SuidKaap kuierreis

Deel 2

Op my onlangse kuier deur die Suid-Kaap op uitnodiging van die Sentraal Suid-Koöperasie, het ek heelik ontspan saam met die boervroue van die Mosselbaai-omgewing en ook vir die eerste keer ‘n draai gegooi op die pragmooi dorpie, Uniondale. Vanjaar se tema is kook en ek besef dadelik, hierdie lot vroue kook nie net agter die kospotte nie, maar is ook kookwater as dit by mooimaak en bederf en omgee kom, maak nie saak hoe groot die uitdagings is wat hulle daagliks op die plaas moet trotseer nie. Ons kuier en lag tog te lekker terwyl die vroue lustig saamgesels terwyl ek my ding agter die demonstrasietafel doen.

Om so ‘n reeks demonstrasies agtermekaar te kry, vra nogals mooi organiseer en kophou. Eerstens ry ek alles saam om die demonstrasie aan te bied, van Snappy Chefs en ‘n Airfryer tot potte en panne en genoeg messe en lepels vir sny en roer. En natuurlik moet dit wat ek gemaak het, in iets moois voorgesit word – ek gaan haal my versameling emaljeware, want nie net is die kans vir breek minder nie, maar is dit ook weer hoogmode om daarmee te dek. So ver as ek kan, doen ek meeste van die voorbereiding reeds by die huis en verpak alles in sakkies en bakkies, elkeen gemerk volgens resep en vir watter dem. ‘n Dag voor die tyd stel ek my hele “kombuis” op by die plek en pak die nie-bederfbare bestanddele uit. Vroegoggend voor die mense aankom, doen ek die laaste voorbereiding vir die bederfbare produkte en maak vir oulaas seker dat alles uitgesit is volgens resep, van die bestanddele tot die apparate, messe en lepels. (sien video by verlede week se plasing).

Sodra ek klaar gedem is, is dit tyd vir skoonmaak, oppak en die pad vat na die volgende dorp waar ek die storie herhaal. Moet sê, nogals uitmergelend, veral as die afstand tussen die dorpe op dag 3 nogals ver is. Maar vir my is dit die ene opwinding, nie net sien ek nuwe plekke nie, maar ontmoet die wonderlikste mense.

Dankie SSK vir hierdie heerlike geleentheid om te kon deel wees van vanjaar se kook-program.  Soos belowe, hier is die resepte vir Airfryer-appeltertkoek en die krummelhoenderrepies met Oosterse roerbraai.

KRUMMELHOENDERREPIES MET OOSTERSE ROERBRAAI

Dis die roerbraaisous van hierdie gereg wat dit so besonders maak. Maak sommer ‘n klompie en hou dit in jou yskas.

Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 30 min

Gaarmaak: 20 min

OOSTERSE ROERBRAAISOUS 

4 knoffelhuisies, fyngerasper

5 cm stuk gemmerwortel, fyngerasper

125 ml (½ k) Carmien Boost-rooibostee met vit C, gemaak met 4 sakkies

125 ml (½ k) sojasous

60 ml (¼) vars lemmetjiesap

15 ml (1 e) soesji-asyn

30—45 ml (2–3 e) heuning of suiker of versoeter

45 ml (3 e) sesamsade

Klein handvol gekapte koljanderblare

HOENDER

1 pak mini-hoenderborsfilette (Simply Truth)

125 ml (½ k) mielieblom, gegeur met sout en peper en knippie bakpoeier

2 eiers geklits

Sowat 250 ml (1 k) Pancko-broodkrummels

GROENTE

Olie

1 ui, in skyfies gesny

1 rooi of groen soetrissie, in klein blokkies gesny

2 wortels, geskil en in julienne-repies gesny

Handvol mangetout of broccoli-blommetjies of 2 murgpampoentjies, in repies gesny

roerbraaisous na smaak

VOORSIT EN AFRONDING

Eiernoedels, gaargemaak

piekelgemmer

sesamsade of grondbone vir bo-oor sprinkel

koljanderblare vir afronding

ROERBRAAISOUS Plaas al die bestanddele in ‘n klein pot en laat prut 2 minute lank. Giet in ‘n flessie en hou in die yskas.

1 Rol die vleisstukkies in gegeurde mielieblom, dan in geklitste eier en dan in broodkrummels. Plaas in yskas.

2 Verhit bietjie olie in ‘n groot pan en braai die ui, wortel en soetrissie tot net sag, maar nog baie bros. Voeg die mangetout en/of broccoli by.

3 Voeg ‘n goeie skoot roerbraaisous by en laat prut tot geurig, moenie die mengsel laat pap kook nie.

4 Verhit genoeg olie in ‘n groot pan en braai die vleisstukkies bietjie vir bietjie tot bruin en bros, bedek van tyd tot tyd om gaar te stoombraai. Verwyder deksel laaste rukkie om dit mooi bros te kry.

7 Roer die noedels deur die groenteroerbraai, skep in ‘n opdiepbord en rangskik die vleis bo-op. Sprinkel sade en paar skyfies piekelgemmer bo-oor. Garneer met koljanderblare.

STROPERIGE APPELTERT

Vir hierdie appeltert het ek die malvapoeding-resep wat in my boek, Lekker en Goed, is aangepas om sodoende ‘n heerlike appeltert, gemaak met vars appels met ‘n geurige stropie oor, te maak. Ek bak dit sommer in die Airfryer.

Maak 1 middelslag tert

Bereiding: 15 min

Baktyd: 40 min

STROOP

80 ml (⅓ k) bruinsuiker

4 sakkies vanielje, Relax, Orange Camomile of Earl Grey-rooibostee van Carmien

250 ml (1 k) volroommelk

80 g botter

TERT

3–4 appels, in dun ronde skyfies gesny

2 appels, in klein blokkies gesny

50 g pekanneuthalwes (opsioneel)

BESLAG

1 eier

80 ml (⅓ k) suiker

30 ml (2 e) gladde appelkooskonfyt

250 ml (1 k) amasi of karringmelk of natuurlike jogurt

15 ml (1 e) appelasyn

250 ml (1 k) koekmeel

5 ml (1 t) bakpoeier

1,25 ml (¼ t) koeksoda

1,25 ml (¼ t) sout

VOORSIT

Natuurlike volroomjogurt

Spuit ‘n 20 cm losboompan met kossproei. Voer uit met bakpapier en spuit weer. (Hou tweede pan gereed en tinfoelie)

1 STROOP Plaas die suiker, teesakkies en melk in ‘n kastrolletjie en bring stadig tot kookpunt, roer tot die suiker opgelos is. Verwyder van die hitte en laat afkoel.

Druk al die vloeistof uit die teesakkies en verwyder die teesakkies. Voeg die botter by en meng tot gesmelt.

2 TERT Rangskik die appelskyfies en pekanneute op die bodem van die pan.

3 BESLAG Klits die eier en suiker saam tot goed gemeng.

4  Roer die konfyt, amasi en asyn saam, voeg by die mengel en klits tot glad.

5 Sif die droë bestanddele en meng alternatiewelik met die appels by die eiermengsel in.

6 Giet in die voorbereide pan.

7 Stel die Airfryer op 180°C (bak). Plaas die pan in die laaitjie en bak sowat 25–30 minute of totdat ‘n toetspen skoon uit die tert kom. (Die koek is geneig om effe donker van bo te bak, so my voorstel is om dit so halfpad deur die baktyd met ‘n velletjie tinfoelie te bedek)

8 Plaas ‘n houtplank oor die Airfryer-laaitjie, draai om en keer die tert daarop uit. Verwyder die ring en boom asook die bakpapier. Skuif die boom nou weer onder die koek in en knip die ring weer netjies om die gaar koek vas.

7 Giet van die warm stroop oor die tert en bak weer vir 5—10 minute in die AirFryer tot die tert mooi bruin is bo-op.

8 Verwyder uit die AirFryer, laat paar minute afkoel, ontvorm op ‘n mooi dienbord en sit voor met orige stroop asook die natuurlike jogurt.

Leave a comment