Brejani

Ek hou van geregte wat lekker, maar nie te sterk, gegeur is. Veral die kosse uit die Maleise kookkultuur is my kos, want daar word met soveel respek met die speserye en kruie omgegaan. ‘n Stappie deur die Bo-Kaap met sy kleurvolle huisies is altyd ‘n wonderlike ervaring en ‘n besoek aan die speserywinkel ‘n hoogtepunt, waar ek my kan verloor in al die wonderlike smake, geure en kleure van die speserye. Gelukkig was ek in my jare as kosredakteur by Huisgenoot geseënd met kosassistente wat goed bekend was met die Maleise kookkultuur en ons is eerstehands touwys gemaak, tot in roti’s rol en en dhaltjies maak.

Pricilla Petersen, een van my eerste assistente in die kombuis, het ons baie keer vergas op die heerlikste kerries wat sy sommerso ongesiens uit oorskiet in die kombuis aanmekaar geflans het. Maar ek het my hart verloor op brejani. Uit die Wenresepte-posbus het daar gereeld heelparty lekker brejani-resepte op my tafel geland, maar dis hierdie resep van Priscilla wat vir my die maklikste bly om te maak. As ek baie mense moet kosgee, val ek gereeld hierop terug.

BREJANI
Genoeg vir 6—8 mense
Bereidingstyd: 15 minte
Marineertyd: 20—30 minute
Gaarmaaktyd: 45 minute

MARINADE
5 ml (1 t) birjani-heelspeserymengsel
15 ml (1 e) birjani-masala
10 ml (2 t) garam masala
5 ml (1 t) droë brandrissievlokkies
1 stuk pypkaneel
2 lourierblare
125 ml (½ k) natuurlike jogurt

HOENDER
8 hoenderporsies, kleiner gesny indien verkies
Sout na smaak

UIEMENGSEL
30 ml (2 e) olie
1 ui, fyn gekap
15 ml (1 e) gerasperde gemmerwortel
1 groen soetrissie, fyn gekap
4 knoffelhuisies, fyngestamp of gerasper
60 ml (¼ k) gekapte koljanderblare

RYS EN LENSIES
500 ml (2 k) gaar basmati-rys
250 ml (1 k) gaar lensies

AFRONDING
30 ml (2 e) botter
Groot handvol koljanderblare

VOORSIT
3 hardgekookte eiers, afgedop en in kwarte gesny (opsioneel)
Roti’s (opsioneel)
Gekapte tamatie-en-uie-sambal

1 MARINADE Meng al die bestanddele vir die marinade saam. Geur die hoender met sout en giet die marinade oor. Maak seker die hoenderporsies is goed bedek. Marineer 20—30 minute.
2 UIEMENGSEL Verhit die olie in ‘n groot diep kastrol en braai die ui, gemmerwortel en soetrissie daarin tot sag. Voeg die koljanderblare en knoffel by.
3 Giet 160 ml (⅔ k) kookwater in die kastrol en voeg die hoender met die marinade by. Verlaag die hitte, bedek en prut sowat 30 minute lank of tot die hoender gaar is.
4 AFRONDING Skep twee derdes van die hoender uit. Skep nou ‘n laag rys en dan ‘n laag lensies bo-op die hoender in die kastrol. Herhaal die lae en stip met botter. Bedek en laat 10 minute stoom oor lae hitte sodat die geure lekker kan deurtrek.
5 Strooi die koljanderblare oor en sit voor met die eierkwarte en roti’s (indien verkies) en tamatie-en-uiesambal.

%d bloggers like this: