Februarie is die maand van liefde en romanse. Vier dit met ‘n happie roulade waarin lappies forel in toegerol is. Nie net heerlik en verleidelik nie, maar ook doodmaklik en vinnig om te maak want dit vra nie dat jy eers witsous hoef te maak nie. Koud of warm smaak dit ewe lekker. Met dieselfde mengsel kan jy selfs ‘n klein omelet maak.
ROULADE
200 g spinasie, gaargestoom en vloeistof goed uitgedruk
60 ml (1/4 k) koekmeel
5 ml (1 t) bakpoeier
2 ml (1/2 t) neutmuskaat
30 ml (2 e) gekapte grasuie
Sout en peper
4 eiers, geskei
VULSEL
230 g-houer geroomde maaskaas
45 ml (3 e) koljanderpesto
1 pakkie gerookte forel
Halwe komkommer, in linte gesny met ‘n aartappelskiller
Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n 33 x 23 cm bakplaat met kossproei en voer uit met bakpapier.
1 ROULADE Plaas die spinasie, meel, neutmuskaat, grasuie en sout en peper in ‘n voedselverwerker en verwerk tot glad. Voeg die eiergele by en klits goed.
2 Klits die eierwitte in ‘n aparte bak tot styf. Vou by die spinasiemengsel in.
3 Giet die spinasiemengsel in ‘n uitgevoerde bakplaat en bak 10–15 min lank tot gaar. Keer uit op ‘n skoon doek en rol versigtig op terwyl nog warm.
4 Rol af om te vul. Meng die maaskaas en pesto en smeer oor die spinasierol. Pak die forel en komkommerlinte op en rol weer stewig op. Sit voor met suurlemoenskyfies.