Aartappel aptyt

Op my tafel is daar altyd plek vir my kleindag gunsteling bykos, aartappels. Jy kan soveel daarmee vermag, van braaiaartappels saam met vleis tot fynaartappels saam met wors of aartappels in slaai; ek maak ook deesdae graag die Italiaanse aartappelpasta-gereg, gnocchi.

In ons tv-program, Lekker en Goed wat laasweek afgeskop het op KykNet, openbaar my gas, Arina du Plessis, kosredakteur van Landbou-Boerekos en voormalige Huisgenoot-kollega, haar liefde vir aartappels. Ongelukkig kon ek haar lus toe nie bevredig met ‘n lekker gebraaide aartappeltjie nie, alhoewel die gebraaide eiervrug was net so heerlik saam met die boud.

WildeKlawer, een van die land se grootste aartappelverskaffers, is ook een van die borge van die Lekker en Goed-program. Megaboer, Louis de Kock is voorheen aangwys as Aartappelboer van die Jaar. Met hand uitgesoekte kultivars en goeie boerdery-praktyke het meegebring dat WildeKlawer met reg kan aanspraak maak as die beste aartappelprodusent in Afrika. Daardie plaasvars aartappels wat so mooi uitgestal is in die kombuis, het my menige maal goed laat verlang na ‘n lekker bros aartappel. En aartappels is goed vir jou, dit goeie energiekos het baie vesel (as jy die vel aanhou) en ‘n ryke verskeidenheid vitamiene en minerale. Toentertyd is aartappels tot voorgesit om skeurbuik te voorkom a.g.v die vitamien C inhoud daarvan. Sy minder goeie baadjie is grotendeels te wyte aan die manier gaarmaak – diepgebraai in baie olie of dit waarmee jy dit alles voorsit, met baie kaas of mayonnaise ens.

Baba-aartappels, wat aartappels is wat jonk uitgehaal is, het ‘n laer glikemiese indeks wat bloedsuikervlakke nie so vinnig laat styg nie en veral diabeteslyers moet eerder daaraan smul.

Somertyd is net reg vir heerlike aartappelslaai, net so vars met suurlemoen, olyfolie en roket of met fetakaas en agurkies – altwee is ewe lekker. Vir ‘n ligte middagete kan jy smul aan die immergewilde niqiose-slaai met tuna, aartappels en groenbone of as jy lus het, maak aartappelkluitjies, gnocchi vir aandete. Vir ‘n lekker vars smaak, maak ek ‘n kombinasie van aartappel en spinasie en sit dit voor met broccoli en koljanderpesto.

 AARTAPPELSLAAI

Hierdie is die twee lekkerste aartappelslaaie wat gereeld op ons tafel is. Isabella Niehaus se aartappelslaai met roket en suurlemoen en die een met feta-kaas van die voormalige TV-ster, Annette Hartman.

Aartappelslaai met suurlemoen en roket

Genoeg vir 4 mense

  • 500 g baba-aartappels, in die skil gekook
  • Olyfolie van goeie gehalte
  • Seesoutvlokkies en varsgemaalde swartpeper
  • 1 bossie grasuie, gesnipper
  • Sap en skil van 1 groot suurlemoen
  • 1 pakkie vars roketblare
  • 1 Druk die warm aartappels effe stukkend met ‘n houtlepel in ‘n slaaibak.
  • 2 Giet heelwat olyfolie oor en geur goed met sout en peper en laat afkoel.
  • 3 Sprinkel grasuie en die suurlemoensap en –skil oor. Meng.
  • 4 Stapel die roketblare bo-op en sit voor.

Aartappelsaai met mayonnaise en feta-kaas

Genoeg vir 4 mense

  • 500 g baba-aartappels, in die skil gekook
  • 125 ml (1/2 k) elk goeie mayonnaise en natuurlike jogurt
  • 15 ml (1 e) heelkorrelmosterd
  • 4 agurkies, grof gekap
  • 2 wiele feta-kaas, gekrummel
  • Bossie grasuie, gekap

1 Halveer die aartappels indien nodig.

2 Meng die mayonnaise-mengsel met die korrelmosterd en meng deur.

3 Meng die agurkies en feta-kaas deur en sprinkel die grasuie oor.

4 Verkoel tot met opdiening.

NIÇOISE-SLAAI

Vir hierdie klassieke Franse slaai gebruik ek graag tuna-filette wat in olyfolie met suurle­moen en swartpeper gepiekel is.

Genoeg vir 3 mense

Bereiding: 10 min

VINAIGRETTE

  • 1 knoffelhuisie, fyn­gedruk
  • 5 ml (1 t) dijonmos­terd
  • 30 ml (2 e) witwy­nasyn
  • 5 ml (1 t) suurle­moensap
  • 125 ml (½ k) olyfolie
  • 5 ml (1 t) heuning

SLAAI

  • 1 Iceberg-slaaiblare of sowat 100 g ro­ketblare
  • 6 baba-aartappel­tjies, saggekook en skilletjies afgetrek
  • 200 g jong groenbo­ne, geblansjeer
  • 3 eiers, 7 min. ge­kook, afgedop en gehalveer
  • 180 g gepiekelde tuna in olyfolie met suurlemoen en swartpeper, of 2 blikke tuna in olie, gedreineer
  • 150 g kersietama­ties, gehalveer
  • 10 swart olywe
  • 125 g spekrepies, gebraai en opgesny, of 4-6 ansjovisfilet­te, in lang repies ge­sny
  • 30 ml (2 e) kapper­tjiesaad, asook ’n paar langsteel-kap­pertjiesade

1 VINAIGRETTE Meng al die bestanddele.

2 SLAAI Pak al die be­standdele vir die slaai (in afsonderli­ke hopies indien verkies) op ’n slaai­bord. Sprinkel die kappertjiesaad laaste oor en sit voor saam met die vinaigrette.

GNOCCHI MET SPINASIE

’n Ligte gnocchi voorgesit saam met gestoomde broccoli en koljanderpesto.

GNOCCHI

  • 3 groot gaar aartappels, goed fyngedruk
  • 300 g spinasie, goed drooggedruk en fyngekap
  • 2,5 ml (½ t) fyngekapte knoffel
  • sout en peper, na smaak
  • 1 eier
  • 150 g ricotta- OF roomkaas
  • 250 ml (1 k) witbroodmeel of glutenvrye meel
  • ekstra meel vir strooi

AFRONDING

  • koljanderpesto
  • (sien resep)
  • 125 g gestoomde broccoliblommetjies
  • pecorinoskaafsels
  • koljanderblare

1 Gnocchi Plaas die aartappels, spinasie en knoffel in ’n bak en meng goed deur. Geur met die sout en peper en voeg die eier en kaas by. Meng goed.

2 Voeg net genoeg meel by om ’n stywe, maar sagte deeg te maak. Meng liggies tot ’n deeg vorm. Moenie oormeng nie.

3 Sprinkel die ekstra meel op ’n oppervlak en rol die deeg in ’n lang dun rolletjie.

Sny die rolletjie in 1 cm-stukkies. Druk elkeen effens platter met die tande van ’n vurk.

4 Verhit intussen ’n groot kastrol soutwater tot kookpunt.

Plaas sowat 10 stukkies per keer in die water en bring weer tot kookpunt. Verwyder die gnocchi met ’n gaatjieslepel sodra hulle bo-op die water begin dryf. Herhaal met

die res van die deegstukkies.

5 Afronding Plaas  4-6 stukkies gnocchi in ’n bakkie, roer die pesto deur die broccoliblommetjies en stapel bo-op.

6 Rond af met die pecorinoskaafsels en ekstra koljanderblare.

KOLJANDERPESTO

lewer 250 ml (1 k) pesto

bereiding: 10 min.

  • 60 g koljanderblare
  • 125 ml (. k) olyfolie
  • gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
  • sout en peper, na smaak
  • 100 g pampoenpitte

Plaas al die bestanddele vir die pesto buiten die pampoenpitte in die voedselverwerker en verwerk tot fyngekap. Voeg die pitte by en verwerk tot grofgekap. Skep uit in ’n houertjie.

Leave a comment