Van ons voorstoep af kyk mens lekker uit op die Langebaanmeer. Onder die lattedak staan daar ‘n groot stewige houttafel met bankies. Lanterns wat al om die kante van die stoep hang, gee net genoeg lig. Dis nou al tradisie dat ons Oujaarsaand saam met familie en ‘n paar vriende op die lekker groot stoep kuier, want hiervandaan kan ons die vuurwerke mooi bekyk. Dis dan wat ek graag groot houtborde met charcuterie en kase uitpak saam met lekker brode en ‘n paar smere. Ek gebruik sommer baie keer ‘n klompie vysels om die eetgoed in uit te sit. Eenkant prakseer ek ‘n ginstasie waar almal kan eksperimenteer met mengeldrankies.