Speserykoekies

Vroeër die week kom laai die koerier ‘n pakkie by my huis in Langebaan af. Binne-in ‘n bruinkartondoos mooi toegebind met lint en tou. Ek herken dadelik die netjiese handskrif. Dié van Arina du Plessis. Jare lank al kosredakteur van die uiters gewilde kostydskrif, Landbouweekblad Boerekos.

Saam met die nuuste steruitgawe gelaai met resepte en informasie wat alles handel oor hoe om geur in jou kos te sit , is daar klein pakkies vol speserye: kardemom, neutmuskaat, wonderpeper, heel kaneelstokke en borriewortel. Maar dis die bakkie keurig verpakte koekies daarby wat my oog vang – speserykoekies. My mond water dadelik, want ek weet mos Arina is ‘n baasbakster van formaat – dié het sy al deur en deur bewys toe ons nog sy aan sy in Huisgenoot se toetskombuis gewerskaf het.

Ons deel dieselfde liefde vir die plaaslewe en het ‘n diepe respek vir alles wat van die plaas af kom. In haar kombuis toor sy met die rou bestanddele en skep keer op keer wonderlike geregte, lekker en geurig, maar ook maklik om te maak. Daarvoor het sy einde verlede jaar die toonaangewende Galliova-toekenning as kosskrywer van die jaar ontvang. Welgedaan Arina!

My speserykoekies pak ek uit op ‘n kaasbord met verskeie kase, charcuterie, vars vrugte (van die plaas natuurlik) en heel vrugtekonserf om voor te sit vir gaste wat vinnig inloer vir ‘n glasie wyn terwyl ons die mooi sonsondergang wat so eie is aan die Weskus, bewonder. Laataand kruip ek in die bed met die LandbouBoerekos in die hand.

Ek lees van ou kosvriendinne, geurplekke soos Atlas Trading, die Weskus se eie Khoisan-sout en talle passievolle boere wat sorg vir geurgewers in ons kombuise. Maar dis veral die afdeling oor geur op jou speseryrak wat Arina bymekaar gesit het, wat my aandag trek.
Landbou Boerekos is by meeste kettingwinkels beskikbaar teen R140 (met rasper) of R80 (sonder rasper).

Baie naeltjies (of kruienaeltjies) in kos val nie in almal se smaak nie. As jy al op ’n heel naeltjie in ’n happie hoenderpastei gebyt het, sal jy weet! Maar as naeltjies met sorg in kos of gebak gebruik word, gee dit die heerlikste geur. Soos in hierdie resep, my ouma Minnie se speserykoekies.

As kind het ek niks van die geur van naeltjies gehou nie. Juis oor die einste ouma lief was om dit met ‘n milde hand by haar hoenderpastei- of wildspasteivulsels te voeg.

Ek het die pastei geëet agter haar heerlike tuisgemaakte skilferkorsdeeg aan, maar die fynvleisvulsel moes jy baie versigtig kou, want die kanse dat jy op ‘n heel naeltjie sou byt, was groot!

Ouma Minnie het heerlike boerekos gemaak en in die kas bo die broodblik in haar kombuis, was daar altyd ‘n propvol koekieblik. Sy’t die beste lepelsteeltjies gemaak en ook graanvlokkiekoekies en sulke knewels van soetkoekies wat soos wawiele gelyk en ‘n halwe glas koeldrank kon opsuig as jy dit daarin gedoop het. En dan was daar hierdie speserykoekies. In die winter, wanneer dit grys en koud was, en dikwels spierwit gesneeu op die berge rondom Ceres, was daar min dinge so lekker soos ‘n groot beker warm, melkerige tee met Ouma se speserykoekies daarby. Sy’t dikwels die koekies bestuif met ‘n mengsel van versiersuiker en fyn, gemengde speserye, pleks van kaneelsuiker. As ek die koekies vir my eie gesin bak, doen ek dieselfde.

Speserykoekies

Lewer 4 dosyn koekies.

375 ml (1½ k) koekmeel
3 ml (ruim ½ t) fyn kaneel
3 ml (ruim ½ t) fyn naeltjies
2 ml (½ t) fyn gemmer
1 ml (¼ t) fyn neutmuskaat
2 ml (½ t) sout
125 g sagte botter
180 ml (¾ k) witsuiker
1 ekstragroot eier, teen kamertemperatuur
kaneelsuiker (gemaak met strooisuiker), opsioneel

1 Sif die meel, speserye en sout saam in ’n mengbak.
2 Verroom die botter en suiker in ’n ander mengbak tot lig en romerig.
3 Voeg die eier by en klits goed.
4 Voeg die meelmengsel by en meng tot ’n deeg vorm.
5 Druk die deeg bymekaar in ’n bol en druk die bol deeg plat. Draai die deeg in kleefplastiek toe en verkoel vir minstens 2 uur of oornag.
6 Wanneer jy reg is om die koekies te bak, voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n paar bakplate met bakpapier uit.
7 Rol die deeg versigtig op ’n meelbestrooide oppervlak uit tot ongeveer 3 mm dik. Druk vorms van jou keuse uit die deeg en lig dit met ’n spaan of slaplemmes tot op die bakplate.
8 Bak die koekies vir ongeveer 10 minute, tot liggoudbruin.
9 Haal die koekies uit die oond en sprinkel ’n bietjie kaneelsuiker oor die warm koekies, indien verkies.
10 Laat die koekies vir ’n paar minute op die bakplate afkoel en lig dit dan af tot op draadrakke om verder af te koel tot kamertemperatuur.

%d bloggers like this: