Ons kook by DeTol

Die Lekker en Goed-televisieprogram was nie net vir myself ‘n ongelooflike reis en inspirasie nie, maar het net so baie vir ander beteken. Heelwat mense het gevra vir ‘n kookklas en sommer gou was daar 16 mense wat wou kom saamkook. Laas Saterdag het ons toe die eerste Lekker-en-Goed-kookklas by DeTol buitekant Citrusdal gehou.  Die historiese tolhuis bo-op die Piekenierskloofpas huisves nou ‘n deli, ‘n proelokaal vir Piekenierskloofwyne en die Carmientea rooibostee-winkel. Die ou skuur daarnaas is deesdae gesellig ingerig en dis net daar waar ek my eerste Lekker en Goed-kookklas aangebied het.

Ek wil sommer gou-gou nog kookklase aanbied, enige plek. So as jy belangstel, laat weet my by carmenniehaus@carmientea.co.za

Aan die een punt van die skuur het ek ‘n lang tafel ingerig met verskeie stasies om die verskillende geregte te berei, elk toegerus met sy bestanddele die nodige kookgerei en resepte. (Om te help dat almal aan die gang kom, het ek darem so ‘n paar goed reeds vooraf gaargemaak en gereed gekry). En sonder dat ek te veel moes organiseer, het elkeen gou ‘n plekkie gevind waar hul kon kook. Tussen die gejil en gesels is die eetgoed gou-gou klaargemaak.

Met die instapslag is almal verwelkom met ‘n heerlike Sangria, gemaak met Piekenierskloof se Rosé en ‘n sakkie Carmien Cold Brew Cranberry Hibiscus. Vir verdere dorslessers was daar verskeie ander ColdBrews. Daarby klein glasies yskoue Persiese jogurtsop met subtiele rooswatergeure.

Plat bros saadbrode voorgesit met ‘n groentesalsa is as lusmaker aan tafel bedien. Die lamsblaaie, gemaak met DeTol se vrylopende en hormoonvrye lamsvleis het ek vroegoggend reeds ingesmeer met ‘n Marmite-smeersel en dit in ‘n Creamy Mint groen rooibostee (van Carmien) gaargebak tot mens dit van die bene kon afpluis. Daarby ‘n vars aartappelslaai met suurlemoen en roket asook ‘n Oosterse groenslaai met lensies. Vir soetigheid, gemmer-dadeltruffels. Alles lig en vars, geurig en tog vullend, soveelso dat die gaste eers teen laatmiddag eers weer vort is.

Hier is die resepte vir Sangria asook vir die Persiese jogurtsop. Die res van die resepte volg later.

ROSÉ SANGRIA

Carmien het nou ook familiegrootte teesakkies Cranberry Hibiscus Cold Brew wat ideaal is wanneer jy vir ‘n klompie mense ‘n drankie aanmekaar wil slaan. Een teesakkie maak 1,25 liter ystee. Dis glad nie nodig om kookwater te gebruik om die tee in te trek nie. Die aarbei-, kersie- en spookasemgeure van die Piekenierskloof Rosé saam met die subtiele roosblaar ondertone werk goed saam met die bosbessie- en hibiscusgeure van die tee om ‘n heerlike verfrissende drankie te maak.

Lewer sowat 2 liter sangria

Bereiding: 10 min

Staantyd: 10—30 min

1 Giet die rosé in ‘n groot fles en voeg die vrugte asook die die teesakkies by.  Laat staan vir te minste 10 minute (verkieslik 30 minute) totdat die tee lekker in die wyn getrek het.

2 Voeg net voor opdiening verkoelde sprankelwater of tonikumwater na smaak by asook ‘n klompie ysblokkies.

KOUE PERSIESE JOGURTSOP

Dis die rooswatergeure in hierdie sop wat dit so lekker maak. Sorg dus dat die Turkish Delight-rooibostee lekker sterk en geurig is. Ment en koljander met bosbessies, okkerneute en komkommerstukkies maak dit heerlik vars. Hemels!

Maak sowat 1 liter sop

Bereiding: 15 min

  • 500 ml (2 k) dik romerige natuurllike jogurt
  • 375 ml (1½ k) sterkgetrekte Carmien Turkish Delight-rooibostee, gemaak met 10 sakkies en afgekoel tot yskoud
  • Sout en varsgemaalde swartpeper
  • 125 ml (½ k) gekapte okkerneute
  • 100g bosbessies
  • 250 ml (1 k) klein peuselkomkommers, in klein blokkies gesny
  • 60 ml (¼ k) fyngekapte koljanderblare
  • 30—45 ml (2—3 e) gekapte ment

AFRONDING

  • Gekapte okkerneute en kruie

1 Meng die jogurt en tee. Geur met sout en peper.

2 Voeg die neute, bosbessies, komkommerblokkies, koljanderblare en gekapte ment by en meng deur. Verkoel tot nodig.

3 Skep in dubbelwandglasies en rond af met neute en kruie.

Leave a comment