Kragtige hoendersop, supergoed en supermaklik

Ewe skielik is die winterkoue hier, veral saans en soggens vroeg; sommer so direk van hittige somersdae tot briesend koud, geen stadige oorgang soos ons dit voorheen gewoond was nie. Alhoewel die sonnige dae tussendeur sorg vir pragtige herfsdae met die mooiste sonsondergange. Deesdae voel ek die winterkoue sommer gou-gou in my lyf. Styfheid en seer spiere, waarvan daar tot drie weke gelede geen sprake was nie. Dis dan wanneer ek weet die tyd vir kragsop met supergoedheid het aangebreek. Nie net kry jy sommer ‘n goeie klompie proteien in nie, maar dis ook gelaai met glisien, gelatien en kollageen  — alles wat help om veral jou dermvoering (gut lining) te herstel en te versterk. Daarby bevat dit ook baie bindweefsel, wat weer help om inflammasie teen te werk, want ja, met die ouderdom kruip inflammasie maar oral in.

Deesdae gebruik ek sommer ‘n klaargaar rotisserie-hoender, die lekker geroosterde smaak, maak dit ekstra geurig. (Jy kan ook enige oorskiet hoender bv. braaivleis gebruik)

Ek maak die aftreksel van Carmien se Gut-rooibostee, wat ‘n probiotika bevat wat hittebestand is en ook sigoreiwortel (chicory root) wat weer ‘n goeie antioksidant is en ook anti-inflammatories is. Sodoende verleen dit ekstra goedheid. Ek gee ook die sop ‘n verdere Oosterse geurprofiel met gemmer, kaneel komyn en bietjie borrie. Ten laaste hande vol groentes wat kan wissel van groen groentes soos spinasie en broccoli tot soetrissie en wortel.  Sonder te veel moeite, ‘n goeie soplepel vol gesondheid wat goed is vir jou dermgesondheid en inflammasie help beperk.

OOSTERSE HOENDERKRAGSOP

Die asyn in die sop help vir die onttrekking van kollageen vanuit die bene.

Genoeg vir 4–6 mense

Voorbereiding: 15 min

Kooktyd: 1 uur

AFTREKSEL

1 gaar rotisserie-hoender

10 ml (2 t) appelasyn

3 knoffelhuisies

2 uie, gehalveer

4–6 stele sopseldery, in stukke gesny

2 wortels, in stukke gesny

50 g droësampioene (opsioneel)

2 lourierblare

15 ml (1 e) swartpeperkorrels

5 cm gemmerwortel, dun gesny

2 heel rooi brandrissies (opsioneel)

1 heel kaneelstok

10 ml (2 t) komynsade

10 ml (2 t) Chinese vyfspeserypoeier

2,5 ml (½ t) borrie

2,5 liter kookwater waarby 6 sakkies Carmien Gut-rooibostee gevoeg is (500 ml (2 k) van die aftreksel kan vervang word met ‘n blik klappermelk om ‘n romeriger sop te verkry)

2 lemmetjies se sap

15 ml (1 e) bruinsuiker

60 ml (1/4 k) sojasous

BYVOEGINGS

200 g rysnoedels, gekook (opsioneel)

150 g babapinasieblare of halwe kop Chinese kool, in dun repies gesny

1 rooi of geel soetrissie, in repies gesny

Bossie stingeluie, dun gesny

Vars mieliepitte, direk van die stronk afgesny (opsioneel)

AFRONDING

Groot handvol elk vars koljanderblare, ment en basilie

1 lemmetjie, in skyfies gesny vir voorsit

1 AFTREKSEL Plaas die heel hoender in ‘n kastrol, voeg al die bestanddele vir die aftreksel by en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat stadig prut tot die vleis van die bene afval, sowat 20–30 minute. (Jy kan dit ook in die drukpot doen).

2 Haal hoender uit aftreksel, verwyder die bene en velle. Pluis die vleis. Hou eenkant.

3 Dreineer die aftreksel, gooi die groente en speserye weg. Giet die aftreksel terug in die kastrol. Giet ook daarvan in ‘n teepot of groot beker.

4 BYVOEGINGS Voeg die groente en gepluisde vleis by die aftreksel in die pot en maak goed warm. Skep in sopkommetjies, rond af met kruie en skyfies lemmetjie. Skink meer aftreksel by soos verkies.

Wenk: Indien jy nie ‘n Oosterse profiel aan die hoender wil verleen nie, voeg slegs die eerste ag bestanddele by die hoender in die pot en voeg ‘n suurlemoen pleks van lemmetjie by. Prut tot geurig en voeg die groente (indien verkies) by.

Leave a comment