Kuier op die stoep

Op Langebaan is daar ‘n vakansiegees in die lug. Die dorp is besig, die strate getooi en op die meer bol die seile van die windsurfers in die lug. Stadig maar seker skud almal reg vir die feestyd en lekker saamkuier. Dan hou ek daarvan om ‘n buitetafel te dek op die stoep en ‘n eenvoudige koue feesmaal voor te sit.

Vir so ‘n buitetafel dek ek graag met bonkige helder kleure – ‘n mosterdgeel tafeldoek met uitspattige bontpienk servette. Ek grawe in al wat kas en laai is rond op soek na al daardie houtbakkies, planke en plat mandjies wat ons oor jare heen versamel het tydens al ons wintervakansie-safari’s, selfs ‘n paar ongebruikte keramiek-potplanthouers word ingespan.

Net meer as ‘n week of wat gelede het SAPPO (die varkvleis-produsente vereniging) my uitgenooi na die keurigste maaltyd by Hamm & Uys op Blaauwklippen buite Stellenbosch. Voormalige Kokkedoorwenner, Johnny Hammann en Marius Uys het ons vergas op die heerlikste geregte, alles met varkvleis berei. Ons het soos konings geëet en is ook bederf met ‘n keur van allerlei geskenke. Onder andere is ek daar weg met ‘n almintige varkboud en ‘n gammon. Net reg vir hierdie koue feesmaal. My seun wat op die plaas buite Citrusdal werksaam is, bring ook elke naweek vir ons die sappigste vrugte, want dis oestyd op die plaas.

Rooiwang-nektariens; geelvleis; witvleis, te lekker, ons kan nie ophou eet nie. As ek van tyd tot tyd ‘n draai daar maak, sorg ek ook dat ek goed voorraad inlaai by die De Tol-plaasdeli – olywe, kaas en varsgebakte brood of roosterkoek en natuurlik ook ‘n goeie voorraad Piekenierskloofwyne en van die Carmien-rooibostees. Want ons drink nie net koppies vol Carmien tee nie, ek kook ook mos big time daarmee en maak nou bottels en bottels vol ystee vir lafenis. My skoonsuster bak ook elke jaar vir ons die lekkerste vrugtekoek, volgens Ma Susie se geheime resep en onlangs het ons ons pakkie ontvang.

So, sonder dat ek te veel dinkwerk moes insit het die spyskaart vir my koue feesmaal ongesiens gestalte gekry:

SPYSKAART

Bessie-ystee
Wit en rooi wyne van Piekenierskloof uit die Stonedance en Six Hats-reeks

Verskeidenheid vars goed soos Cos en roket-slaaiblare, nektariens, aarbeie, groen-en-swart olywe en baba-tamaties
‘n Lekker slaaisous of twee – die Carmen Niehaus Forest Berry en Zesty Fennel sal goed te pas kom

Varsgebakte brood met ‘n paar keurige kase

Oondgebraaide varkboud met romerige mosterd
Gemmer-en-brandrissie gammon met gemmerstukke

Vrugtekoek met koffie

OONDGEBRAAIDE VARKBOUD

Genoeg vir 6—8 mense
Bereiding: 15 min
Gaarmaak: 2—3 ure

My geheim om ‘n lekker sappige oondgebraaide varkboud te maak is om ‘n goeie hoeveelheid Carmien-rooibostee (hier gebruik ek groen rooibos saam met ment) ook in die pan te gooi en die pan dan vir die grootste gros van die tyd liggies toe te maak sodat mens ‘n kombinasie van klamhitte en droëhitte kry. Vir ‘n lekker krakerige swoerd moet jy die boud oornag oop in die yskas laat staan.

1 varkboud met swoerd ingekeep, sowat 2-3 kg
Sout
Soet sojasous
2—3 uie, geskil en in dik skywe gesny
2 liter kookwater
6—8 Carmien Creamy Mint piramiedteesakkies

1 Plaas die boud op ‘n rakkie in ‘n oondpan en giet kookwater oor.
Druk goed droog en vryf die swoerd goed in met sout. Plaas oornag oop in die yskas.
Voorverhit die oond tot 230°C
2 Sout die res van die boud en smeer sojasous oor die vleisgedeelte.
3 Pak die uieskywe in die oondbak en plaas die boud bo-op. Oondbraai sowat 20 minute tot die swoerd lekker bros is.
4 Giet die kookwater oor die teesakkies en laat trek tot sterk, maar nie te lank, want dan word die tee bitter.
5 Giet die tee in die oondpan sodat net die vleisgedeelte bedek is, nie die swoerd nie. Bedek die boud nou liggies met tinfoelie en verlaag die hitte na 160°C. Verhit 25 minute per 500 g vleis plus 25 minute of tot die boud sag en sappig is.
6 Verwyder die tinfoelie die laaste 20 minute sodat die swoerd weer lekker bros kan word.
7 Sit die boud by kamertemperatuur voor saam met mosterd waarby jy ook bietjie natuurlike jogurt ingemeng het. (Jy kan natuurlik die pansous ook dreineer en afkook tot geurig en ook ‘n bietjie jogurt daarby inmeng vir ‘n heerlike sous).

GEMMER-GAMMON

Die gemmer en brandrissie in die groen rooibos werk goed saam met vark en is veral lekker as daar heelparty vars vrugte ook by die spyskaart ingewerk is.

Genoeg vir 4 mense
Weektyd: 4 uur
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: sowat 2 ure

1,5-2 kg gerookte ontbeende varkboud (gammon)
2—3 liter kookwater
6 sakkies Carmien Revive (met groen rooibos, gemmer en brandrissie)
gemmerlim
1 mediumgroot ui, in stukke gesny
GLANSLAAG
80 ml (⅓ k) ingemaakte gemmerstukke, gekap
20 ml (4 t) gemmerstroop
Ekstra gemmerstukke

1 Week die varkboud 4—6 uur lank voor gaarmaaktyd in koue water.
2 Plaas in ‘n groot kastrol. Giet die kookwater oor die teesakkies en trek tot sterk maar nie te lank. Giet oor die gammon.
Bedek en laat opkook. Verlaag die hitte. Bereken die kooktyd as volg: laat 25 minute per 500 g vleis toe en laat stadig prut tot gaar, tussen 1—2 ure.
3 Verwyder uit die vloeistof en laat afkoel. Verwyder die vel.
4 Voorverhit die oond tot 180°C. Plaas die boud op ‘n rakkie wat op die oondpan pas. Sny die vetlaag in met ‘n skerp mes.
5 Meng die gemmerstukke met die gemmerstroop en skep oor die vleis. Oondbraai 20—30 min tot vetlaag effens verbruin en glansend is.
6 Dien die varkboud by kamertemperatuur op saam met ekstra gemmerstukke, vars vrugte soos nektariens en aarbeie en roketblare.

One thought on “Kuier op die stoep

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: