Mossels op sy lekkerste

Ek was nog altyd lief vir mossels, veral ‘n dik geurige mossel-chowder gemaak met vars mossels, is ‘n gunsteling van my. Nou se dae hoef mens glad nie meer te kla dat jy nie vars mossels in die hande kan kry nie. Hulle word nou op mosselplase teen die Weskus en by Knysna gekweek en is op die groen SASSI-lys. Mooi skoon en jy hoef nie te kommer oor sand nie. Die prys is ook glad nie sleg nie. Bevrore gaar mossels, steeds in hul skulp, is selfs in supermarkte te kry. Die afgelope tyd het ek ‘n paar keer melding gemaak van kollageen en dat mens genoegsaam daarvan moet inkry, veral soos mens ouer word. Omdat mense meerendeels dink hulle moet ‘n smoothie aanmekaarslaan om kollageenpoeier by te werk, is dit iets wat baie maklik tydens die koue wintermaande vergete kan bly, want wie wil nou in ysige koue aan ‘n koue smoothie teug. Moenie kommer nie, soppe is ideaal om ook bietjie kollageen in te werk. Hierdie chowder is ideaal – ek gebruik graag Carmién Tea se groen rooibospoeiers met kollageen en klapper by.– nie net verleen dit ekstra goedheid nie, die geurprofiele vul mekaar soomloos aan. Die ander groot pluspunt is dat dit regtig binne minute gereed is. Sit dit voor as ‘n voorgereg of geniet as ligte ete saam met ‘n varsgebakte brood of saam met platbrood

Thaise mosselsop

Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 10 min
Gaarmaak: sowat 7 min

200 g uie, gekap
3 knoffelhuisies, fyngekap
Olie
1 blik (400 g) ligte klappermelk
1 blik (400 g) gekapte tamaties
45 ml (3 e) Carmién groen rooibospoeier met kollageen en klapper
Groot handvol vars koljanderblare
5 ml (1 t) bruinsuiker
Sout en peper
1 kg bevrore gaar mossels in skulp
Sap van 2 lemmetjies
Koljanderblare vir afronding

1 Braai die ui en knoffel in ‘n pot tot sag.
2 Meng die klappermelk en tamaties saam in ‘n bak en voeg by die gebraaide uie.
3 Sprinkel die groen rooibospoeier oor en meng in. Sprinkel die gekapte koljanderblare oor.
4 Geur met lemmetjiesap, sout en peper na smaak en ‘n knippie suiker.
5 Voeg die mossels by, bedek die pot en bring tot kookpunt. Laat prut, sowat 5 minute of tot die chowder lekker warm is.
6 Sprinkel vars koljanderblare oor en sit voor met brood.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: