Bak
Framboos-en-kombucha-mocktail
Genoeg vir 2
Bereiding: 10 min
Goeie handvol vars frambose
Paar takkies vars mentblare
60 ml (¼ k) suurlemoensap
30 ml (2 e) heuning
250 ml (1 k) rooibos-kombucha
ys
1 blikkie Carmien Rose Geranium sprankel-rooibosystee
1 Plaas frambose, mentblare, suurlemoensap en heuning in ‘n teepot. Stamp fyn met muddle stick. Voeg die kombucha by.
2 Plaas bietjie ys onderin elke glas en giet elkeen driekwart vol met die kombucha-mengsel.
3 Vul aan met die sprankel-rooibosystee en sit voor.
SUURLEMOENTERT MET BEETMERINGUE
Maak 1 medium tert
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 50 min
KORS
60 ml (¼ k) bruinsuiker of versoeter soos ethritinol
250 ml (1 k) hawermout, liggies gerooster indien verkies
80 ml (⅓ k) fyn klapper
60 ml (¼ k) klappermeel
Knippie bakpoeier
Knippie sout
1 eierwit
80 – 115 g klapperolie of botter, gesmelt
VULSEL
250 ml (1 k) suiker of helfte versoeter soos ethritinol
4 ekstragroot eiers plus eiergeel van die kors
250 ml (1 k) volroomjogurt
180 ml (¾ k) vars uitgedrukte suurlemoensap
Fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
MERINGUE
1 Wildeklawer-beet, ongeskil, gerasper en sap uitgedruk
3 eierwitte, kamertemperatuur
180 ml (¾ k) strooisuiker of heuning
’n knippie kremetart
15 ml (2 e) mielieblom
5 ml (1 t) vanieljegeursel
Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n 23 cm losboompan met kossproei.
1 KORS Plaas die suiker, hawermout, klapper en klappermeel saam met die bakpoeier en sout in die bak van ‘n voedselverwerker. Pols tot fyn. Voeg die eierwit by en pols tot deurgemeng. Voeg net genoegsaam gesmelte klapperolie of botter by om ‘n saamdrukbare deeg te vorm.
2 Druk die deeg vas op die bodem en teen die kante van die pan. Verkoel sowat ‘n halfuur lank, prik die bodem liggies en bak dan 10 minute.
2 Verlaag die temperatuur na 140°C.
3 VULSEL Klits die suiker en versoeter, indien gebruik, eiers, jogurt, suurlemoensap en –skil goed saam. Giet in die voorbereide kors en bak 10 minute. Verlaag die hitte tot 90°C en bak verder tot die vulsel net gestol, maar steeds binne nog effe sag is, sowat 20—30 minute. Verwyder uit die oond en laat afkoel.
4 MERINGUE Plaas die beetsap, eierwitte, suiker of heuning en kremetart in die menger se bak en plaas oor ‘n kastrol met kookwater. Laat dit sowat 5 minute prut terwyl gedurig geroer word en tot die mengsel opgelos en goed warm is.
5 Verwyder van die hitte, plaas bak terug in die menger en klits tot lig en blink. Vou die mielieblom en vanieljegeursel in. Spuit bolletjies meringue bo-op die suurlemoenvulsel en skroei effe met ‘n blaasvlam.
PAPAWERSAAD-AMANDEL-AMASIKOEK
Maak 1 groot koek
Voorbereiding: 20 min
Baktyd: 30—40 min
VRUGTELAAG
1 elk nektariens, of pruime, in skywe gesny
paar bloubessies
250 ml (1 k) Carmien Orange Camomile rooibostee, gebruik 4 sakkies
80 m (⅓ k) strooisuiker
KOEK
6 eiers, geskei
200 ml strooisuiker
250 ml (1 k) amasi of natuurike volroomjogurt
Gerasperde skil van 1 suurlemoen
80 ml (⅓ k) papawersaad
125 ml (½ k) fyn klapper
500 ml (2 k) fyngemaalde amandels
VERSIERSEL
2 eiergele
45 ml (3 e) strooisuiker
45 ml (3 e) mielieblom
250 ml (1 k) amasi of natuurlike jogurt
5 ml (1 t) vanieljegeursel
Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n 20 cm –Bundtpan met kossproei.
1 VRUGTE-BOLAAG Plaas al die bestanddele in ‘n kastrol en bring stadig tot kookpunt, stel hitte baie laer en laat prut tot die vrugte net sag, maar steeds ferm is. Koel af in die stroop.
2 KOEK Klits die eiergele en strooisuiker tot lig.
3 Roer die amasi en suurlemoenskil in.
4 Vou die papawersaad, klapper en amandels in. Klits die eierwitte tot dit stywe punte vorm en vou by die mengsel in.
5 Skep die beslag in die voorbereide pan en bak 30—40 minute lank of tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die koek kom. Laat effe afkoel in die pan en keer dan uit op ‘n draadrakkie oor ‘n bord.
6 Druk gaatjies in die koek met ‘n toetspen, giet van die vrugtestroop oor en laat intrek.
6 VERSIERSEL Klits die eiergele tot lig, roer die strooisuiker en mielieblom by. Giet in ‘n kastrol, giet die amasi stadig by terwyl jy voordurend roer en verhit oor lae hitte tot die mengsel net effe verdik. Roer die vanieljegeursel by en verkoel.
7 Skep die versiersel oor die koek en stapel die vrugte bo-op. Sit voor saam met orige stroop.
