Ons vier vrouwees

Die afgelope tyd het ek die voorreg gehad om verskeie vrouedagvieringe by te woon. En mensig, is ek nou nie opnuut beïndruk met hoe baie vroue vermag nie, van in die werkplek tot die gemeenskap. Maar dis veral in die huisgesin, wat tog maar die kern van ons samelewing uitmaak, waar daar geskitter word terwyl daar tegelyktydig  talle balle in die lug gehou word op ‘n daaglikse basis. Wat ek wel oral opgetel het, is dat ons nie onsself moet vergeet nie, want ons is maar kompleks aanmekaar geweef.

By CarmienTea se verrykende vroueoggend, gehou by die pragmooie wynplaas, Klein Roosboom buite Durbanville, het ons nie net geproe aan hul unieke reeks rooibostees spesiaal vir vroue in verskeie stadiums van hul lewe nie; maar het ek omtrent aan die lippe gehang van Dr. Ledivia Strauss van Revitahealth (terloops, sy is die skoonsus van voormalige mej. Wêreld, Rolene Strauss).  Nie net is sy ‘n algemene dokter wat spesialiseer in funksionele, integrerende asook estetiese medisyne nie, maar is gek na kook (het vir ‘n ruk ook in Frankryk gebly) en hou van oefen (sy spog met ‘n indrukwekkende six pack).

Sy het ons bietjie meer vertel van hoe ons hormone tydens die verskillende fases van ons lewe (maar dink veral pre-, peri- en postmenopause) goed parte met ons kan speel. Haar goeie nuus is dat ons geensins hoef boedel oor te geen omdat ons gene ons straks in die steek gelaat het nie. Nee, leefstyl en gedrag kan tot 70—90 persent van ons gene uitpresteer.

Slegs deur ‘n paar leefstyl-veranderinge te maak, wat jy bietjie vir bietjie aanpak, kan bydra om lewenslustig ouer word. En dit geld van jou jongmensdae af.

Sy noem 5 goed op:

Kyk na wat jy eet

Beweeg

Slaap genoeg

Beheer spanning

Wees deel v ‘n gemeenskap

Nog iets wat my bybly, is die volgende waarhede:

Soos wat mens ouer word, is dit veral belangrik om jou spiermassa te behou. En die twee belangrikste goed om te doen, is deur genoeg proteïen-inname en deur genoegsaam te beweeg

Pas jou lewer op, want dit help reguleer jou hormone.

Vergeet ook van die badkamerskaal, daar is net te veel goed wat gewig beïnvloed. Laat weeg jou eerder met ‘n InBody-skaal wat kan vasstel hoe lyk jou spier- en vetmassa-verhoudings. Dit kan selfs ook meet hoeveel vloeistof in jou liggaam is. (meeste dieetkundiges besit sulke skale deesdae).

Agterna gesels ons tog te lekker terwyl ons teug aan Carmien se Menopause-tee met bygevoegde framboosblare (raspberry leaf) wat help vir warmgloede en balansering van hormone asook ginseng wat weer kan help met die regulering van bloedsuikervlakke, fokus te verbeter en inflammasie help verminder. En die bessiegeur is heerlik verfrissend.

Sy vertel my dat sy al by vriende ‘n heerlike tamatiesop met rooibos in, geproe het. Uit haar vertelling lui ek dadelik af dat dit my resep is en ek deel dit graag weer.

ROMERIGE TAMATIESOP

Hierdie sop is heerlik romerig alhoewel dit nie ‘n krieseltjie room bevat nie. Die tamaties word vooraf bietjie in die oond gerooster om die geur uit te bring en dan fyngemaak tot fluweelglad.

Lewer 2,5 liter sop

Bereiding: 15 min

Gaarmaak: 40 min

1,2 kg romatamaties, gehalveer

1 x 400 g-blik kersie-tamaties

8 knoffelhuisies, fyngedruk

1 ui, gekap

1 rooi soetrissie, in stukke gesny

1 aartappel, geskil

Olyfolie

Sout en peper na smaak

1 liter (4 k) aftreksel gemaak 8 sakkies Carmien Revive (groen rooibostee brandrissie en gemmer)

5 ml (1 t) cayenne-peper of na smaak

15 ml (1 e) bruinsuiker

30 g basilieblare, gekap

Voorverhit die oond tot 200°C.

1 Pak die tamaties, knoffel, ui, soetrissie,en aartappel in ‘n oondvaste bak, sprinkel bietjie olyfolie oor en geur met sout en peper. Oondbraai 25—30 minute tot die tamaties sag en die rante effe geskroei is.

2 Skep uit in ‘n kastrol, voeg die tamatiepasta en aftreksel by, geur met cayenne-peper, suiker en nog sout en peper soos nodig. Voeg van die basilieblaartjies by.

3 Bring tot kookpunt en laat prut sowat 15—20 minute tot geurig.

4 Maak fyn met ‘n staafmenger.

5 Skep op in bakkies en rond af met basilieblare.

Leave a comment