Smullekker slaaisous

My grootste uitdaging en droom was nog altyd om te sorg dat slaai die ster van die tafel word en die bak heel eerste dolleeg geëet sal wees. Slaaisous maak die verskil tussen ‘n ordinêre slaai en iets spesiaals. Die Carmen Niehaus-slaaisouse sorg vir daardie spesiale smaak wat enige slaai verhef bo die gewone.

Die basis van hierdie slaaisouse is die unieke rooibosgeure uit die Carmien Tee-reeks – en daarmee het ek slaaie bymekaar gesit wat nog nooit op ‘n winkelrak gesien is nie. Slaaisous met die geure van bos bessies, fynbos en boegoe, vinkel en anys – ongehoord maar heerlik anders en spesiaal.

Die ander groot pluspunt is dat omdat die die rooibostee en al die ander geurgoed die basis van die slaaisous vorm, dit heelwat minder olie en suiker hoef te bevat. SO nie net lekker nie, maar ook gesond. Ek het sommer ‘n hele klompie slaaie bymekaargesit wat goed sal pas by elke slaaisous se unieke geure. Kry joune nou en begin eksperimenteer.

FYNBOS VINAIGRETTE

Tipe Waldorfslaai
Vir 4 mense

1 Cos-blaarslaai, in blare gebreek
250 g jong groenbone, net saggestoom
2—3 gaar bete, in stukke gesny
2 Cripps-appels, in papierdun skywe gesny
1 of 2 stele seldery, in skyfies gesny of komkommer, in repies gesny
100 g gruyère-kaas, in skaafsels gesny
Carmen Niehaus Fynbos Vinaigrette
50 g okkerneute

1 Pak die blaarslaai in ‘n slaaibord en rangskik die groenbone, beet, appels en seldery bo-op.
2 Giet die slaaisous oor en sprinkel die kaas en okkerneute op.

Tipe Keiserslaai
Vir 4 mense

1 groot kop Iceberg-slaai, goed afgewas en in wiggies gesny
Carmen Niehaus Fynbos Vinaigrette na smaak
125 g repe rugspekvleis, gebraai
2 poppadums, 1 minuut in mikorgolfoond gepof en grof opgebreek of 4 snye witbrood, in blokkies gesny en brosgebraai
4 saggeposjeerde of hardgekookte eiers, in wiggies gesny
Sout en peper na smaak
50 g parmesaankaas skaafsels

1 Pak die slaaiwiggies op ‘n plat bord, giet die vinaigrette oor,
2 Pak die spekvleis en eiers bo-op, geur goed na smaak met sout en peper en rangskik die poppadums tussen-in of sprinkel die broodcroutons oor.
3 Sprinkel die parmesaankaasskaafsels oor.

Tipe panzanella-slaai
Genoeg vir 4 mense

½ ciabatta of rogbrood, in stukke gebreek
Olyfolie
Groot handvol baba-tamaties
6—8 verskeidenheid groot tamaties, in stukke gesny
Seesoutvlokkies en peper
1 rooi ui, in skyfies gesny
Paar kappertjiesade
Carmen Niehaus Fynbos Vinaigrette
Basilieblare vir afronding

Voorverhit die roosterelement van die oond
1 Pak die broodstukke op ‘n bakplaat, besprinkel met olyfolie en rooster tot bros.
2 Pak baba-tamaties ook in ‘n bakplaat, geur met sout en peper, sprinkel bietjie olyfolie oor en oondbraai terselfdertyd tot dit net effe oopbars.
3 Meng die baba- sowel as groot tamaties in ‘n mengbak saam met ui en kappertjiesade. Giet ruimskoots van die vinaigrette oor en laat staan so 10 minute.
4 Pak in ‘n bak en rond af met basilieblare.

FOREST BERRY SLAAISOUS

Komkommer-carpaccio
Genoeg vir 4 mense

1 komkommer, in papierdun skyfies gesny
1-2 avokado’s, ontpit en in bolle uitgeskep met ‘n lepel
250 g aarbeie, in stukke gesny
Goeie hoeveelheid Carmen Niehaus Forest Berry-slaaisous
20 g koljanderblare, goed afgespoel
50 g grondbone

1 Pak die komkommer op ‘n dienbord en rangskik die avodado en aarbeie bo-op.
2 Giet die slaaisous ruimskoots oor en verkoel tot net voor opdiening.
3 Stapel die koljanderblare bo-op en sprinkel die grondbone oor.

Nektarienslaai
Genoeg vir 4 mense

1 pak Cos-slaaiblare
4 nektariens of perskes of rooi pruime of selfs aarbeie, gehalveer en ontpit en in kwarte gesny of ‘n spanspek, in skywe gesny
1 rol bokmelkkaas, in skywe gesny
Paar skywe swartwoudham of selfs klam biltong
Goeie hoeveelheid Carmen Niehaus Forest Berry-slaaisous
Groot stuk grondbone-kraaklekker (opsioneel)

1 Pak die slaaiblare op ‘n slaaibord en rangskik die vrugte en ham bo-op
2 Giet van die slaaisous oor en stapel die kraaklekker bo-op.

Pruim-lensieslaai
Genoeg vir 4 mense

500 ml (2 k) klaargekookte lensies, verkieslik nog warm
Goeie hoeveelheid Carmen Niehaus Forest Berry-slaaisous
125 ml (1/2 k) grofgekapte pietersielie en koljanderblare
6 ryp swart pruime, in skywe gesny
Ekstra koljanderblare vir bo-oor sprinkel

1 Meng die lensies met die slaaisous gekapte kruie. Skep in ‘n slaaibak en laat afkoel.
2 Rangskik die pruime bo-op en sprinkel die koljanderblare oor.

ZESTY FENNEL SLAAISOUS

Brusselse spruiteslaai
Genoeg vir 4 mense

150 g Brusselse spruie of kopkool (selfs Chinese kool sal doen)
1 ciabatta-brood, in stukke gesny
Olyfolie
4 knoffelhuisies, gekap
12 repe spekvleis
Goeie hoeveelheid Carmen Niehaus Zesty Fennel-slaaisous
4 stingeluie, grof gekap
Handvol pietersielie, grof gekap

Skakel die roosterelement van die oond aan.
1 Breek buitenste blare van die Brusselse spruite af. Hou eenkant.
2 Sny die binnekante fyn op. (Sny kool fyn op indien dit gebruik word).
3 Pak die broodstukke op ‘n bakplaat, sprinkel olyfolie en knoffelhuisies oor. Rooster tot bruin en bros. (Dit kan ook in ‘n airfryer gedoen word).
4 Rooster terselfdertyd spekvleisrepe tot bros, kap helfte heeltemal fyn en roer by slaaisous in.
5 Meng Brusselse spruitblare en fyngesnyde dele met stingeluie en pietersielie.
6 Giet die slaaisous oor.
7 Rangskik die broodstukke, Brusselse spruitmengsel of kool op ‘n slaaibord, stapel die orige spekvleisrepe bo-op. Garneer met stingeluie en sprinkel pietersielie oor.

Groenslaai met avokado
Genoeg vir 4 mense

1 pak baba-spinasie-en-roketslaai met beetrepies en bosbessies
Carmen Niehaus Zesty Fennel-slaaisous

1—2 avokado’s, in bolle geskep met ‘n lepel
125 ml (1/2 k) geroosterde saadmengsel bv. sonneblom, sesam en pampoensaad
Parmesaankaas skaafsels

1 Pak die slaai in ‘n slaaibord
2 Giet die slaaisous ruimskoots oor.
3 Pak die avokado op.
4 Sprinkel die saadmengsel en parmesaankaasskaafsels oor.

Beet-en-bloubessieslaai
Genoeg vir 4 mense

1 bossie beet
Seesoutvlokkies
Olyfolie
100 g roket
1 groen appel, ontkern en in dun skyfies gesny
1 steel seldery, in stukke gesny
1 rooi ui, in ringe gesny
Groot handvol bloubessies
1 wiel peperfetaas, in stukke gebreek
Carmen Niehaus Zesty Fennel-slaaisous
Pampoensade vir bo-oor sprinkel

Voorverhit die oond tot 190°C

1 Pak die bete in ‘n oondpan, sprinkel sout en olyfolie oor en oondbraai sowat 40 minute tot gaar en sag. Trek skilletjies af. Sny in stukke.
2 Rangskik die roket op ‘n slaaibord, stapel die beet en appel in hopies bo-op.
3 Sprinkel die ui, bloubessies en kaas oor en streep van die slaaisous oor. Rond af met pampoensade.

2 thoughts on “Smullekker slaaisous

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: