Ek het verlede jaar ‘n groot skrik gekry met ‘n taamlike hoë cholesterol-telling. Ek het dadelik werk gemaak en my leefstyl-patrone nogals dramaties aangepas. Nie net het ek my oefenprogram goed opgeskerp deur aan te sluit by Crossfit nie, maar het ook goed begin kyk na wat ek eet – net vleis (vark of hoender) per geleentheid, baie groente en meer peulgroentes soos kekerertjies, lensies en quinoa en ook heelwat jogurt. Om gehidreer te bly natuurlik ook minstens 8 glase water en/of rooibostee per dag. En nou kan ek getuig dat my cholesteroltelling nou goed onder beheer is met ‘n telling van onder 3. Ek voel energiek en gesond en ek verbeel my al my klere sit heelwat losser en gemakliker. Net reg en vol lus om die uitdagings van 2022 te pak!
As mens té veel rooivleis inneem, loop jy die risiko om gesondheidsprobleme soos hartsiektes en kanker te verhoog. Dis dus ‘n goeie idee om ‘n vleislose dag of twee per week in te werk. Gelukkig is daar heelwat alternatiewe hoë-proteïenbronne om van te kies. Plantbronne soos lensies, bone, hempsade, lynsade, quinoa, ertjies, neute en grondbonebotter is goeie voorbeelde. Ander verstandiger vleiskeuses sluit in hoender, vis, maaskaas, jogurt, melk en eiers. Selfs meeste groente en stysel bevat ook klein hoeveelhede proteïene. Bowendien verskaf lensies en bone asook sade en neute baie vesel en jy voel ook langer versadig. Neute en sade bevat ook vet, maar dis onversadigde vette wat as gesonder beskou word as versadigde vette in diere. Dis dus heeltemal haalbaar om genoegsaam proteïene in te neem uit alternatiewe bronne soos bv. plantbronne.
Die grootste bonus vir my is dat al hierdie kosse gretig is om geur op te neem. Mens kan dus lekker rondspeel met slaaisouse en ander geurmiddels om ‘n heerlike eetervaring te verseker.
VEELSYDIGE QUINOA-SLAAI
Hierdie is ‘n heerlike vleislose slaai wat heelwat proteien bevat met die dat dit quinoa, kekerertjies en neute inkry. Bv. 1 k gaar quinoa bevat 10 g proteïen, 30 g neute bevat 6 g proteïen terwyl 1 k gaar kekerertjies soveel as 14 proteïen bevat, Gee die slaai geur met ‘n geurige pesto of my gunsteling, lemoen-mosterdslaaisous. Wat die groente aanbetref kan jy rondspeel met dit wat jy tot jou beskikking het.
Genoeg vir 4 mense
- 375 ml (11/2 k) quinoa
- 750 ml (3 k) groen rooibostee (van Carmien Tea) of andersins groente-aftreksel
- 180 ml (⅔ k) kruie-pesto soos koljanderpesto of andersins lemoen-mosterdslaaisous (sien resep)
- 1 blik (400 g) kekerertjies, gedreineer (opsioneel)
- 100 g groenbone, effe gestoom en/of ‘n halwe elk rooi, geel en groen soetrissie, ontkern en in klein blokkies gesny
- 3 radyse, dun gesny (opsioneel)
- 1 klein rooi ui, in dobbelsteentjies gesny of 2 gekapte stingeluie
- 2 stukke peperfeta-kaas, in stukke gebreek
- Groot handvol bosbessies
- Handvol elk amandels of pekanneute of pistasieneute en pampoenpitte
- Handvol roketblare of baba-spinasieblare
1 Spoel die quinoa goed af onder lopende water (dis belangrik, anders is dit geneig om bitter te wees) en kook 15 minute in groenteaftreksel tot die quinoa uitgeswel en gaar is. Dreineer.
2 Meng net genoeg van die pesto of slaaisous deur om dit goed aan te klam.
3 Voeg die groente en fetakaas by en sprinkel die bosbessies, neute en pampoenpitte oor.
4 Rond af met die roketblare of spinasieblare.
LEMOENMOSTERD-SLAAISOUS
Lewer sowat 180 ml (¾ k) slaaisous
- 125 ml (1/2 k) lemoensap
- Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
- 30 ml (2 e) olyfolie
- 2 knoffelhuisies, fyngedruk
- 15 ml (1 e) korrelmosterd
- 5 ml (1 t) Dijonmosterd
- 15 ml (1 e) heuning
- 45 ml (3 e) vars gekapte pietersielie, koljanderblare en ment
- Sout en peper na smaak
1 Meng al die bestanddele saam en giet oor slaaie of hou in die yskas.
Wenk: Hier gee ek ‘n resep vir ‘n slaaisous wat jy kan oorgiet, maar enige van die Carmen Niehaus-slaaisouse, veral die Zesty Fennel of Fynbos-slaaisous gaan heerlik werk by hierdie slaai.