Blommetyd

En in ‘n oogwink is dit September. Lente. 2025 se blommemaand skop af met ‘n wolklose dag, nog ietwat koel, maar meer as genoeg sonskyn dat die blommetjies pragtig oop met hul koppies na die son gedraai sit. Voor ons huis in Langebaan ‘n kleurespel van wit en geel met bietjie pers plek-plek. En asof dit nie genoeg is nie, was ek bevoorreg om reeds heelwat vroeër in die eintlike blomwêreld te gaan besoek aflê. Einde Julie kuier ek, Janine Niehaus, ‘n dieetkundige en Amanda Booyens, eienaar van die kombucha-besigheid, Guty Culture saam met ‘n groep vrouens by die mooie O’Kiep-Hotel daar neffens Springbok en ons gesels allerhande gesondheidspraatjies. Janine vertel meer oor gut en menopause en hoe dit jou lewenskwaliteit kan beïnvloed terwyl Amanda die goedheid van kombucha meedeel, veral as dit by jou gut kom en almal kan ook lekker proe. Ek demonstreer gutvriendelike geregte soos dhal met koringvrye saadbrood en botterhoender gemaak met rooibostee en jogurt. Die uithalersjefs van die hotel berei ‘n keurige ete met resepte uit my boek, Lekker&Goed en ons lê weg aan kosse, almal met ‘n gesonder inslag, van botterskorsiesop tot lamsboud in ‘n romerige ment-rooibossous saam met pampoentertjies en ‘n lieflike slaai met ‘n rooibosslaaisous. Tot diep in die namiddag word daar gelag en gesels en ek weet Namakwaland sien my sommer gou weer.

Nie veel later nie vat ek weer die pad Namakwaland se kant toe, maar dié keer net tot by VanRhynsdorp daar op die rand van die Knersvlakte, deesdae bekend as Matzikama waar ek ‘n inspirerende damesoggend saam met die raakvattervroue van die South African Council for Business Women bywoon. Ons kuier by die gewilde Letatsi Lodge en ek hang aan die lippe van elke spreker soos onder andere Sybil Visagie van Save the Sheep-projek wat letterlik al miljoene rande ingesamel het met pragtige hekelwerk, ingelegde produkte en koekies vir droogtehulp vir boere tot SACBW se president, Dr. Ziva Spangenberg, wat ons meer van haar lewensreis vertel. Ons stap verryk, maar ook diep dankbaar daar uit. Tussendeur word daar gepeusel aan ‘n filo-tamatiemaaskaastertjie en ‘n groente-quiche en sluit ons die dag af met malvapoedinkies. Ook almal resepte uit my boek, Lekker & Goed.

STADIGGEBAKTE SKAAPBOUD IN MENT-ROOIBOSSOUS

Genoeg vir 10 mense

Voorbereiding: 15 min

Gaarmaaktyd: 2½–3 hours

1 groot skaapboud, verkieslik met skenkelgedeelte nog aan (sowat 3,5 kg) 

Sout en peper

30 ml (2 t) Marmite

30 ml (2 t) Dijon mosterd

30 ml (2 t) sagte bruinsuiker

30 ml (2 t) olyfolie

2—3 uie, in dik skywe gesny

1 kop knoffel, gehalveer

4 sakkies Carmien Creamy Mint Green rooibostee

Sowawt 250 ml (1 k) natuurlike jogurt

Vars menttakkies vir versiering

Voorverhit die oond tot 160°C.

1 Vryf die boud in met sout en peper.

2 Meng die Marmite, mosterd, suiker en olyfolie saam en smeer oraloor die boud.

3 Pak die uie en knoffel in ‘n enkellaag in ‘n oondroosterpan en plaas die boud bo-op.

4 Giet sowat 375 ml (1½ k) kookwater oor die teesakkies en laat trek tot sterk maar nie te lank. Verwyder die teesakkies en giet die tee in die oondpan tot net onder die vleis.

5 Bedek met tinfoelie en maak gaar soos volg: vir mediumgaar, laat 20—25 min per 500 g plus 20—25 min extra toe (interne temperatuur: 70°C). Andersins bak totdat die vleis van die been afval. Verwyder die tinfoelie die laaste halfuur sodat die vleis kan bruin braai buite om.

6 Plaas die boud op ‘n dienbord en laat rus vir 10 minute. Sny in skywe of trek in growwe stukke of selfs rafels met twee lepels of vurke. Versier met ‘n bondel kruisement.

7 Dreineer die pansappe en kook dit af tot geurig. Roer jogurt by en kook verder tot ‘n gladde geurige sous. Sit voor saam met die vleis.

PAMPOENTERTJIES

As jy die pampoen met oranje patat vervang, kan jy die suiker nog heelwat minder maak. Skep dit in muffinpanne om klein pampoentertjies te bak. Jy kan selfs hierdie pampoentert saam met roomys vir poeding voorsit. Die pekanneute hieroor gesprinkel is veral lekker.

1—1,5 kg pampoen of botterskorsie of oranje patat of ‘n mengsel daarvan

250 ml (1 k) koekmeel

10 ml (2 t) bakpoeier

7,5 ml (1½ t) fyn kaneel

5 ml (1 t) sout

180—250 ml (¾– 1 k) suiker of versoeter soos etythritol

3 eiers

250 ml (1 k) natuurlike jogurt

60 ml (¼ k) gesmelte botter (opsioneel)

5 ml (1 t) vanieljegeursel

Ekstra kaneelsuiker of gekapte pekanneute vir bo-oor sprinkel

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit die holtes van ‘n mediumgrootte muffinpan goed met kossproei.

1 Stoom die pampoen, botterskorsie en/of patat tot sag en plaas in die bak van ‘n voedselverwerker.

2 Meng die koekmeel, bakpoeier, fyn kaneel, sout en bruinsuiker of versoeter saam en voeg by die pampoen.

3 Voeg die 3 eiers, natuurlike jogurt, gesmelte botter en  vanieljegeursel by en verwerk tot glad. Skep in die holtes van die muffinpan en bak sowat 30–40 minute lank of tot stewig. Die tert kan nog effe klam wees. Sprinkel kaneelsuiker of pekanneute oor.

TAMATIE-MAASKAASTERT

‘n Heerlike vars tert waar slegs die filokors en die tamaties in hierdie tert gebak word. Verder word al die bestanddele net ingeskep vir een salige lekkerte. Vir die vulsel gebruik ek geroomde maaskaas, watl lekker romerig is, maar nie so ryk soos roomkaas is nie. Heerlik met die tamaties wat vooraf in die oond gebak word saam met balsamieke asyn en uie wat in die pan gekarameliseer word met ‘n sprinkel suiker.

Maak 1 groot tert

Bereiding: 20 min

Gaarmaak: 20 min

500 g baba-tamaties, gehalveer

seesoutvlokkies en peper

Suiker

Balsamieke asyn

Olyfolie

4 velle filodeeg, elk bespuit met kossproei

2 rooi uie, in ringe gesny

230 g geroomde maaskaas

10 swart of groen olywe, in stukke gesny

1 blok feta-kaas, sonder pekel

Paar basilieblaartjies

Voorverhit die oond tot 200°C. Voer ‘n bakplaatjie met tinfoelie uit en spuit goed met kossproei. Spuit ‘n tertpannetjie met kossproei.

1 Pak die tamaties in ‘n enkellaag, oop kant na bo, op die bakplaat. Geur goed met rooibos-braaisout of andersins sout en peper en sprikel ‘n goeie handvol suiker bo-oor.

2 Geur met ‘n spatsel balsamiekie asyn en giet klein bietjie olyfolie oor. Oondbak vir 10 minute by 200°C, verlaag temperatuur an 180°C en bak tot die tamaties sag is en die bokante geplooi is. Koel af.

3 Pak intussen die filodeegvelle opmekaar in die tertpannetjie. Frummel die oorhange op om ‘n tipe tertkorsrand te maak al om die kante. Bak 10 minute tot goudbruin.

4 Verhit klein bietjie olie in ‘n pan en roerbraai die uie tot sag, voeg ‘n bietjie suiker en balsamieke asyn by en roerbraai tot die uie effe gekaramelinseer het. Koel af.

5 Dreineer beide die tamaties en uie. Voeg die vloeistof by die maaskaas en meng deur.

6 Smeer die gekarameliseerde uie net voor opdiening oor die filodeeg-tertkors. Smeer die maaskaas bo-oor en rangskik die tamaties en olywe bo-op.

7 Krummel die feta-kaas oor en rond af met ‘n basilieblaartjie of twee. Sit dadelik voor.

GROEN SLAAI MET ROOIBOSSLAAISOUS

Dis die slaaisous wat ‘n groen slaai verhef tot iets buitengewoons en lekker. Besluit self hoeveel van elke slaaibestanddeel jy wil insluit. Pak die slaaibestanddele in hopies indien verkies.

SLAAISOUS

Maak sowat 180 ml (3/4k) slaaisous

60 ml (¼ k) sonneblom- of canolaolie

60 ml (¼ k) rysasyn

sap en skil van 2 suurlemoene of 4 lemmetjies

125 ml (½ k) sterk Carmien Orange Camomile groen rooibostee (3—4 sakkies)

125 ml (1/2 k) sterk Carmien Revive groen rooibostee met gemmer en brandrissie (3—4 sakkies)

30 ml (2 e) sojasous

5-15 ml (1-3 t) sesamolie

15 ml (1 e) suiker of heuning

2 knoffelhuisies, fyngerasper

80 ml (⅓ k) koljanderblare, gekap

15 ml (1 e) kruisementblare, gekap (opsioneel)

SLAAIBESTANDDELE

Eiervrug, in klein blokkies gesny en gebraai

Baba-spinasie

Roket

Mangetout of endaname-bone

Mini-komkommers of murgpampoentjies, in repe geskil met ‘n groenteskiller

Rooi ui, in klein blokkies gesny

Groen appel, in skyfies of stokkies gesny

Avokado, in repies gesny

Boontjiespruite vir bo-oor sprinkel

1 SLAAISOUS Meng al die bestanddele vir die slaaisous goed saam en hou eenkant.

2 SLAAI Braai die eiervrug tot sag en giet bietjie van die slaaisous oor die warm eiervrug. Laat afkoel.

3 Rangskik die slaaibestanddele net voor opdiening in ‘n bak of op ‘n dienbord en giet bietjie van die slaaisous oor. Rond af met die boontjiespruite. Sit res van die slaaisous saam met die slaai voor.

Wenk: INdien jy ‘n romeriger slaaisous verkies, roer bietjie jogurt by.

ROOIBOS-MALVAPOEDING

Malvapoeding is ‘n groot Suid-Afrikaanse gunsteling onder al ons kultuurgroepe en was ook gereeld op tafel in my grootwordhuis. Kleintyd het ons gesmul, veral as Ma se tuisgemaakte roomys daarby voorgesit is, maar deesdae is dit gans en al te soet en te ryk vir my. Vir my gesonder weergawe kry die beslag heelwat minder suiker in en maak ek ‘n sous met vanielje-rooibostee wat ek in melk trek en dit dan as basis vir die sous gebruik – steeds heerlik geurig maar net sonder die meeste ryk en soet van die oorspronklike sous.

Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 15 min

Baktyd: 30 min

BESLAG

1 eier

80 ml (⅓ k) suiker

250 ml (1 k) koekmeel

5 ml (1 t) bakpoeier

3 ml (¾ t) koeksoda

1 ml (¼ t) sout

30 ml (2 e) gladde appelkooskonfyt

250 ml (1 k) natuurlike jogurt of karringmelk

15 ml (1 e) appelasyn

STROOP

80 ml (⅓ k) bruinsuiker

2 sakkies vanielje-rooibostee

250 ml (1 k) volroommelk

60 g botter

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n oondvaste bak of 6 kleiner oondvaste bakkies of ramekins met kossproei.

1 BESLAG Klits die eier en suiker saam tot goed gemeng.

2 Sif die droë bestanddele direk in die eiermengsel in en meng.

3 Roer die konfyt, jogurt of karringmelk, en asyn by en klits tot glad.

4 Giet in die voorbereide bakke en bak sowat 30 minute of totdat ‘n toetspen skoon uit die mengsel kom.

5 STROOP Plaas die suiker, teesakkies en melk in ‘n kastrolletjie en bring stadig tot kookpunt, roer tot die suiker opgelos is en laat 5 minute prut. Druk al die vloeistof uit die teesakkies en verwyder die teesakkies. Voeg die botter by en meng tot gesmelt.

7 Giet die warm stroop oor die poeding(s) sodra die poedings uit die oond kom. Sit voor met vla.

Meeste van die resepte wat voorgesit is by bogenoemde geleenthede kom uit my boek: Lekker & Goed. Die boek is aanlyn beskikbaar by CarmienTea.co.za.

Leave a comment