Verskoon my, maar “gut” is vir my so ‘n lekker woord, so amper asof dit ‘n gevoel weerspieël – dink nou maar aan “ek het so ‘n gut feeling…” of die uitdrukking om op te tree volgens jou “gut”. Ek vertrou nogals my “gut” en is baie min kere verkeerd. Maar nou is ek op ‘n ander “gut” reis – die een van goeie gesondheid wat vanuit jou “gut” oftewel spysverterings-sisteem begin, maar spysvertering doen dit net nie vir my nie, so vir my sal dit “gut” wees. Gut-gesondheid is deesdae groot nuus op die gesondheidsfront met pre- en probiotika op almal se lippe. So my nuutste missie is om ‘n goedvoel “gut” te hê wat sommer ‘n wye spektrum gesondheids-voordele het.
Immers was goeie gesondheid en gesonder eet nog van altyd af een van my groot prioriteite. My nuutste boek, Lekker & Goed, heilsame kos propvol heilsaamheid is juis daarop geskoei om gesonde kos steeds superheerlik te laat smaak. En hoe lekker en inspirerend was dit nie toe ek die storie van die befaamde sangeres, Andriëtte Norman, raaklees op verskeie platforms en tydskriftfe van hoe sy deesdae groot sukses behaal met ‘n “gut friendly” leef-en-eetstyl nie en absoluut wonderlik lyk en voel.
Sowat anderhalf maand gelede het ek toe een van haar inligtingsessies bygewoon, wat terloops gehou is by haar ewe inspirerende man, Glynn Moolman, ‘n biogenetikus, se splinternuwe Evolve 20-gimnasium in die Cobble Walk-sentrum in Sonstraal Heights, Durbanville. Wat ‘n groot lekkerte is dit nou vir my om saam met haar hande te kan vat en gesonde vroueoggende aan te bied waar ek ‘n paar “gut”-vriendelike groentegeregte gaan demonstreer terwyl sy almal meer vertel en motiveer om “gut” vriendelik te eet en te leef. (Ons gaan sommer bietjie oefen ook).
Die volgende oggend is om die draai: 29 Julie by die Evolve 20 gimnasium in Cobble Walk in Sonstraal Heights. Daar is twee sessies. Sien die uitnodiging en kontak vir Andriëtte Norman by andriettenorman@gmail.com. Intussen ‘n lusmakertjie.

GROENTEKERRIE MET KEKERERTJIES EN LENSIES
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 15 min
Gaarmaak: 20 min
250 ml (1 k) rooilensies
1 kaneelstok
sout
1 ui, gekap
4 knoffelhuisies, fyngerasper
1 cm stuk gemmer, gerasper
Olie of klapperolie
2 soetrissies, in stukkies gesny
1 eiervrug, in klein blokkies gesny
100 g sampioene, in skyfies gesny
5—10 ml (1—2 t) brejani-masala of matige kerriepoeier
2,5 ml (1/2 t) elk fyn komyn en paprika, gerooster, indien verkies
1 blik (400 g) kekerertjies
Spatsel sojasous
1 suurlemoen se sap en fyngerasperde skil
30ml (2 e) gekapte ment en/of koljanderblare
VOORSIT
Basmati-rys, verkieslik bruin
Romerige natuurlike jogurt
Kwart komkommer, saadjies verwyder en in klein blokkies gesny
handvol fyngekapte ment
fyn komyn vir oorsprinkel
1 Kook die rooilensies in genoeg water waarby die kaneelstok gevoeg is tot lekker sag en amper moeserig. Geur teen die einde met sout. Hou eenkant.
2 Braai die ui, knoffel en gemmer in ‘n bietjie verhitte olie of klapperolie tot sag. Voeg die soetrissies, eiervrug en sampioene by en roerbraai tot die eiervrug lekker sag is.
3 Sprinkel die masala of kerriepoeier, komyn en paprika oor en meng deur.
4 Voeg die kekerertjies saam met die kekerertjie-water by, voeg ook die lensies by en laat prut tot lekker geurig.
5 Rond af met ‘n spatsel sojasous, suurlemoensap en -skil asook kruie.
6 Sit voor met basmati-rys en jogurt waarby jy komkommer en fyngekapte ment ingeroer het. Rond af met ‘n knippie fyn komyn bo-oor gesprinkel.
