermkanaalfunksie aanhelp en ook help om bloedsuikervlakkte te reguleer. Daarby is dit anti-inflammatories en versterk die immuniteit.