Die lekkerte van die Kersete kry net nie einde nie en mens kan tot lank na Kersfees steeds peusel aan al die heerlike oorskiet eetgoed. Die groot geheim is eintlik om dit dan steeds mooi en keurig voor te sit.
Dis dan wanneer ek my ou silwerware, glasvase en versameling vintage kookboeke nadertrek om die tafel mee te tooi. Maak stapeltjies boeke met mooi lint vas en rangskik direk op jou houttafel. Gebruik dit as staanders waarop jy die eetgoed uitpak.
Sit ‘n verskeidenheid vars slaaiblare en ander slaaigoed in ‘n mooi sopturien. Sny die oorskiet gerookte varkboud (gammon) en gewone varkboud dun op en pak dit op ‘n silwer-dienbord saam met ‘n potjie mosterd. Sit die slag ook ‘n vrugtepiekel saam met die vleis voor – dis sommer maklik om te maak, veral as jy weer van Carmien Tea se heerlike teemengsels inspan. Koop ook sommer ‘n paar lewersmere en skep dit in ou botterbakkies. Dun-dun snytjies Melba-roosterbrood, in n ou roosterbroodstaander voorgesit, dien as die basis waarop elkeen weer sy eie happies kan saamstel. Kaasstrooitjies in ‘n lang glasvaas en ‘n verskeidenheid kase op ‘n silwer koekstaander met ‘n mooi glaskoepel oor, rond die prentjie af.
VRUGTEPIEKEL
Maak sowat 750 g piekel
Voorbereiding: 20—20 minute
Gaarmaaktyd: 10 min
PIEKELMENGSEL
500 ml (2 k) kookwater
2-3 sakkies Carmien Tea Citrus Chai-piramiedsakkies
2-3 sakkies Carmien Tea Nursing tea
250 ml (1 k) appel- of rysasyn
180 ml (¾ k) suiker
VRUGTE
Vars nektariens of pruime, goed afgespoel met kookwater of selfs 2—3 pynappels, in dun skyfies gesny
1 rooi ui, in ringe gesny
1 PIEKELMENGSEL Giet die kookwater oor die teesakkies en laat trek tot sterk maar nie te lank. Druk uit.
Kook tee saam met asyn en suiker. al die bestanddele in ‘n groot kastrol en bring tot kookpunt.
2 Pak die vrugte saam met paar ringe rooi ui in gesteriliseerde flesse en giet die kokende piekelmengsel oor. Verseël. Laat staan vir so ‘n week of wat. Verkoel sodra oopgemaak.
Wenk: vir ‘n vinnig piekel, kook die piekelmengsel saam en giet oor rooi uieringe en 4—6 Israeliese komkommers wat in stukke gesny is. Dis sommer dadelik gereed.
Foto verskaf deur SA Pork.