Ek weet eintlik nie hoe dit gebeur het nie, maar op Oukersaand was daar altyd paella op die spyskaart in ons huis op my opgroeiplaas, Bergendal, op die berg by Citrusdal.
Ons het eers om die kersboom vergader, my pa het die kersverhaal gelees (ek onthou van een jaar wat ons kinders selfs ‘n moedige poging aangewend het om die kersverhaal op te voer, nogals met ‘n ster aan ‘n draad wat gespan was oor die lengte van die sitkamer en moeisaam getrek is om die plek waar Jesus gebore was, aan te dui.
In ons sitkamer was dit digby die kersboom, langs die klavier). Stille Nag is gesing en dan was dit tyd vir presente oopmaak. Kort duskant middernag het ons eers eetkamer toe verkas vir die paella.
Vandag nog is dit ‘n instelling in ons huis. Toentertyd het al die seekos uit ‘n blik gekom, vandag maak ek dit met vars vis en seekos, behalwe dat ek vind dat ‘n blikkie of twee gerookte mossels tog ‘n heerlike geur gee aan die paella.
Genoeg vir sowat 6 mense
Voorbereiding: 15 min
Gaarmaaktyd: 30–45 min
1 ui, gekap
2 knoffelhuisies, fyngedruk
1 geel en rooi soetrissie, in blokkies gesny olie
500 ml (2 k) rou rys, goed afgespoel
3 ml (ruim ½ t) borrie
5–10 ml (2 t) paprika
Sout en peper
Sowat 1 liter (4 k) hoenderaftreksel
1 chorizo-worsie, in stukkies gesny
2 hoenderborsies, in stukkies gesny
Botter en olie
500 g seekosmengsel, ontdooi en goed gedreineer (sien ook wenk)
Sap en skil van 1 suurlemoen
2 blikkies gerookte mossels
250 ml (1 k) bevrore ertjies, ontdooi
200 g steurgarnale (opsioneel)
250 g vars mossels
1 Braai die ui, knoffel en soetrissie in verhitte olie in ‘n groot kastrol of pan tot sag. Voeg die rys by en meng deur. Voeg die speserye by en giet die aftreksel oor. Verhit en kook tot die rys bykans sag en meeste vloeistof verdamp het. Voeg meer vloeistof by indien nodig.
2 Verhit bietjie botter en olie in ‘n pan en braai die worsie en hoender tot sag en gaar, geur met sout en peper. Voeg by die rysmengsel.
3 Verhit nog olie in die pan, druk die seekosmengsel goed droog en roerbraai tot net gaar. (ek gebruik altyd twee Chinese stokkies om mee te roer, dit voorkom dat die seekos onnodig stukkend steek). Geur met sout en peper en suurlemoensap. Voeg by die rysmengsel. Voeg die gerookte mossels met olie en al asook die ertjies by die rysmengsel en meng liggies deur.
4 Braai die steurgarnale indien verkies in dieselfde pan tot hulle net pienk verkleur. Geur met ‘n skoot suurlemoensap.
5 Pak saam met die mossels in halwe skulpe op die rysmengsel, bedek, verlaag die hitte en stoom tot die ertjies en mossels warm is.
Wenk: Haal die krapstokkies uit as jy seekosmengsel gebruik. Pleks van seekosmengsel kan jy vars calamaribuise en –tentakels gebruik. Onthou net dit word blitsig gaar.