In my huis is hoenderschnitzel gereeld op tafel. Selfs Vrydagaande wat tradisioneel hamburgeraand is, maak ek ‘n hoenderschnitzel vir my dogter wat sy dan saam met skywe pynappel en gekarameliseerde uie op ‘n hamburgerbroodjie geniet.
In my jare as Huisgenoot se kosredakteur het ek die land deurkruis. Een onvergeetlike reis was ‘n weeklange besoek aan die wildlodges net buite die Kruger-wildtuin. Ons is soos konings getrakteer en ek het selfs die voorreg gehad om in ‘n mikroligte vliegtuig (microlite) al oor die Klaseri-wildreservaat te vlieg. Jy sien die seekoeie in die rivier baai en kyk ver in die niet.
Dis ‘n belewenis om so half van oor jou voete wat hier langs die tuig afhang, te sien hoe die son in ‘n vuurbol agter die horison sak. Nie dat ons juis foto’s van hierdie uitstappie gehad het nie. Die fotograaf se kamera het by foto 3 besluit genoeg is genoeg en net daar gevries!
By ‘n wildlodge buite Phalaborwa is hierdie heerlike gereg aan ons voorgesit waar die schnitzels in ‘n tamatiesmoor gebak is met lekker baie kaas bo-oor.
SCHNITZEL
8 hoenderborsfilette
Suurlemoensap
Sout en peper na smaak
Helfte mielieblom en koekmeel
Geklitste eier
Droë broodkrummels en/of sesamsade
Botter en olie gemeng
GROENTE
2—3 eiervrugte, in lang skywe gesny
8 murgpampoentjies, in lang skywe gesny
olie
SOUS
2 rooiuie, gekap
4 knoffelhuisies, fyngedruk
1 blik (400 g) gekapte tamaties
50 ml tamatiepesto of tamatiepasta
125 ml (1/2 k) wit wyn
gerasperde skil van 1 suurlemoen
knippie suiker
20 swart olywe
AFRONDING
250 ml (1 k) suurroom of Griekse jogurt
250 ml (1 k) gerasperde Mozzarella-kaas
Voorverhit die oond tot 200°C (400°C).
1 Plaas die hoenderborsfilette tussen 2 velle kleefplastiek en kap platter met die agterkant van jou handpalm. Besprinkel liggies met suurlemoensap en geur met sout en peper.
2 Meng die mielieblom en koekmeel in ‘n plat bord. Plaas die eier in ‘n ander bord en die broodkrummelmengsel in ‘n ander.
3 Rol die hoender in die mielieblommengsel, dan in eier en dan in die broodkrummelmengsel. Plaas in die yskas en verkoel 20 min.
4 Smeer ‘n bakplaat met bietjie botter en olie en pak die hoender bo-op. Verf met olie bo-oor en bak tot bruin sowat 10 min.
5 GROENTE Pak die eiervrug en murgpampoentjies op ‘n bakplaat, verf met olie en bak tot net gaar.
6 Soteer die ui in bietjie olie tot sag, voeg res van die sousbestanddele buiten die olywe by en prut tot geurig.
7 AFRONDING Giet die sous in ‘n bak, voeg die groente en olywe by en pak die hoender bo-op.
8 Meng die suurroom of jogurt en kaas, giet oor en bak sowat 20 minute of tot deurwarm en die kaas gesmelt is. Sit voor met ‘n groenslaai.