Van ons voorstoep af kyk mens lekker uit op die Langebaanmeer. Onder die lattedak staan daar ‘n groot stewige houttafel met bankies. Lanterns wat al om die kante van die stoep hang, gee net genoeg lig. Dis nou al tradisie dat ons Oujaarsaand saam met familie en ‘n paar vriende op die lekker groot stoep kuier, want hiervandaan kan ons die vuurwerke mooi bekyk. Dis dan wat ek graag groot houtborde met charcuterie en kase uitpak saam met lekker brode en ‘n paar smere. Ek gebruik sommer baie keer ‘n klompie vysels om die eetgoed in uit te sit. Eenkant prakseer ek ‘n ginstasie waar almal kan eksperimenteer met mengeldrankies.
My peuselborde sien gewoonlik as volg daar uit:
- ‘n Verskeidenheid charcuterie: ham, swartwoudham (pleks van baie duur Parma-ham), prosciutto, coppa, salami en miskien chorizo
- ‘n Verskeidenheid kase: vars kaas soos rolle roomkaas of bokmelkkaas, sagte kase soos Brie en Camembert; semi-harde kase soos Gouda en komynkaas en harde kase soos goedverouderde Cheddar, pecorino of selfs parmesaankaas
- Ander peuselgoed sluit in: gemarineerde groen en swart olywe; ‘n guacamole, hoemoes en saad-en-neutesprinkel; vars vrugte in seisoen, veral skyfies nektariens, vye, druiwe, spanspek of selfs klein stukkies waatlemoen is heerlik. ‘n Paar lekker stukkonfyte is ook heerlik hierby.
Vir ‘n broderigheid bak ek graag ‘n vinnige ciabatta of selfs sommer ‘n paar platbrode of maak saadbeskuitjies vir diegene wat wegstaan van gluten af. Daarby saam altyd ‘n goeie olyfolie en verouderde balsamieke asyn.
‘n Lekker piekel of twee sal net so lekker wees – dink aan gepiekelde eiervrug of ingelegde baba-tamaties. Blomkool en soetrissie is ook heerlik. Gepiekelde calamari, rolmops en dolmades is natuurlik tops hierby.
Vir die ginstasie pak ek altyd die volgende uit:
- ‘n Paar soorte gin waar onder Carmien se Floral Berry en Citrus Chai gin
- Houertjies met Carmien piramied teesakkies – Turkish Delight, Floral Berry, Citrus Chai en Creamy Mint
- Houertjies met stukkies kaneel, steranys, droë lemoenstukkies, droë roos- en hibiscusblare, suurlemoen- en lemmetjieskyfies en baie vars kruie soos takkies roosmaryn, tiemie, basilie en malva.
- Tonic water, sodawater en vonkelwater en natuurlik baie ys
2 vinnige mengeldrankies:
Floral Berry gin: giet 1 tot Carmien Floral Berry in ‘n glas, sit ‘n teesakkie by asook bietjie roos- en hibiscusblare of vars kruie en vul die glas verder met ys en tonic water of sodawater.
Citrus Chai gin: giet 1 tot Carmien Citrus Chai in ‘n glas, sit ‘n teesakkie, verkieslik Citrus Chai by en voeg stukkies kaneel en gedroogde lemoenstukkies by asook skyfies vars lemmetjie of suurlemoen. Vul die glas verder met ys en tonic water of sodawater.
Klink heerlik, ek is ‘n Carmien fan.
LikeLike