Februarie se hittige dae laat mens allermins lus voel vir warm kos, wat nog te sê lang ure voor die stoof spandeer. Dis dan wanneer hierdie variasie op kroningshoender wat ek desjare terug op Heidelberg in die Wes-Kaap geniet het so handig te pas kom, veral omdat Februarie ook mos druiwetyd is. Die slaai vra nie veel moeite nie en is regtig binne ‘n japtrap klaar, veral as jy die hoender sommer in die Airfryer gaarmaak. Vir iets meer spesiaal gebruik ek lietjies, heerlik om voor te sit wanneer jy vriendinne oornooi vir iets te ete. Die masala-rooibossout gee ‘n lieflike geur aan die hoender.
Genoeg vir 6 mense
Voorbereiding: 15—20 min
Gaarmaak: 30 min
HOENDER
1 kg hoenderborsfilette
Sout en peper of die Carmen Niehaus-masala rooibossout
olyfolie
KERRIESOUS
Olie
2 klein uie, gekap
30—45 ml (2 –3 e) geroosterde kerriepoeier
5 ml (1 t) fyn komyn
Sap en skil van 1 suurlemoen
125 ml (½ k) goeie kwaliteit minder-olie mayonnaise (ek gebruik sommer Checkers se Lite-mayonnaise)
125 ml (½ k) romerige natuurlike jogurt
SLAAI
1 groot tros swart of groen druiwe of 1 blik lietjies, gedreineer
30 g roketblare of jong spinasieblare
1—2 stele seldery, in stukke gesny
1 groen appel, in dun skyfies gesny
Groot handvol okkerneute, gekap
Voorverhit die oond tot 180°C.
1 HOENDER Geur die hoender met sout en peper, pak in ‘n enkellaag in ‘n oondbak, giet olie oor en oondbraai tot net gaar en sag, sowat 30 min. (ek doen dit sommer in die Airfryer, sowat 15—20 min). Sny of breek in stukke.
2 Verhit bietjie olie in ‘n pan en roerbraai die ui daarin tot sag. Voeg die
kerriepoeier en komyn by en meng deur. Verwyder van die hitte en roer die mayonnaise en jogurt deur.
3 Voeg by die hoender en roer deur en koel af.
4 Meng die lietjies of druiwekorrels by die hoender in.
6 Rangskik die blare, seldery en appel op ‘n bord, skep die hoendermengsel bo-op en sprinkel die okkerneute bo-op.
Sit koud voor.
Wenk: Ek het al selfs ‘n piesang of selfs skyfies nektariens ook hierby ingemeng.