Kokkedoor: Son en See

Dis met goeie rede dat ek bietjie teruggehou het voordat ek ietsie wou sê oor die nuutste baba in die treffer Kokkedoorreeks. Kokkedoor: Son en see. Net 8 episodes, in die kol vir die feesseisoen. Ons ken reeds die dril, 2 maters saam in ‘n span, maar die keer is dit anders, net huiskokke en geen formele sjefs nie, neem deel. Waar lê die kinkel dan –vir my op die ou einde in emosioneel belaaide oomblikke. Die deelnemers het almal ‘n familiekonneksie met minstens ‘n 20 jaar ouderdomsgaping tussen hul. Die tafel is dus dadelik gedek met vele familie-onthoue wat deur kos en samesyn van een generasie na die ander oorgedra word. Van episode een af sorg dit alreeds vir heelwat knop-in-die-keel oomblikke en net soveel lekkerlag daarby.

Toe ek verneem wie die beoordelaars vir hierdie reeks gaan wees, Herman Lensing en Yolani Abrahams, bekendes in die koswêreld, bekwame sjefs en gesoute kosprogram-aanbieders, het ek van meet af geweet lekker en mooi kos, maar daarmee saam onthoustories, gaan ‘n groot deel uitmaak van hierdie reeks, want beide het ‘n passie vir die diversiteit van Suid-Afrikaanse kos en hul wou graag sien watter unieke koswortels elke deelnemer na die tafel bring.

Die deelnemers word terdeë uitgedaag om hul familiegunstelinge te vernuwe en hul kookvernuf ten toon te stel.  Met die klok wat die minute gans te vinnig aftel sorg dit soms dat die spanwerk plek-plek bietjie uitrafel of selfs ‘n stille kalmte uitstraal. Die beoordelaars se kritiek is meerendeels opbouend en selfs die kyker kry daardeur ‘n kookles of twee.

Elkeen van hierdie deelnemers het ‘n storie om te vertel, maar reeds in episode twee salueer ek vir Marianne du Plessis, die oudste deelnemer wat vroeg reeds haar voorskoot moes ophang. Haar wyse woorde, kan ook my motto word: “Jy kan nie op die stoep sit en drome droom nie. Jy moet kies én droom. ‘n Mens maak keuses en keuses maak jou!   Ouderdom is net ‘n getal. As jy gesond is, moet jy jou drome jaag. Moet nooit dink jy is te oud om iets te probeer nie. Moenie bang wees nie!”

Ek was bevoorreg om die bekendstellingsfunksie van Kokkedoor: Son en See by te woon en daar reeds kon ek sien dat iets besonders aan die kom is. Die uitspattige kleure het mens dadelik in die gees van vakansie gebring en ons het gesmul aan Herman en Yolandi se smaaklike Kersete met sy nostalgiese kinkels. Tot ‘n besonderse toringkoek, gemaak van egte botter, het elke tafel versier.

Kokkedoor Son en See kry dit reg om jou op die golwe van gevoel te laat reis. ‘n Reis met ‘n lag en ‘n traan. Daarom sit ek bankvas elke Donerdagaand om 20h00 en skakel in op KykNet (DSTV kanaal 144)     

Leave a comment