Ek onthou die Peppermint Crisptert wat my ma altyd in ‘n Pyrexbak gemaak het vir talle Sondagmiddagkuiers. Een van daai terte wat jy nie kan ophou eet as jy eers begin het nie. Ook my man se gunsteling. Maak dit in ‘n broodvorm sodat mens dit makliker kan sny of maak weer ‘n slag ‘n driehoektert, die treffer uit die tagtigs.
Maak 1 medium tert
Voorbereiding: 20 min
Verkoeltyd: oornag
- 1 blik (360 g) karamelkondensmelk
- 250 ml (1 k) geroomde maaskaas
- 6 Peppermint Crisp-sjokolades
- 1 pak (200 g) Tennisbeskuitjies
- 300 ml (1¼ k) room, verkoel
- Mentblaartjies vir versiersel
Voer ‘n mediumgroot broodpannetjie met kleefpastiek uit, groot genoeg sodat dit ook oor die kante hang.
1 Meng die kondensmelk en maaskaas saam tot goed gemeng.
2 Plaas 4 van die sjokolades in ‘n plastieksak en maak fyn met ‘n rolstok.
3 Pak ‘n laag Tennisbeskuitjies op die boom van die voorbereide broodpan.
4 Skep ‘n laag karamelmengsel oor en smeer gelyk oor die beskuitjies.
5 Klits 250 ml (1 k) van die room styf en smeer ‘n laag oor die karamelmengsel. Sprinkel ‘n laag van die sjokolade oor.
6 Herhaal die lae, eindig met ‘n laag beskuitjies.
7 Vou die kleefplastiek toe oor die tert en verkoel oornag in die yskas.
8 Ontvorm op ‘n dienbord, verwyder die plastiek.
9 Smelt die orige 2 Peppermint Crisp-sjokolades saam met die orige room in die mikrogolfoond of in ‘n glasbak oor kookwater.
10 Giet die gesmelte sjokolademengsel oor die tert. Laat staan tot die versiersel stewig is. Versier met mentblaartjies.
VARIASIE: PEPPERMINT CRISP-DRIEHOEKTERT
Gebruik 2 pakkies (200 g elk) Tennisbeskuitjies. Lê die beskuitjies in drie rye van vier elk op ‘n groot vel tinfoelie uit. Meng die kondensmelk, maaskaas en 250 ml (1k) styfgeklopte room saam. Smeer ‘n lagie oor die Tennisbeskuitjies. Pak nog ‘n laag Tennisbeskuitjies op. Vou die gekapte Peppermint Crisp sjokolade by die orige roommengsel in en skep dit oor die middel van die beskuitjies. Gebruik die foelie en vou die buitenste lae oor die vulsel toe om ‘n driehoek te vorm. Maak die foelie toe en vries 6 uur. Haal uit vrieskas en bedek met die gesmelte sjokolade. Laat hard word. Sny in skywe en versier met ment.