Menige dag wend ek my tot ‘n roerbraai as ek vinnig iets te ete wil berei wat ook voedsaam is. En dis dan wanneer my reeks Carmen Niehaus-rooibosslaaisouse so handig te pas kom. Want ja, hulle is nie net geskik vir oor slaai nie, dit kan net so lekker in roerbraaie gebruik word. Veral die Carmen Niehaus-Fynbos-slaaisous met sy tikkie boegoe in, is heerlik in hierdie hoenderroerbraai. (Gebruik die Zesty Fennel een met sy vinkelgeure as jy ‘n varkroerbraai maak). As jy tyd het, laat lê die hoenderfilette vooraf ‘n bietjie in die slaaisous om te marineer. Dis ook nie nodig om ekstra olie in die pan te gooi om die roerbraai in te doen nie, sprinkel net van die begin af van die slaaisous oor. Die groente kan jy varieer soos wat jy beskikbaar het. Maak die groente ook net skrik in die pan sodat dit lekker bros kan bly. Ek hou veral van bietjie neute oor die roerbraai gesprinkel – kasjoe- of grondbone is lekker.
Die Carmen Niehaus-slaaisouse en soute is beskikbaar op die Carmién Tee-webtuiste asook by verskeie plaasstalle en deli’s in die Wes-Kaap.
4 hoenderborsfilette, in repies gesny
1 bottel (250 ml) Carmen Niehaus Fynbos-rooibos slaaisous
Carmen Niehaus Fynbos sout
GROENTE
1 ui, gekap
4 knoffelhuisies, fyngedruk
1 rooi brandrissie, in stukkies gesny (opsioneel)
Halwe rooi of wit kopkool, in dun repies gesny
2 wortels, in julienne-repies gesny
1 rooi of groen soetrissie, in repies gesny
Paar sampioene, in skyfies gesny
Kwart kop blomkool of broccoli, in blommetjies gebreek
3 stingeluie, in stukkies gesny
eiernoedels vir voorsit
gekapte kasjoeneute of grondbone vir bo-oor sprinkel
1 Plaas die hoenderrepies in ‘n bak en giet helfte van die bottel slaaisous oor. Laat staan terwyl jy die groente gereed kry en solank ook die noedels vinnig kook.
2 Geur die hoenderrepies met die Carmen Niehaus Fynbos sout.
3 Verhit ‘n kleefvrye pan tot goed warm en braai die hoenderrepies in stukke daarin tot gaar, voeg van die slaaisous waarin die hoender gemarineer was terwyl jy braai. Skep uit, behou die slaaisous in die pan.
4 Voeg die ui, knoffel en brandrissie in die pan en roerbraai effe. Voeg dan die groente by en roerbraai vinnig tot nog baie bros. Giet die res van die slaaisous oor.
5 Voeg teen die einde die eiernoedels by en meng deur, verhit tot warm, geur met nog sout soos nodig.
6 Skep in bakkies en sprinkel die neute oor.