Verleidelike modderkoek

Jare terug bederf my groot kosvriend vanuit die Kalahari, Niël Stemmet, my met die lekkerste klam modderkoek toe ek vir die soveelste keer die tog Kalahari toe aanpak om saam met hom die mooi van daardie wonderskone wêreld te gaan verken. Hy kon dit ook so mooi in sy eiesoortige Kalahari-Afrikaans verwoord. En toe kom eis COVID ook hier sy tol. Telkens as ek so deur my vele kosboeke blaai, kom ek op klein verrassings en kleinodes af wat my opnuut aan hom herinner.

Hierdie koek is basies op daardie Kalahari-modderkoek geskoei, maar deesdae roer ek ook ‘n bietjie rooibospoeier van Carmién, wat met kollageen verryk is, daarby in. Die rooibos en tikkie kaneel verskaf nie net ‘n wonderlike ekstra lekkerte aan die koek nie, maar daarmee saam kry mens sommer ‘n goeie skoot goedheid saam met die lekkerte in. (Gaan lees ook weer die stukkie wat ek ‘n tydjie gelede oor kollageen geskryf het). Hierdie rooibospoeiers werk soos ‘n bom vir my, want vleis en ek is nie die grootste pelle nie en nou dat mens begin ouer word, besef jy opnuut die waarde van kollageen. Ek oefen ook deesdae nogals intens en dan wil jy nie onnodig sukkel met gewrigte en knieë wat nie wil saamwerk nie.

Die goedheid van hierdie rooibospoeiers is egter nie net beperk om by somerse smoothies te voeg nie, daar is vele maniere hoe jy dit in wintergeregte ook kan inspan: dink net, heerlike melksnysels met ‘n skootjie rooi rooibospoeier met sy tikkie kaneel om die snysels mee af te rond of Thaise klappermelkkerrie met groen rooibospoeier, waarby bietjie klapper (en Echinacea, wat help teen verkoues) weer ingemeng is, om die heilsaamheid daarvan ‘n verdere hupstoot te gee. Resepte en meer hieroor gee ek bietjie later vir julle deur!

Maak 1 koek
Bereiding: 20 min
Baktyd: 20—30 min

KOEK
6 eiers, geskei
90 ml (¼k) strooisuiker of versoeter soos Ethritonol
250 g donker sjokolade (suikervry indien verkies), in blokkies gebreek
100 g ongesoute botter of klapperolie
30 ml (3 e) rooibospoeier met kollageen, kaneel en borrie van Carmién
100 g haselneute of amandels, grofgekap in die voedselverwerker
AFRONDING
Kakao of karamelkondensmelk en/of bladgoud of vars bessies

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n Bundtpan baie goed met kossproei. Stuif met kakao.
1 Klits die eiergele en strooisuiker of versoeter saam tot lig en romerig.
2 Smelt die sjokolade en botter of klapperolie saam in ‘n glasbak oor ‘n kastrol met kookwater of in die mikrogolfoond. Roer elke nou en dan.
3 Voeg die rooibospoeier in en meng goed deur.
4 Voeg die gekapte neute by die sjokolademengsel en meng liggies deur.
5 Klits die eierwitte styf en vou by die sjokolademengsel in.
6 Skep die beslag in die koekpan.
7 Plaas die pan in ‘n oondpan wat halfpad met kookwater gevul is. Bak sowat 25—35 minute of tot gaar. Dit sal nog baie klam wees en ‘n toetspen sal nie nog ‘n klam krummel aanhê.
8 Laat afkoel in die pan en keer dan versigtig uit op ‘n koekbord.
9 Stuif kakao oor of streep bietjie karamelkondensmelk oor en versier met bladgoud of bessies.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: