Boerekos lekkerte

In my huis is dit altyd ‘n groot opgewondenheid as daar ‘n pakkie vanaf Arina du Plessis, LandbouBoerekos se bekroonde kosredakteur afgelewer word.

Die slag is dit ook nie anders nie.

‘n Swart boks met ‘n briefie in Arina se netjiese handskrif bo-op, arriveer. Die nuutste LandbouBoerekos se herfs-en-winteruitgawe. En ek weet sommer by voorbaat dit gaan weereens ‘n wenner wees. Binne-in die boks is daar, net so netjies verpak, ‘n bottel van die bekende KleinKaroo-wynplaas, De Krans, se Cape Ruby; daarby verskeie lekkertes soos ‘n pakkie goudoranje droëperskes en biltong asook ‘n houer dadelvingers; elkeen met ‘n etiket by van waar jy in die boek die storie daaroor kan kry. Ek blaai deur en by elke artikel, elke foto, wil ek ‘n wyle eers vertoef; want elkeen vertel ‘n unieke storie, die storie van boere (die keer Kannaland se mense) wat sorg vir die wye verskeidenheid kos wat ons op ons tafels kry en wat dit met soveel sorg en presiesie verbou. En daar is meer dan 100 maklike resepte, spesiaal vir die kouer weer.

In haar voorwoord maak Arina my nuuskierig oor die handvol vroue van die Ladismith-tuisnywerheid en ek kuier (en peusel in my geestesoog) tog te lekker saam. Maar dis veral die onthoustories van 5 bekende kosskrywers wat nostalgiese kosherinneringe van hul Ma’s deel, wat my aan die hart gryp. Ek kan sien die verlange is groot om tog net een keer weer saam met hul Ma’s te kan aansit om die tafel of in die kombuis saam met hulle doenig te wees. Dan is ek innig dankbaar, want my ma is nog met ons al het demensie ‘n groot deel van haar menswees kom steel. Een van die dae vier ons haar verjaarsdag, ‘n katspoegie van neëntig af en ons gaan saam met haar feesvier in ons grootword-plaashuis waar sy nog steeds woon en kuier op die noordestoep waar die wintersonnetjie tog so lekker kan bak en almal hul geselsies uitruil. Vir haar maak ek graag tamatiekos, want dis haar gunsteling. Sy hou veral daarvan om stampmielies, saggekook in melk, daarby te geniet. Op Ma Jo.

LandbouBoerekos is in meeste supermarkte te kry teen  R110 per tydskrif.

 TAMATIEKOS

My liefde vir tamatiekos kom van my ma. En ek maak dit graag soos Cass Abrahams my dit leer maak het.

Plaas 2 groot gekapte uie saam met 2,5 ml elk (½t) swartpeperkorrels en heel naeltjies in ‘n kastrol en voeg 125 ml (½k) water by. Laat kook tot meeste van die water verdamp het. Voeg sowat 30 ml (2 e) olie, en 2 stukke kaneel by en braai tot die uie effe verbruin het. Geur 1 kg lamskenkels wat in stukkies gesny is en voeg by saam met 1 groot stuk vars gemmerwortel wat gerasper is en 2 kardamomsade. Braai tot die vleis verbruin. Bedek en laat die vleis stadig stowe vir 30 minute. Ontvel 1 kg baie ryp tamaties, konfyttamaties verkieslik, en kap op. Voeg dit saam met ‘n brandrissie by en laat 20 minute lank prut. Voeg 6 baba-aartappels wat geskil en gehalveer is by en geur met sout en peper asook bietjie suiker na smaak. Prut tot die aartappels asook die vleis lekker sag is. Dien op met basmati-rys of stampmielies.

Leave a comment