Kroek-hamburgers vir Vrydagaand

So sonder dat ons dit eintlik beplan het, het ons Vrydagaande uitgedraai op kitskos wat ek self maak. Nie net is dit lekkerder nie, want die bestanddele is vars en goed gegeur, maar jy weet ook presies wat alles in jou kos ingaan, so jy hoef nie te kommer oor onnodige “nasties” wat so ongesiens insluip nie. Die aanbod wissel van pizza tot schnitzels, nachos en selfs ‘n gesonde gatsby van tyd tot tyd. Maar dis veral die hamburgers waarvan my gesin nie genoeg kan kry nie.

Soms haal die tyd my in en dan val ek vinnig terug op kroek-hamburgers. Ek is darem nou al jare lank ‘n beoordelaar vir Checkers se Championship-boerewors en weet dat net regte egte bestandele in daardie boerewors mag gaan. (So terloops, het julle geweet dat daar wetgewing bestaan oor die bestanddele wat in boerewors mag gaan, so dis nie sommer enige wors wat as ‘n boerewors mag deurgaan nie). Daai wors is doodreg om dan vinnig patties mee te maak. Wat sorg vir ekstra lekkerte op die hamburger is fyngedrukte avokado. Lekker romerig maar propvol gesonde vette.

Kroek-hamburgers

Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 20 min

  • 600 g Boerewors, vleis uit die derms gedruk
  • Olie
  • 1 Groot ui, in ringe gesny
  • Bietjie bruinsuiker en balsamieke asyn
  • 2 Avokado’s, fyngedruk
  • Sout en peper
  • Suurlemoensap
  • Gekapte stingelui
  • 250 ml (1 k) Romigerige natuurlike jogurt
  • Kwart komkommer, pitte verwyder en in klein-klein blokkies gesny
  • Komyn
  • Tamatieskywe
  • Cos-blaarslaai of roket
  • 4 Lae GI-hamburgerrolletjies (ek hou veral van die met die saadjies bo-op)

1 Deel die vleis in 4 en vorm in mooi hamburger-patties. Verkoel 10 minute. Verf met bietjie olie en lugbraai in die Airfryer tot net gaar, maar steeds effe pienk van binne. Hou eenkant.
2 Verhit bietjie olie in ‘n pan en braai die ui daarin tot sag, sprinkel bietjie suiker en asyn oor en braai tot effe gekarameliseer.
3 Geur die avokado met sout en peper en voeg die suurlemoensap en stingelui by.
4 Meng die jogurt met die komkommer, geur met sout en bietjie komyn.
5 Stel die hamburger as volg saam: ek maak die rolletjies net so vir 3 minute in Airfryer warm, dan is dit lekker bros. Halveer.
6 Plaas blaarslaai op die onderste deel van die rolletjie en pak tamatieskyfies bo-op. Skep bietjie van die komkommerjogurt oor en plaas die hamburger bo-op. Skep ‘n goeie hoop avokado bo-op en plaas die ander helfte van die rolletjie bo-op.
7 Herhaal met res van die bestanddele.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: