Ek was die afgelope tyd besig met ‘n baie opwindende projek waaroor ek julle bietjie later meer sal vertel, so ek kon ongelukkig nie veel tyd op sosiale media verwyl, interressante plekkies besoek of nuwe resepte ontwikkel nie. Gelukkig het ek ‘n magdom heerlike resepte wat my telkens verstom laat as ek dit ‘n slaggie weer probeer. So ‘n resep is hierdie beproefde pizza-resep, die kors bak lekker bros in ‘n gewone oond (daar is ‘n paar trieks) en dis veral die tamatiesous wat dit uitstaande lekker maak. Die resep het ek ook opgeneem in my laaste boek, Lekker&Goed wat handel oor heilsame kos wat absoluut heerlik is. Ek sien Bargain Books hou ‘n paar kopieë aan, andersins kan jy aanlyn bestel by CarmienTea of ook direk by die Carmienwinkel wat by DeTol op Piekenierskloof, Citrusdal is, gaan koop.
Ek hou van ‘n pizzakors wat papierdun en lekker bros is – nogals ‘n uitdaging as jy dit in ‘n gewone oond wil doen. Die resep hiervoor het ek jare terug in Johannesburg raakgeloop waar dit vir kosmarkte berei is. Probeer ook gerus die klappermeelkors – die beste minkoolhidraat-pizzakors wat ek tot dusver uitprobeer het en so maklik om te maak. Die geheim is dat jy hom moet bak tot lekker bros. Die tamatiesous word binne ‘n ommesientjie in die mikrogolf gemaak en is werklik baie geurig.

DEEG
5 x 250 ml (5 k) klipgemaalde witbroodmeel
15 ml (1 e) olyfolie
10 ml (2 t) sout
1 pakkie (10 g) kitsgis
500 ml (2 k) louwarm water
BOLAE
Olyfolie
Mieliemeel om oor te strooi
Tamatiesous (sien resep onder)
Kombinasie van gerasperde mozzarellakaas en wit Cheddarkaas
Bolae van jou keuse (sien lys)
Voorverhit die oond tot 230°C. Plaas ‘n omgekeerde bakplaat (dit help dat dit makliker afgly) in die oond om goed warm te word voordat jy die pizzabasisse oppak.
- DEEG Plaas al die bestanddele vir die deeg, buiten die louwarm water, in die mengbak van ‘n voedselverwerker. Giet die water deur die tuit by en meng tot goed gemeng, so 7–10 minute en die deeg in ‘n bol rondom die lem vassit. Die deeg is effe klewerig. Verwyder uit die bak, vorm in ‘n bol, verf met olyfolie, bedek en laat rys tot dubbel die grootte.
- Verdeel die deeg in 4 (8 vir kleiner pizzas) bolletjies en rol so dun as moontlik op ‘n meelbestrooide oppervlak uit.
- Bestrooi die warm bakplaat met mieliemeel en plaas die basis(se) bo-op (dis nie nodig om hul weer te laat rys nie). Plaas die bakplaat so na as moontlik aan die onderste element en bak 5–7 minute tot gaar maar nie bruin nie.
- Haal uit die oond en smeer ‘n dun lagie tamatiesous oor. Strooi kaas oor en pak bolae van jou keuse op (sien variasies).
- Skakel die boonste roosterelement van die oond aan en rooster tot die kaas net gesmelt het.
TAMATIESOUS
750 g pruimtamaties (Roma), ontvel en in klein stukkies gesny
80–125 ml (¼–½ k) songedroogde tamaties in vinaigrette, gekap
6 knoffelhuisies, fyngedruk of gerasper
Plaas al die bestanddele in ‘n glasbak en mikrogolf 10 minute by 100 persent krag tot die sous nie meer waterig is nie. Roer elke 3 minute. (jy kan ook die sous in ‘n kastrol op die stoof maak). Laat goed afkoel.
BOLAE
Smeer tamatiesous oor elke basis, strooi gerasperde mozzarella- en wit Cheddarkaas oor en pak enige van die onderstaande op.
• Fetakaas, tuna of hoenderskaafsels, geroosterde soetrissies, swart olywe en baba-spinasieblare. Bak en stapel skywe avokado op, geur goed met sout en peper. Rond af met roket.
• Basiliepesto, kersietamaties, swart olywe, sampioene en bocconcini of feta-kaas. Bak tot gaar en stapel basilieblare bo-op.
• Pikante pepers, rooi uie en oondgebraaide botterskorsie. Bak tot kaas gesmelt is. Rond af met roket.
• Tuna, murgpampoentjieskaafsels, olywe, rooi uie en kappertjiesaad. Bak tot die kaas gesmelt is en rond af met roket of basilieblare.
• Kersie-tamaties, broccoli, pynappel, groen olywe en gepluisde gaar hoender gemeng met bietjie geroomde maaskaas met grasuie. Bak tot die kaas gesmelt is. Rond af met roket.
• Varkrafelvleis, pynappelstukkies, coleslaw, gepiekelde gemmer, afgerond met sesamsaad (dis nie nodig vir kaas nie).
KORINGMEELLOSE PIZZAKORS
Die beste minkoolhidraatkors wat ek tot dusver uitprobeer het.
Maak 1 mediumkors
Mengtyd: 5 min
Baktyd: 30 min
250 ml (1 k) klappermeel
45 ml (3 e) psyllium husk
2,5 ml (½ t) bakpoeier
2,5 ml (½ t) groentepoeier (ek gebruik Ina Paarman se vegetable spice)
60 ml (4 e) olyfolie
500 ml (2 k) warm water
Olie om bo-oor te sprinkel
Voorverhit die oond tot 180°C.
Meng die droë bestanddele saam.
Meng die olie en warm water en voeg by. Meng tot deeg.
Druk nou so dun as moontlik op ‘n groot bakplaat wat met ‘n silpat uitgevoer is uit.
Bak 25 minute by 180°C sonder bolae. Verhoog die temperatuur na 200°C.
Prik gaatjies in die kors en smeer mildelik met olie. Bak ‘n verdere 7–10 minute of tot die kors lekker bros rondom die kante is; dit mag dalk bietjie oppof, prik maar net weer plat.
Smeer daarna met tamatiesous, sprinkel bietjie gekapte songedroogde tamatie oor en rasper kaas oor. Pak bolae op, rasper weer bietjie kaas oor en bak tot die kaas gesmelt is.
