Deel 1
Op uitnodiging van die Sentraal Suid-Koöperasie het ek onlangs kuier-kuier deur die Suid-Kaap gereis en saam met wonderlike groepe boervroue uit die omgewing gekuier. My eerste stop is Heidelberg. Ek bly oor op Skeiding-gasteplaas met ‘n pragtige uitsig oor die graan- en canolalande. ‘n Welkome reëntjie was nie net die wêreld skoon en nog mooier nie, maar sit ook ‘n huppel in die stap van die vinke waar hulle geesdriftig nesbou bo die swembad. Astrid Fisher, ‘n oud-kollega van my, is die organiseerder van hierdie jaarlikse bederf vir SSK se boervroue en ons word gasvry ontvang by die plaaslike hoërskool.
Vir lank is dit nou al die gebruik dat die gaste bederf word met ‘n verskeidenheid keurig gebakte koeke waaraan hulle kan smul. En hoe lekker is dit vir my toe Adelé Wessels, voorslag spysenier van Heidelberg kom hallo sê. Jare terug het Huisgenoot gereeld die platteland ingevaar op soek na kosstories en lekker resepte. Die bloedjong Adelé het toe net haar intrek in haar oupa se pragtige ouwêreldse dubbelverdiepinghuis op Heidelberg geneem en toe reeds het sy my beïndruk met haar kookvernuf en styl. Vandag is sy verantwoordelik vir die mooiste verskeidenheid koeke, elkeen pragmooi versier. Die spekboomkoek trek dadelik my aandag. Nie veel later nie, kom sy met die handgeskrewe resep by my aangestap en ek deel dit graag.
Dis my beurt om te dem. Ek het onlangs die maklikste resep vir mayonnaise, gemaak met hardgekookte eier en min olie, op die internet ontdek. Ek besluit om dit pleks van hollandaise-sous vir my Eier Benedict te gebruik. My nou al bekende hawermout-saadbrood, wat ek sommer in die Airfryer bak, staan in vir die Engelse muffin in hierdie bekende resep. Ek rond dit af met piekeltamaties, ‘n treffer wat jy altyd in die yskas moet hê. (sien die resepte) Ek demonstreer ook ‘n appeltert, geskoei op die gesonder Malvapoedingresep uit my boek, Lekker en Goed en ek maak die lekkerste bros hoenderrepies saam met ‘n Oosterse roerbraai. (resepte volgende week).
HEILSAME EIER-BENEDICT
‘n Snytjie of twee saadbrood, opgetop met fyngemaakte avokado, ‘n geposjeerde eier en ‘n goeie skep hardgekookte eier-mayo, afgerond met piekeltamaties en vars roket.
Piekeltamaties
Ek het altyd ‘n bottel van hierdie piekeltamaties in my yskas. Heerlik op brood en ‘n skeppie oor groente of by ‘n blareslaai ingemeng, is net so lekker. Ek geniet bv. ook graag ‘n skepppie daarvan in groenbonebredie.
Maak sowat 1 liter (4 k) piekeltamaties
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 50 min
2 x 500 g Baby Plum tamaties, gehalveer
2 uie, in repies gesny
15—20 ml (3—4 t) pienk sout
Paar takkies roosmaryn en of tiemie
15 ml (1 e) bruinsuiker
30 ml (2 e) olie
PIEKELSOUS
125 ml (½ k) ongefilterde appelasyn
250 ml (1 k) flou groen rooibostee (ek gebruik 1 sakkie van Carmien se REVIVE met gemmer en brandrissie); andersins water
60 ml (¼ k) bruinsuiker
15 ml (1 e) pienk sout
60–80 ml (¼–⅓ k) olyfolie
Steriliseer 2 x 750 ml flesse asook die deksels.
1 Smeer bakplaat goed met olie. Pak die tamaties en uie in ‘n enkellaag, geur met sout, sprinkel kruie en suiker oor die tamaties en giet olie oor.
2 Bak 40 minute by 180˚C, skakel roosterelement aan en rooster 10 min.
3 Pak dadelik in ‘n gesteriliseerde fles, gebruik ‘n gesteriliseerde tang.
4 Meng die asyn, tee, suiker en sout in ‘n kastrol of glasbak. Bring tot kookpunt op stoof of in mikrogolf. Giet kookwarm oor die tamaties. Vul die fles verder met olie tot al die tamaties net bedek is. Draai deksel stewig toe. Laat afkoel.
Jogurt-saadbrood
Hierdie koringvrye saadbrood is ryk aan proteïen verskaf deur die jogurt, eiers, sade en selfs die hawermout. Dit bevat ook baie vesel, (hawermout bevat oplosbare sowel as onoplosbare vesel) en die sade bevat onversadigde vette.
Maak 1 medium broodjie
Bereiding: 10 min
Baktyd: 35 min
500 ml (2 k) hawermout
15 ml (1 e) bakpoeier
5 ml (1 t) sout
180 ml (¾k) gemengde sade (lynsaad, sesamsaad, pampoensaad en sonneblomsaad)
30 ml (2 e) chia-saad
50 g heel amandels
3 eiers
250 ml (1 k) natuurlike jogurt (Lancewood, lactolite)
Sade en hawermout vir oorsprinkel
Voorverhit die lugbraaier tot 190°C. Plaas ‘n vel lugbraaier-papier op die plaat van die lugbraaier.
1 Meng die hawermout, bakpoeier en sout in ‘n groot mengbak. Voeg die sade en neute by en meng weer goed
2 Klits die eiers in ‘n ander bak, voeg die jogurt by en klits tot goed gemeng.
3 Voeg die nat bestanddele by die droë bestanddele en meng liggies tot deeglik gemeng. Moenie oormeng nie.
4 Plaas op die papier en vorm ‘n ovaalbroodjie, die grootte wat in ‘n lugbraaier sal pas.
5 Sprinkel hawermout en sade bo-oor.
6 Plaas die plaat van die lugbraaier in die laaitjie en sit die broodjie bo-op. Bak 30 minute lank tot gaar en ‘n toetspen skoon uit die broodjie kom, bedek met tinfoelie halfpad deur die baktyd indien die broodjie te donker bak.
7 Verwyder die broodjie uit die lugbraaier, draai om met die onderkant na bo en bak vir ‘n verdere 5 minute of tot die onderkant drooggebak is.
Geposjeerde eier
Genoeg vir 1 persoon
15 ml (1 e) asyn
1 eier per persoon
Sout en peper
1 Vul ‘n klein kastrolletjie ‘n kwart met water, voeg asyn by en laat stadig kook (rolling boil).
2 Breek een eier op ‘n slag en laat gly versigtig in die water.
3 Laat prut tot die eierwit gestol en wit is. (skep van tyd tot tyd die eierwit versigtig met ‘n gaatjieslepel na die geel toe). Skep uit met ‘n gaatjieslepel en plaas in ‘n bord.
4 Herhaal vir meer eiers.
Hardgekookte eier-mayo
Lewer sowat 250 ml (1 k)
3-4 eiers, 7 min gekook en afgedop
Sowat 80 ml (⅓ k) olie
60 ml (¼ k) sjoesji-asyn of suurlemoensap
30 ml (2 e) Dijon-mosterd
30 ml (2 e) water
Sout en peper na smaak
1 Plaas al die bestanddele in die NutriBullet. Verwerk tot fyn en glad. Voeg nog water by indien te styf en geur met sout en peper.
Afronding
1—2 ryp avokado’s, grofweg fyngedruk en gegeur met sout en peper
tamatiepiekels
roketblare
Samestelling
1 Plaas ‘n snytjie brood op ‘n bord en smeer kwistig met die avo.
2 Plaas die geposjeerde eier versigtig bo-op.
3 Skep van die mayo bo-oor.
4 Rond af met piekeltamaties en ‘n paar roketblare.
SPEKBOOMKOEK
Die koek is geskoei op die immergewilde wortelkoek.
Lewer 1 groot koek
Bereiding: 20 min
Baktyd: 60 min
KOEK
500 ml (2 k) bruismeel
375—500 ml (1½–2 k) bruinsuiker
7,5 ml (1½ k) gemengde speserye
5 ml (1 t) koeksoda
125 ml (½ k) gekapte pekanneute
2,5 ml (½ t) sout
3 eiers
5 ml (1 t) karamelgeursel
200 ml sonneblomolie
160 ml (⅔ k) karringmelk
500 ml (2 k) gekapte spekboomblare
VERSIERSEL
230 g geroomde maaskaas
60 ml (¼ k) versiersuiker
Spekboomtakkies vir versiering
Voorverhit die oond tot 160°C. Spuit twee losboomkoekpanne, 20 cm in deursnee, met kossproei.
1 KOEK Sif die droë bestanddele saam.
2 Klits die res van die bestanddele buiten die spekboom saam in ‘n groot bak.
3 Vou die spekboomblare en droë bestanddelemengsel alternatiewelik by die eiermengsel in.
4 Verdeel die mengel tusen die twee voorbereide panne en bak sowat ‘n uur lank tot gaar. Koel af in die panne.
5 VERSIEREL Meng die maaskaas en versiersuiker saam.
6 Smeer ‘n lagie versiersel oor een koek en plaas die ander een bo-op.
7 Smeer die res van die versiersel bo-op en rondom.
8 Versier met spekboomtakkies.
