Dis min dat mens kon sê dat jy van koshuiskos gehou het, maar soms het ons in Huis Brandwag op Citrusdal fluweelpoeding op ‘n PostToastie-kors vir poeding gekry. Hemels! (sien die wenk hoe om te maak)
My skoonma, Suzie Niehaus, was ‘n skoonma duisend met ‘n ruimhartige hart. In die outehuis waar sy haar laaste jare deurgebring het, is al die inwoners gereeld trakteer met ‘n tuisgebakte broodjie van haar. Ons self is ook telkens verras met ‘n vars gebakte brood wat ons ingewag het as ons laataand saans van die werk af tuis gekom het.
So kom dit toe ook dat sy elke Sondag by ons kom eet…en sy bring die poeding. Geen spesiale reëlings of wat nie, sy trotseer self die stadsverkeer en bring waarop sy besluit het. Sy het elkeen se smake so goed geken, dat daar tot afsonderlik vir elkeen poeding gemaak is, net soos hy of sy daarvan hou.
My man hou bv. nie juis van gebakte bruinpoedings nie, so fluweelpoeding met sy melkpapbasis was ‘n gewilde keuse. Ons het gesmul. Sagopoeding en ryspoeding het net so gereeld van onder daardie bekende bruin-en-geel geblomde doek verskyn, gemaak in ‘n liggroen erdeskottel, al vol krakies binne van ouderdom.
Ek het vandag nog daardie skotteltjie en bewaar dit soos ‘n kleinood.
Genoeg vir 6—8 mense
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 25 min
125 ml (½ k) suiker
200 ml koekmeel
2 ml (½ t) sout
4 eiers, geskei
1 liter (4 k) warm volroommelk
10 ml (2 t) vanieljegeursel
25 ml (5 t) appelkooskonfyt
125 ml (½ k) strooisuiker
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n groterige oondvaste bak met botter of spuit met kossproei. (Andersins spuit 6—8 oondvaste bakkies).
1 Meng die suiker, koekmeel en sout.
2 Klits die eiergele tot lig, voeg die melk en geursel by, voeg die koekmeelmengsel bietjie vir bietjie by en klits tot goed gemeng.
3 Giet in ‘n dikboomkastrol en verhit oor lae hitte terwyl gedurig geroer word tot die mengsel begin prut en gaar is.
4 Giet in die voorbereide bak of bak(kies) en maak gelyk bo-op. Bak 15—20 minute.
5 Smelt die konfyt in die mikrogolfoond en smeer bo-oor.
6 Klits die eierwitte tot skuimerig, voeg die strooisuiker lepelsgewys by en klits tot styf.
7 Skep bolle oor die gebakte vla en bak sowat 5 minute by 220°C of tot die meringue net effe verbruin bo-op.
Wenk: Berei ‘n kors met 200 g PostToasties wat fyngedruk is en met sowat 100 g gesmelte botter gemeng is. Druk vas onderin die bak(kies).
VARIASIE: Sagopoeding: week 200 ml sago in bietjie water tot sag. Kook in 750 ml (3 k) melk tot sag. Laat effe afkoel en roer die suiker, sout en eiergele by. Skep in die bak(kies) en berei verder soos beskryf.
Ryspoeding Gebruik 500 ml (2 k) melk en 250 ml (1 k) room. Los die meel uit en voeg die suiker, ongeskeide eiers en 2 ektstra eiergele, sout by en klits goed. Voeg 500 ml (2 k) gaar rys en 3 ml (ruim ½ t) kaneel of die gerasperde skil van 1 lemoen by. Skep in bakkies en bak sowat 40 minute tot gestol. Sit voor met heuning of stroop. Selfs vrugte wat in ‘n ligte speserystroop gestowe is, sal lekker hierby smaak.