Kampioen van kampioene

Soos al die afgelope 33 jaar die geval, was ek vanjaar weer deel van die span beoordelaars wat Shoprite Checkers se kampioen Championship Boerewors moes help kies. Ek, saam met die South African Chefs Association se sjefs, president, Koo Pillay en Martin Cobald, voormalige president en ere-president asook tv-persoonlikheid en sjef Nti Ramaboa het saam met verlede jaar se wenner, Ruard Briel aangesit om die wenner uit die top10 finaliste aan te wys.  En soos altyd was dit geen maklike taak nie en daar is geproe en weer geproe. Op die ou end was dit die 33-jarige Roberto-Rui Agrela van die Paarl wat aangewys is as wenner.

“En daar’s net een wors, dis die Boerewors” uit Robbie Wessels en Appel se liedjie, Boereworsgordyn, het as aansporing gedien vir hierdie motorhandelaar wat vir die eerste keer ingeskryf het, vertel hy.

Toe die wors op Checkers se rakke verskyn, het ek dadelik vir my ‘n pakkie aangeskaf. En ja, boerewors is sekerlik op sy lekkerste oor die kole gebraai, maar ek is net so gek daarna om dit in die pan gaar te maak. Saam met chakalaka op ‘n broodrolletjie, is dit topkos vir ‘n vinnige aandete. Ons het gesmul.

ShopriteCheckers se Championship-boerewors is in Shoprite en Checkers-winkels landwyd te kry.

Chakalaka

‘n Skeppie chakalaka saam met boerewors op ‘n rolletjie is dubbele egte Suid-Afrikaanse lekkerte.

Ek hou van ‘n bietjie kool by die mengsel, maar dis opsioneel. As jy dit uitlos, voeg net ‘n wortel of twee meer by.

Maak sowat 750 ml (3 k)

Bereiding: 20 min

Gaarmaak: 20 min

Olie

2 uie, in ringe gesny

2 knoffelhuisies, fyngedruk

sowat 1 cm stuk vars gemmerwortel, gerasper

1 groen soetrissie, ontkern en in blokkies gesny

15—20 ml (3—4 t) brejani-masala of matige kerriepoeier

5 ml (1 t) paprika

2—3 geelwortels, grof gerasper

Kwart kopkool, baie fyn opgekerf (opsioneel)

Sowat 375 ml (1½ k) Carmien groen rooibostee met brandrissie en gemmer (Revive)

2 sakkies (65 g elk) tamatiepasta

Sout en peper en suiker na smaak

1 blik (400 g) gebakte bone in tamatiesous

Handvol gekapte koljanderblare (opsioneel)

1 Verhit bietjie olie in ‘n pan en braai die ui, knoffel, gemmer en soetrissie daarin tot sag.

2 Voeg die speserye by en meng deur.

3 Roer die geelwortels en kopkool by en meng goed deur.

4 Meng die rooibostee met die tamatiepasta en voeg by die mengsel in die pan. Verlaag die hitte en laat prut tot die wortels en kool effe sag is, maar nog lekker bros.

5 Geur na smaak met sout en peper asook met suiker.

6 Roer die gebakte bone by asook die koljanderblare indien gebruik. Prut tot deurwarm en geurig.

7 Laat afkoel en skep in ‘n bottel (sal tot ‘n week in die yskas hou).

Leave a comment