Smul aan Spaghetti

Toe ons kinders was het ons dit slangetjies genoem en sommer sulke vurke vol van die toutjies spaghetti opgeslurp – partykeer sommer net so, ander kere miskien met ‘n bietjie kaas oorgerasper. Eenvoud op sy lekkerste.

Vir my is ‘n goeie-kwaliteit pasta, gemaak met durumkoring, heel goed genoeg, veral as jy vinnig iets te ete moet prakseer want in ons huishouding gebeur alles maar meestal op ‘n drafstap. Die belangrikste is dat jy die pasta net nie oorgaar moet maak nie – slegs al dente – maw sag, maar tog nog met ‘n effense byt. Om dit goed reg te kry moet jy sorg dat die kastrol waarin jy die pasta kook lekker groot is met lekker baie kookwater in, minstens twee keer die hoeveelheid pasta. Ek giet ook graag ‘n skoot olyfolie oor die pasta nadat ek dit gedreineer het, dan kleef dit nie aanmekaar vas nie.

Ek het al vertel hoe my skoonma, Suzie Niehaus, ons baie keer op ‘n Vrydagaand met ‘n bak gebakte macaroni-en-kaas verras het, net met ‘n eiervlasous en baie kaas oor, niks meer nie. Gou het dit ook ons gereelde Vrydagaandete geword. Saterdae-middae weer, is ‘n groot bak spaghetti met net bietjie pesto deurgeroer, baie keer ons ligte middagete. Maar ons is net so lief vir ‘n passata saam met vars tamaties en parmesaankaas by die spaghetti ingeroer. Ek maak graag my eie passata waarby jy lekker baie vars kruie kan voeg. Die sous is net so lekker oor polenta. Vir die wis en die onwis hou ek egter altyd ‘n bottel of twee Napolitaanse sous in my koskas.

Genoeg vir 6-8 mense
Bereiding: 15-20 minute
Gaarmaaktyd: 10-15 minute

TUISGEMAAKTE PASSATA
2 kg ryp tamaties, met skil en al (roma of konfyttamaties werk goed)
4-6 knoffelhuisies, fyngerasper
goeie hand vol origanum
2-3 lourierblare en/of ’n takkie roosmaryn
goeie handvol basilieblare
goeie handvol pietersielie
125 ml (½ k) water
1 of 2 sakkies (50 g elk) tamatiepasta
sout en vars gemaalde swartpeper
10 ml (2 t) bruinsuiker
60 ml (1/4 k) olyfolie
VARS TAMATIESOUS
200 g verskeidenheid tamaties, verskeie kleure en ook heirloom, in stukke gesny
6 takkies oregano, gekap
30 g basilieblare, geskeur
Olyfolie, net genoeg vir aanklam
SPAGHETTI
500 g spaghetti
Sowat 500 ml (2 k) van die passata-sous
Sout en peper
parmesaan- of pecorino-kaas, gerasper
basilieblare en parmesaankaasskaafsels

1 PASSATA Plaas die tamaties, knoffel en kruie saam met die water en tamatiepasta in ’n dieperige kastrol en kook sowat ’n halfuur oor stadige hitte tot die tamaties sag en geurig is en die meeste water verdamp het. Geur na smaak met sout en peper en bruinsuiker. Verwyder die lourierblare en roosmaryntakkie en plaas alles in ’n voedselverwerker. Pols tot goed fyn. Giet die olyfolie deur die tuit by en pols tot fyn en romerig. Skep in skoon bottels en hou in die yskas.
2 VARS TAMATIES Meng die vars tamaties, oregano en basilieblare met die olyfolie en parmesaankaas.
2 Kook die spaghetti en dreineer.
3 Verhit die passata-sous tot warm en meng deur die pasta.
4 Meng die vars tamaties deur, sprinkel ekstra basilieblare en parmesaan- of pecotino-kaas oor. Sit dadelik voor.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: