Koek, sjokolade, bessies en vye is sinoniem met die liefde. In hierdie doodmaklike sjokoladekoek kry jy alles in een met op die koop toe karamelkondensmelk – iets waarmee jy my altyd sal omkoop! Ek maak ook die koek met afgekoelde rooibostee – Red Mocha van Carmién Tea – dit het egte koffiebone in en verleen ‘n heerlike geur aan die koek.
Maak 2 ronde koeke of 24 kolwyntjies
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 22—30 minute
KOEKMENGSEL
750 ml (3 k) koekmeel
350—500 ml tsuiker
80—125 ml (⅓ –½ k) kakao
10 ml (2 t) koeksoda, gesif
160 ml (⅔ k) olie
30 ml (2 e) asyn
10 ml (2 t) vanieljegeursel
500 ml (2 k) mocha-rooibostee, gemaak met 4 sakkies Carmién Tea Red Mocha rooibostee, afgekoel
GANACHE
200 g donke sjokolade
30—45 ml (2—3 e) room of melk
AFRONDING
1 blik (387 g elk) karamelkondensmelk
Paar skeppe natuurlike jogurt
Vars bessies en vye
Versiersuiker vir oorstuif
Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit 2 koekpanne met kossproei of pak papierkoppietjies in muffinpannetjies.
1 Sif die droë bestanddele saam in ‘n mengbak.
2 Klits die olie, asyn, vanieljegeursel en afgekoelde tee saam.
3 Giet oor die droë bestanddele en meng goed.
4 Verdeel tussen die koekpanne of skep die papierkoppietjies driekwart vol.
5 Bak 22—30 minute of tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die koeke kom. Laat afkoel. Deel elke koeklaag in twee. (as jy tyd het, vries die koek, dan sny dit makliker)
6 GANACHE Smelt die sjokolade en room of melk in ‘n glasbak oor kookwater of in die mikrogolfoond tot gesmelt. Roer elke nou en dan.
7 Meng die karamelkondensmelk met bietjie jogurt om dit meer smeerbaar te maak.
8 Plak die lae opmekaar met die karamelkondensmelk-versiersel.
9 Skep die ganache oor die hele koek en laat oor die kante afloop.
10 Versier met bessies en vye en stuif bietjie versiersuiker oor.