Daar is darem maar net iets spesiaals aan ‘n varsgebakte skon om saam met jou gunsteling tee (deesdae is myne die Carmién groen rooibos Earl Grey) te geniet. Ek het nou al so baie vertel hoe my ma ons leer skons bak het, die botter netjies ingevryf en die meel hoog gelig om lug te kry. Maar as die lus vir skons my so ongesiens betrap, of jy gou-gou ‘n eetdingetjie wil optower wat mense nie dadelik van die hand gaan wys omdat daar te veel suiker of vet in is nie, vat ek kortpad – skons gemaak met bietjie olie en jy meng alles net liggies saam met ‘n slaplemmes. Geen uitrollery nie! Ek skep dit sommer in oondvaste bakkies of flessies (of jy kan selfs ou bakpoeierpotjies gebruik), andersins sal ‘n muffinpannetjie ook doen, maar die potjies lyk nogals vir my mooi as jy dit sommer so daarin voorsit.
FLESSKONS
Die skons word vining met olie gemaak. Ek bak dit deesdae in klein glasflessies en stuif dan versiersuiker oor as dit uit die oond kom. Heerlik saam met aarbei- of bessie-konfyt en room. Meng die droë bestanddele reeds vooraf en bêre in ‘n lugdigte houer. Dan’s die mengwerk nog gouer klaar.
SKONS
Lewer: 12-15 skons
Voorbereiding: 10 min
Baktyd: 15-20 min
BAKMENGSEL
4 x 250 ml (4 k) koekmeel
22 ml (41/2 t) bakpoeier
5 ml (1 t) sout
15 ml (1 e) suiker (opsioneel)
VIR BAK
2 eiers
500 ml (2 k) melk
60 ml (1/4 k) olie
Versiersuiker vir oorstuif
1 BAKMENGSEL Sif die droë bestanddele 2 maal saam tot deeglik gemeng, skep in ‘n lugdigte houer of glasfles en bêre in die koskas.
2 VIR BAK: Voorverhit die oond tot 220°C. Spuit 12-15 breëbekglaspotjies met kossproei en stuif met meel.
3 Klits die eiers en meng die melk en olie by. Meng goed en voeg dit by die bakmengsel. Meng liggies deur met ‘n slaplemmes tot net gemeng.
4 Skep lepelsvol van die deeg in die glasflessies tot driekwartvol, Pak die flessies op ‘n bakplaat.
4 Bak 15-20 min tot goudbruin bo-op en ‘n toetspen skoon uit die skons kom. Stuif viersiersuiker oor.
5 Sit warm voor saam met botter, bessie-konfyt of suurlemoensmeer en room.
VARIASIE KAASSKONS: Voeg 250 ml (1 k) gerasperde sterk Cheddarkaas en ‘n knippie rooipeper by die mengsel. Bak soos beskryf en sprinkel gerasperde pecorino-kaas en grasuie oor as dit uit die oond kom. Sit voor met botter en konfyt.
Vir SPINASIE-KAASSKONS: voeg ‘n groot handvol fyngesnyde spinasie by die kaasskons.
UITROLSKONS: Sif 500 ml (2 k) koekmeel, knippie sout en 15 ml (1 e) bakpoeier twee keer saam. Vryf 45 ml (3 e) botter in. Klits 80 ml (1/3 k) melk, 5 ml (1 t) suurlemoensap en 2 eiers saam. Voeg by die meelmengsel en vou net liggies in met ‘n slaplemmes. Druk 2 cm dik uit, Druk koekiedrukker eers in meel en druk dan skons uit. Gee die koekiedrukker so ‘n effense draai voor jy dit uitlig. Dit help dat die skons nie skuins rys nie. Verf met melk, net op die bokors, anders kry jy nie die bekende bars in die middel nie. Bak by 220°C vir 12 minute tot goed uitgerys.